Wednesday, 20 March 2013

Die ma wat met dooies kon praat


“Nee, ek weet nie wat dit vandag met my is nie”. Sy sit en kyk na die tuinhekkie wat squeak elke keer as die wind dit pluk ’n gee. Sy sit-lê in haar stoel, haar kop wieg op haar een hand.
“Nee, Klara, ek’s net moeg. Ek wil vir ’n uur of wat gaan skuinslê”.
“Hierdie tyd van die dag?”
“Ja, maar dis weer iemand wat op my inwerk”.  Haar selfoon ping. “Goeie fok, ek gaan hierdie kind van my iets aandoen. Sy bel en bel en bel my die hele tyd vandag.”
“Het jy ’n kind?”
“Ja, sy bly by my ma”.
“Hoe oud is jou kind?”
“Tien”. Sy druk ’n paar knoppies op haar selfoon. “Of elf”.
Sy wag vir ’n stem om aan die ander kant te antwoord.
“Wat is dit met jou vandag? Ja, ek weet dis Valentine’s day. Ja, maar moenie my so baie bel nie. Ek’s besig. Ok. Ok. Bye”.
Sy steek ’n sigaret op en blaas die rook geïrriteerd by haar neus uit.
“Nee, as ek so moeg is, dan kan jy maar weet. Die dood is naby vir iemand”.
Ek is dadelik gefassineerd.
“Nee, Klaratjie. Dit werk nog altyd so met my. Toe ek daar by Hans Tax gewerk het op sy plaas, toe breek daar mos ’n brand uit. Toe’s Rico dronk. Daai middag was ek al tweeuur in die bed. Stokflou. Ek kon nie my oë oophou nie. Almal het gedink Rico was weg vir die naweek, maar hy’t homself stil-stil paralytic gesuip. Maar toe hulle aan my deur geklop het, toe’s ek wawyd wakker”.
Sy vat nog ’n sluk koffie en vryf haar oë oor en oor asof sy die moegheid uit wil masseer.
“Daai nag het ons alles gedoen maar alles het tot op die grond toe afgebrand. En almal dink Rico is huis toe daai naweek. Eers die volgende oggend toe gaan sê ek vir hulle”.
Sy like dit as ek stilbly. Sy like dit as iemand na haar luister. Sy like dit om hierdie verskriklike storie te vertel. Haar lewe is immers een verskriklike storie lank.
“Rico was by my daai aand. Hy het alles vir my vertel. Hy’t vir my gesê hy was kas-toe gesuip. Hy en sy vrou het baklei so hy wou nie huis toe gegaan het nie. En toe stamp hy die kers om. Maar hy was so dronk hy kon net in slow-mo toekyk hoe die vlamme begin het. Eers die vadoek, toe sy overall se baadjie en the next moment die spiritsbottel. Dit was glo spectacular maar ook ’n geweldige kak gevoel wat hy toe net daar kry. Toe try hy regop kom om iets te doen en try vir iemand skree maar niks wou uitkom nie. Die rook was toe al klaar te erg en hy dink hy skree maar eintlik het die dop sy stem ’n fluister gemaak. Hy kon niks voor hom sien nie. Toe trip hy oor sy skoene. Sy vrou het altyd geraas met hom oor sy skoene wat orals in die pad lê. Toe val hy kop eerste teen die muur en toe teen die vloer. Lights-out”.
“Dis ’n terrible way to go”.
“Ja, so sê hy toe vir my daai nag ook dat ek vir sy vrou asseblief moet bel. Ek moet vir haar verduidelik hy’s nie meer kwaad nie. En sorry oor die skoene”.
“Haai shame,” is al wat ek kan uitkry.
“Bliksem tog, sal die moegheid net nie wyk nie. Ek gaat lê. Check jou môre same time, same place”.
Sy staan op en slof-slof na haar kamer toe agter die kafee.
Toe ek haar die volgende soek was sy reeds weg. Haar ma is skielik oorlede, maar sy’s eers welsyn toe oor die kind.
Soms praat mense makliker met dooies. 

No comments:

Post a Comment