Vrees. Dit begin by
die donker en versprei van daar af. Is dit nie so nie? Eerste ding waarvoor
kinders gewoonlik bang word sodra die verstand terugpraat, is die onbekende.
Daarna volg die vrees vir die hoeveelheid groente wat jou ma op jou bord sit
vir aandete. Alhoewel ek vermoed ’n pak slae was dalk net-net voor die donker
daar.
Deesdae is ons so
gebombardeer met al die bisarre moorde orals in die wêreld. Op eie bodem maak
Oscar opslae en veroorsaak ’n magdom mense voor hul televisies vasgenael sit
weg van die atletiekbaan. Of die kind in Griekwastad. Of die ou in Amerika wat
166 aanklagtes in die gesig staar nadat hy losgebrand het op niksvermoedende
fliekgangers. Die blote moontlikheid van waarheid in hierdie omstandighede
koggel jou vrees-kliere met elke koerantopskrif. Met elke bespiegeling kry jou
vrees ’n plukkie, ’n unfriendly reminder van wat dalk miskien moontlik kon
wees.
Ek kyk om my en sien
mense survive in ’n not so user-friendly omgewing, naamlik life. Wat ons almal
doen om te survive verskil van die buurman langsaan se surviving skills. Jy
doen dinge om dit meer bearable te maak, meer interessant, meer fun, meer
exciting, selfs meer scary onder controllable omstandighede, meer
vredevol, more wholesome, less
complicated. Party praat die waarheid, ander lieg hulleself in ’n beter spot
in. Party lag wanneer dit druk, terwyl ander net kan huil of kwaad wees of
depressed wees of teleurgesteld wees. Party kry sindrome, ander kry die Here. Filosofie,
gym, seëlversameling, alles goed wat help om die unfriendliness en little
unwelcome surprises van die lewe trotseer. En boeke. Soveel boeke en tydskrifte
om mense te vermaak en te inspireer.
Juis oor daardie rede
sit ek by ons local koffieshop en lees die Huisgenoot. Die tydskrif laat my
altyd beter voel oor my eie lewe.
Terwyl ek wroeg oor
een van die klaers in Dr. Adri se kolom stap sy haastig in die koffieshop in en
bestel oor haar skouer ’n koffie en vetkoek. Sy gaan sit by die tafel en haal
haastig haar selfoon en nog iets uit haar handsak uit. Sy sien my nie.
Sy ruil ’n selfoonkaart
met ’n ander een om en skakel ’n nommer uit haar kop uit. Sy wag ’n paar
sekondes en hou die gehoorstuk toe met haar hand. Sy druk haastig dood toe die
waitress opdaag met haar koffie. Haar stem is effens asemrig. Sy vryf die sweet
van haar hande af teen haar rok. Dit veroorsaak klein kreukels in die rooi
motief op haar rok. Sy sê vir die waitress sy is eintlik baie haastig. Die
waitress sê hulle sit net ekstra kaas op die vetkoek. Dis hoe sy dit elke dag
mos eet? Nee, nee los die kaas en kom net met die vetkoek. Skip die mince ook
sommer.
Toe die waitress weg
is, neem sy weer die selfoon en skakel weer, die keer met die redial knoppie.
Sy wag weer ’n paar sekondes. Druk weer haastig dood. Die waitress bring haar
vetkoek en vra haar waaroor sy glimlag. Sy lag skaam. Ag, dis sommer niks.
’n Paar dae later kry
ek vir Susan by die poskantoor. Haar selfoon lui. Sy kyk lank na die skerm en
sug. Sy antwoord bot. “Hallo. Halloooooo! Ag, man kry net ’n fokking lewe ok!”
Natuurlik gaan ek vir
Susan vra wat nou fout is. Natuurlik gaan Susan vir ’n oomblik dink of sy my
moet vertel.
“Ag nee, fokkit Klara.
Hier’s nou hierdie een verdomde persoon wat my elke dag skakel. Hier van twaalfuur
af en dan weer net na ses saans. Ek kan dit nie meer hanteer nie. En ek kan
hoor iemand is op die lyn. Ek was al by die polisie maar om dit te ondersoek is
’n helse schlep. Ek dink die blerrie persoon weet dit ook.”
Ek vra haar of sy ’n vermoede
het. Susan kyk lank na my.
Nou wik en weeg sy deeglik.
Sy skud haar kop. Nee.
Sy skud haar kop weer, hierdie keer meer beslis. Nee. Daai hoofstuk is
afgesluit in haar lewe. Sy en haar man kon genadiglik hul huwelik red na sy
ontrouheid. Dit was geensins maklik nie. Vertroue kom net in 100% of 0% formaat
uit. Jy kry nie 60% vertroue nie. En sy vertrou vir Peet. Hy het berou en
bekeer en hy probeer regtig baie hard. Môre is dit hulle agste huweliksherdenking.
Sy onderneem nou al om haar selfoon by die huis te los. Sy gaan nie haar
spesiale aand bederf met hierdie mal mens wat so lastig is nie.
Almal survive hierdie
lewe op sy eie manier. Party lag wanneer dit druk, terwyl ander net kan huil of
kwaad wees of depressed wees of teleurgesteld wees. En dan is daar party mense
wat spookoproepe maak. Vrees is ’n bliksem. Net sodra jy dink jy veroorsaak
dit, wys dit jou eintlik hoe bang jyself is. En hoe bitterlik alleen jy werklik
is.
No comments:
Post a Comment