Friday, 1 March 2013
Die tissue, die stopteken en die bak hand
Dis hoe sy my gegroet het by die hek. Dis hoe ek geweet het vandag gaan ten minste drie koffies lank wees. Sy kyk altyd vinnig deur haar dun brilletjie na jou gesig en dan af grond toe. Dan weet jy.
Op pad na my voordeur trap sy in hondepoef en ek vloek binnesmonds oor die nuwe brak se ywerige skeitvermoëns. Die ding kak vir 'n eerste plek en maak my voel soos 'n landmine-seeker met my poop-scooper.
Ek skakel die ketel aan vir die eerste sarsie soos wat sy haar tissue uit haar handsak haal en onder haar horlosieband indruk. Slaggereed om te sanik. Sy kyk eers lank by die kombuisvenster uit, dan sug sy behoorlik en toe trek sy los.
Man, sy het 'n probleem. Sy was gister in 'n karongeluk. Ja daarom haar dogter se motor vandag. Ag nie te erg seergekry nie. Net die blou kol op die voorkop. Ja sy het vergeet om haar gordel aan te sit. Sy het ook blykbaar vergeet om te stop by die stopstraat. Ja sy het die minibus met insittendes centre getref. Ja die ding het vir geen rede nie op sy kant beland. Sy sou nou nie sê dat dit haar spoed kon wees nie, Ja daar was mense wat seergekry het. Nee almal leef. Ja haar nek is nog styf, maar sy voel ok. Daar's nie nou geld vir dokters nie.
Dink sy daar gaan eise wees? Sy vermoed so. Die ou het dit herhaaldelik vir haar geskree. Veral toe hy gehoor het sy het ook geen versekering nie. Waar moes sy geld kry om so iets te bekostig as sy nie eers medies kan bekostig nie? Maar dis so tipies...
Sy ruk haar tissue dramaties uit en begin die trane daarmee keer.
Ek verstaan nie wat so tipies is nie, maar wag geduldig vir die verhaal om tot...wel, verhaal te kom! Enige freakin oomblik nou.
Nee dis so tipies van barbare. Geen maniere nie. Die man het haar so beledig. Goeters gesê soos "is sy fucking stupid?" En "is sy fucking blind?" Dit was 'n honest mistake gewees, Klara. Die een oomblik het sy nog na haar nuwe Steve Hofmeyer cd geluister en die volgende oomblik was daar ‘n taxi voor haar. Was hierdie hele ding nou nodig gewees? Sy vat ‘n swanger pouse en roer haar koffie met ‘n uitdrukking van tragedie op haar gesig. Sy was in 'n toestand. Sy het my probeer bel, maar my foon was af. (Ek het weer ‘n punt probeer maak teenoor my man en my foon afgeskakel gehou. Dan weet hy op so ‘n manier ek is moerig.)
Die blou aartjie op haar neus word blouer soos sy snuit. Maar dis so tipies van hierdie barbare, praat sy onder die verlepte tissue deur. Hierdie... en toe vou sy haar hand bak oor haar mond en fluister "hierdie donnerse k's..."
Ek druk my koffiebeker voor my mond en sluk haastig my laaste koffie weg. Nog een. Nog 'n mens wat rassistiese verbuigings fluister. “In die kas oor ras”- dis wat hulle almal se opskrifte moet wees op facebook elke dag. Closet rassiste. Ek kan spontaan ‘n aap kraam wat tande kry wanneer 'n spul mense om braaivleisvure sit en agter bak hande rassistiese verbuigings, afkortings, grappige kort woordjies in stringe uitryg. "Groenies, groenewalds, k's", die lys is te lank om te onthou.....En sê nou iets dan is dit jy wat die aand bederf, alweer anders wil wees terwyl almal by die braai dieselfde voel.
Ek is nie 'n rassis nie. Dink jy ek voel beter omdat jy dit fluister agter 'n bak verrimpelde handjie? Sou jy dit like as ek kort-kort agter my bak handjie goed kwytgeraak het soos "prys satan" of "ou z'ee" as ek liefdevol wil verwys na Zuma? En nee, voordat jy jou bak handjie wil vat en waai - ek hou nie van Zuma of Satan nie. Ek het geen hoop om enige van daai twee se bruid te word nie. Politiek en rugby is soos polony vir my. Ek stap elke keer verby dit in die winkel.
Maar hier sit sy voor my met haar NP-tissue en huil oor die barbaar nadat sy sy minibus afgeskryf het met 'n gejuig.
Ek mik kombuis toe om die ketel weer aan te sit en belowe myself 'n skeut whiskey saam vir die volgende rondte. Sy hou haar leë beker uit en toe breek haar damwalle.
Ek tik haar ongemaklik op haar skouer, maar dit lyk eerder of ek haar winde wil uitklop as simpatie gee. Soos sy praat frommel sy die tissue desperaat in 'n balletjie tussen haar hande saam asof sy bid.
Nee sy verstaan dit glad nie. Sy gee niemand moeilikheid nie. Sy is 'n goeie mens. Sy is nie ryk nie, maar leef eerbaar. Sy het nou wragtag nie al hierdie nonsens nodig nie. Al wat sy wil weet is hoekom. Hoekom gebeur dit met haar.
Ek weet nie baie nie, maar ek weet dit: In reality kry jy stoptekens. Hulle vra dat jy moet stop en kyk; selfs ander mense ‘n beurt gee om die pad te gebruik. By die stopstraat kan jy kies of jy reguit wil oor of wil draai in die pad. En die lewe werk ook so. En somtyds leer die lewe jou om dalk te stop op die pad wat jy is.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment