Tuesday, 12 March 2013

Jaloesie, 'n Keizer met los tolle in die wind


Jaloesie is so welkom vir my soos eyelashes vir karligte. Onooglik om na te kyk alhoewel die teorie daaragter met die cuteste van bedoelings bedoel is.

Jaloesie kom mos nooit kaalgat na jou aangestap nie. Nee dis so onverwags soos ’n vyftienjarige wat van moord en verkragting aangekla word in Griekwastad oor ’n Paasnaweek. En die Keizer weet hy hardloop met sy tolle los in die wind. Jaloesie weet van jaloesie. Onthou my tog dat ek iets êrens sê oor ontnugtering.
Soos jou vriendin wat in die soetste stem beduie hoe bly sy vir jou part is omdat jy vir ’n naweek kan weggaan en sy met die grootste liefde na jou diere sal omsien. Of ’n vrou wat met lang oë kyk na jou man wanneer hy jou soen gee op straat. Of die man wat na sy pel se nuutste double cab bakkie kyk en jy as vrou nie eers kan begin verstaan hoekom hy kwyl nie. So butch.

Sit ek wat Klara is nou met ’n netelige probleem oor daai einste woord “jaloesie”. Wel, dis wragtag die enigste verskoning, want die res van die ander moontlike verklarings strook nie.

Kyk ou Olyf wat ’n blok van my af bly het opdrag by sy huisdokter gekry om aan die beweeg te kom. Olyf se oplossing daarvoor is ’n golfkar en ekstra lang ure op die golfbaan. Ek weet mos. Ek is self daar. En hy het verder so geredeneer – die afstand wat hy van sy golfkarretjie na die bal moet loop en terug is net onder ’n kilometer elke tweede dag van die week. Ek het aspris die woord “blok” gebruik aan die begin van hierdie paragraaf omdat Olyf ’n blok van man is. Altyd vriendelik en giggel as hy lag. Dan skud sy hele lyf, maar dit kom nooit tot by sy oë nie. Die toonbeeld van 100% carefree en happy. Olyf se vrou, Mev. Suur-Druif, ala wederhelf is helaas nie ooglopend gelukkig nie.

Twee naweke terug het sy na ’n “feel-positive-and-inspired-kursus” in Pretoria gegaan. Alles behalwe inspired teruggekom. Eerder meer moerig oor die aanbieding daarvan, die onsmaaklike snacks en die geld wat sy moes betaal het vir die bedrogspul. Snaaks hoe ver mense sal gaan om hul comfort zones te beskerm.
Nou sit ek by die klubhuis, drink my drinky en chat met Olyf oor sy amperste voëltjie op die derde gat en al wat Mev. Suur-Druif hoor is “voëltjie”. Skielik het Mev. Suur-Druif ’n maar moerse intense belangstelling in golf en ek moet net keer of sy wil reël vir ’n “swing-with-joy-kursus”. Die already-joy nag moertoe.

Dis nie ’n week daarna nie, toe sluip die eerste sinnetjie deur. “Klara, kyk hoe moeg lyk jy. Daar’s tot sakkies onder jou oë”. Ek erken die eerste sin het ek waardeer. Ek het dit selfs vertolk as belangstelling en omgee. Die tweede sin nie soveel nie. G’n vrou wil beskuldig word van rekmerke, spatare of sakkies onder die oë nie. Dit druis teen jou DNA in en laat jou weer met lang oë kyk na jou oorspronklike besluit om nooit onder die mes te gaan nie  (maak nie saak watse plooie op plekke vorm nie). Grace vlieg by die venster uit en broccoli word weer in kilogramme gekook saam met aandete. My arme man.

Die tweede keer was ek skrams geïrriteerd met die herhaling van ’n alreeds onnodige gesprek. Die Amerikaners stel dit so mooi vir my wanneer hulle ongeloof wil wys…Really?! Really?!
Die derde keer kon ek my golfstok met tinsel versier sien in haar hol. REALLY?!

Maar skielik het Mev. Suur-Druif nuwe energie soos wat sy met haar deursettingsvermoë ’n daadwerklike verskil wil maak aan die kwaliteit suurstof wat ek inasem. Ek staar langer in die spieël, apply Hannon se “geheime” tip vir donker kringe en sorg vir hope seks met my man. Ek sing selfs in die stort. Ek dink ewe nog met ’n skalkse glimlag aan die groot favour wat Mev. Suur-Druif my veroorsaak.

Seks, gesonde kos, happiness – thanks Mev. Suur-Druif!

Tot verlede Woensdag toe…Mev. Suur-Druif se bogey in die sandbank…figuurlik gesproke.
“Nee, herre Olyf. Kyk hoe lyk Klara! Sy lyk so moeg. Kyk daai gesig van haar. Nee, herre Klara, is jy op anti-depressante of het jy en jou man moeilikheid?”

En Olyf kyk na my soos hy altyd kyk na my – vriendelik, met ’n giggelende begeerte.  Saam met die verwyt het my ontnugtering gelyktydig arriveer.

En toe weet ek iets meer van jaloesie. Vir die ontvanger daarvan is dit altyd ontnugterend. For the giver, it’s the only way of living. Life. My space. My comfort zone. Mine. Jaloesie sal altyd iets claim onder karige omstandighede.

Ek speel deesdae net op Sondae golf wanneer Olyf en sy vrou die kollekte behartig tydens biduur. 

No comments:

Post a Comment