Wednesday 14 August 2013

Stéfan se "landing pad"

“Ok. So dis official. Ek’s fokkin veertig.” Sy gee ’n lang sug. Die sug gee mee in ’n hoesbui wat enige emfiseemlyer met trots en agting sal bejeën.  

Ek verstaan dit nie. Naughty fourties, goeie seks, IK, dis alles deel van die 40-plan tog, nie waar nie? Inteendeel, ek kan nie wag om self daai paartie te reël vir my nie.

“Nee, oe my hartjie, jy verstaan die pot sonder die deksel op die oomblik.” Stéfan met sy slap gewrigte en vreeslike pienk das besluit om sy teekoppie neer te sit. As hy dit doen, het hy iets gewigtigs op die hart. En ouderdom val onder die Titanic file – it’s all the way down to the bottom of bottomless.
“Hartjie, kom ons beat nie nou die bush met ’n stomp voorwerp nie. Om oud te word, is net nog ’n plek om jouself te bullshit, soos jy so pas gedoen het. Die waarheid wat jou in sy visier korrel is ’n walglike affêre, Klara.”

“Wat? Jy’s so oud soos wat jy dink jy is.”

Stéfan gee ’n gilletjie. “Oee nog ’n cliché van die Jane Fonda clan!”

“Kyk Klara,” hyg Susan na ’n sluk wyn en haar donkerbrille tot op die punt van haar neus geskuif kry, “Dis die ontnugtering van alles wat meegee. Dis ’n stadige dood.”

Ag nee, asseblief. Ek’s skuins bedonnerd vir hierdie swartgalligheid. Stéfan en Susan kyk my ongestoord aan.

“Ek voel nie eers so oud soos wat ek is nie. My tannie preek dan weekliks nog vir my om age appropriate op te tree. Dit terwyl die boodskap op elke televisie show juis wys hoe ouderdom gefnuik word met Botox, fake love stories en ’n paar gewillige benerige knieknoppe wat enige lang sletterige boot goed laat lyk saam met die gebruik van oordadige make-up. Is verjaarsdae nie veronderstel om een of ander celebration te wees van hoe goed jy voel desondanks jou eie boomringe wat om jou gat hang nie?”
Stéfan kry ’n look in sy oë wat wys ’n beplatsing is naby.  

“Ons almal is nie gebless met jou looks nie Klara. Kyk waarmee moet ek fokkin werk. Hierdie neus, hierdie wenkbroue, my hare…” Sy mondhoeke trek gepynig afwaarts…”My fokkin hare val uit asof ’n boeing daar wil kom land.”

“Én…” kom Susan tussenin sodat Stéfan sy asem en eiewaarde weer van die grond kan optel…”niemand se tande is bestand teen ouderdom nie. Wys my een mens wat oor veertig nie ’n kroon of ’n brug of ’n valstand het nie.  Toe wise-ass. Ons is nie gemaak om goed oud te word nie.”
Wel, met sulke positiewe denkwyses kan mens mos net straal.

Stéfan klits homself regop. “Dis nie wat jy dink nie. Dis wat jy wéét, Klara. My ruggraat het gesprekke met my wat ek eers oor twintig jaar verwag het. En dis nie oor ek en Bollie se manewales in die swembad verlede seisoen nie.”

Soos ’n veldbrand het daai storie in die dorp versprei met net sulke vet hondesterte agterna. Bollie en Stéfan hét beslis onbeskaamd gevry in die swembad…van die mislikepaliteit…all skinny and dipping, maar hulle het beslis nie ge-ballas-bomb van die duikplank af nie. En hulle het nie kliphard “Waa’s jy, wa’s jy, da’s jy(!)” kaalgat gespeel nie en hulle het beslis nie (maar ek meen beslis nie) Vogue van Madonna drie-uur die oggend in die swembad as die nuutste water aerobics vir die Dominee aangebied wat in sy pajamas op hulle afgestorm het  en in die naam van alles wat heilig is gesmeek om dadelik of straight te raak of droog nie. Stéfan het ’n helse ding teen hoogtes. En maak nie saak hoe lus hy vir Bollie was nie, selfs Stéfan het sy perke tydens lus.

“Dis moer eenvoudig julle. Ons gaan almal dood wees. You can either smile about it or die before that date arrives.”

Stéfan brom iets onderlangs. Susan wil weet wat hy gesê het. “Ek sê, ek sal dit like om ten minste te kon kies hoe ek ’n plek verlaat en nie net bloot te aanvaar ek het twee aanloopbane vir ’n haardos en ’n “landing pad” vir ’n helikopter as neus nie.”


Daar het jy dit nou. Oudword is kak lekker. 

Tuesday 30 July 2013

Die skril stem van liefde

Haar kinders se koppe is altyd na die teerpad gedraai. Kyk niks in die oog nie. So asof iets hulle druk op hulle nekke. Sy, aan die ander kant kyk alles vierkantig in die oë maar nooit sonder ’n frons nie. Nog voor sy haar twyfel van die oomblik uitspreek, sê haar gesig dit reeds. Maar eintlik wil jy nie hê sy moet haar mond oopmaak nie.

Haar stem is nie skril nie. Dit sny eerder. Soos ’n mes-gooier in die sirkus boor haar stem elke woord deur jou lyf. Sekuur. Dodelik.

Sy was nie so nie. Daar was ’n tyd wat haar gesig bewolkloos was. Nie ’n druppel van ’n dag oud nie. Die kinders het langs haar gehuppel en hulle het nooit opgehou kwetter nie. Haar stem was toe sag, warm, woorde soos komberse wat alles toegemaak het, heelgemaak het, beter gemaak het, soos pleisters.
Maar die kleurvolle prentjie het stadig begin verdof.

Dit was eendag in die mislikepaliteit. Die ry was lank. Sy het moeg gelyk. Iets genoem van die een bloedjie wat middeloorontsteking het en haar die heelnag wakker gehou het. Daarom was dit normaal vir haar om later brom-brom in die ry te staan wat nie vorentoe beweeg nie. Nog meer normaal vir haar om harder haar misnoeë uit te spreek. En veel later nadat kassiere haar tussen hulle soos ’n pingpong balletjie rondgestuur het, kwaad te word en moerig uit te storm. Haar selfoon het kort-kort tussen al hierdie dinge gebiep. Sy’t meer angstig geraak en meer geïrriteerd. Ek het daai dag dit afgeskryf as moegheid + mislikepaliteit = bound to happen frustration.

By die skoolkruising het ek haar ’n week later weer gesien. ’n Kind het voor haar kar ingehardloop. Sy was haastig. Sy het die kind byna-byna getref. Met ’n wit gesig het sy skellend uit die kar geklim en die kind sy fortune vertel. Haar woorde het nie gegaan oor veiligheid of gevaar nie, maar hoe die kind nie gekyk het nie. Flippit man, kyk net!

’n Maand later het ek in die apteek gestap en daar het sy met bewende hande na haar beursie gegryp al swetsend want mediese fondse is ’n donnerse klug, niks meer as diewe wat jou geld vat vol leë beloftes nie. Die dame agter die toonbank het gelyk of sy al ’n halfuur terug wou gaan pee het soos sy ongemaklik rondgetrippel het. Daar het ek vir die eerste keer haar skel stem gehoor.

Die dag wat ek ’n speech by die laerskool moes gaan gee het oor hoekom kinders liefs nie skrywers moet word nie, het ek haar weer gehoor. Sekuur, sissend, skellend teenoor ’n juffrou. “Maar dan’s jy die een wat eintlik donners stupid is en nie my kind nie. Moet julle klomp onnies nie gereeld gaan vir ’n refresher courses nie. Hoe de fok moet my kind iets leer van jou as jy so ooglopend deur die kak is?”

Teen die tyd het die skinder dik geloop. Een vir een het mense begin bang word en anderpad gekoes wanneer sy in aantog was. Haar frons was diep en hard op haar gesig afgeëts. Moenie haar bestelling in ’n restaurant opneuk nie. Moenie voor haar inry nie. Moenie haar skeef aankyk nie. Moenie haar vlak-vat nie.  Het die hele wêreld nou donners stupid geraak?! Kyk net die swak kwaliteit van vrugte in die winkel! Kyk hoe stadig loop hy om petrol in te gooi! Flippin dom asshole wat te lui is om te werk.
En so het die wêreld te dom geraak vir haar. Daar was niks meer joy vir haar in die dag nie. Alles was te vlak. Niemand gee meer om om…wel om te gee nie. Sy laat nie so oor haar loop met below standard ape nie.

Sit sy eendag in die restaurant. Haar dogter is nie tevrede met haar milkshake nie. Te dik om te drink. Ek maak flou geselsies tussen die skellery deur na die “dom waitress wat te lui was om die milkshake behoorlik ’n spin te gee in die masjien. Wil sy haar kind nou laat verstik of haarself entertain met ’n 12jarige se brain freeze?”

Later toe die kinders badkamer toe is, kyk sy my aan. ’n Kar het een keer te veel gerem op haar gesig. Moeg. Bleek.

“Nee, Klara. Ek’s nie stupid nie. Ek weet ek word beskinder in hierdie dorp. En dis fine. Ek het dit oor myself gebring.” Haar selfoon lui en sy druk dit argeloos dood.

Stomgeslaan oor die helder eerlikheid, kan ek steeds dan nie verstaan hoekom sy dan nie haar attitude verander nie. Sy wens sy kon. Maar waar gaan haal sy dit? Dit wat sy nodig het om weer te lag. Waar?
I don’t get it. Die kinders kom terug uit die badkamer. Die dogter wys haar selfoon. “Pappa het gebel. Hy sê mamma het vergeet om die asbliksak uit te vat en om vir hom sigarette te los. Hy sê ook mamma moet hom bel, want mamma antwoord nie mamma se foon nie.”

Die waitress het angstig nader gestap om die rekening te gee. “Moenie dink jy kry ’n tip by my vandag nie meisietjie. Jou diens was besonders kak om die minste te sê en vra tog asseblief vir jou baas wat beteken ’n toasted broodjie. Dit beteken dit moet darem ten minste lyk of dit getoast was. Of hoe?”


And then I got it. Die heel stupidste ene van almal is sy. En sy weet dit. Want elke aand wanneer sy slaap kyk sy in sy gesig vas. En sy weet sy het ja gesê die dag toe hy haar gevra het om te trou. Dis die downside van liefde wanneer dit jou voetwerk verander. 

Monday 22 July 2013

Die hel is los, sykouse en al

Die hel is los in die dorp. Die bakhande is uit en die skinder loop dik oor twee moeders, hul bloedjies en die fight wat rofstoei dames soos kinderoppassers laat lyk het. Maar dit gaan nie oor die kinders nie. Ek weet, ek het ook daai fout gemaak. Wanneer gaan ’n fight ooit oor die ooglopende redes?

In die een hoek het ons vir Mev. Heilig. Onder haar belt is:
A] Twee suksesvolle egskeidings
B] Vyf kinders waarvan een oorlede is (niemand weet tot vandag toe hoekom nie)
C] ’n Vrou in diens van God en alles wat reg is
D] Bitter

In die ander hoek het ons Mev. Gelukkig
A] Een keer suksesvol geskei en een keer suksesvol getroud
B] Een dogter
C] Nie gelowige
D] Gelukkig

Soos ek nou al die Lewe se twist en turns ervaar het, is die Lewe veral mal daaroor om kompleet soos ’n sadis die uiterstes om ’n tafel te nooi en dan terug te sit en te kyk wat uitbroei. In hierdie geval het hierdie twee vrouens se dogters baie goeie vriende geword. En dis presies waar die Lewe se sadistiese kant begin ritme kry het.

Mev. Heilig is nie gelukkig met hoe haar lewe uitgedraai het nie. Onderhoud vir haar vyf kinders was nooit ’n happy gebeurtenis nie en sente-omdraai was nie meer ’n kuns nie. Sy vra nie vrae nie, want sy “weet alles het ’n doel, want Hy bepaal haar roete.” Diplomaties-plegtig-moerig vir al die swaarkry en uitdagings op haar pad. Sy is dus gedurig in uiterste konflik met haarself. Soos haar ooptoonskoene saam met sykouse. Absoluut onooglik! Die fok weet hoe iemand in sy regte brein vir ’n millisekonde kan dink dis hoe jy op straat kan verskyn.

Mev. Gelukkig is nooit aangetrek sonder haar glimlag nie. Dit konfoes die hel uit christene, want goddeloses moet mos swaarkry, in vrees lewe en 100% suiwer assholes wees. Jy is mos niks sonder Sy liefde nie.
Die eerste waarskuwingskoot het Mev. Gelukkig gevuur toe Mev. Heilig se bloedjie vreeslik demanding in die naam van Jesus en alles wat goed is, Mev. Gelukkig se bloedjie ontstig en ontstel het en selfs so ver gegaan het om haar een pop des moers te breek. Mev. Gelukkig het ten einde laaste ingegryp en ’n berispende SMS afgevuur na Mev. Heilig maar ook aan die einde van die SMS as nagedagte bygevoeg vir hulle twee om die saak oor ’n koffietjie vas te vat.

Mev. Heilig het in stilte dit van die hand gewys.

Maar die sadistiese kant van die Lewe was nog nie klaar nie. Daar’s mos ’n button gepush, ’n resultaat verkry. Why not take it further?

En so raak die twee dogters weer vriende. Mev. Heilig en Mev. Gelukkig het die op en aflaai van hul onderskeie bloedjies so gesinkroniseer dat hulle nie mekaar se paaie gekruis het vir ’n paar maande nadat die dogters hul vriendskap hervat het nie.

En later het die twee meisiekinders so lekker maats geword dat met die eerste geleentheid wat Mev. Gelukkig ’n funksie gehad het, het haar dogter, as expected van normale kinders wat vriende is, voorgestel of sy nie by haar maatjie kan gaan oorslaap nie. Mev. Gelukkig was aanvanklik huiwerig. Mev. Gelukkig het wel ’n kognitiewe besluit geneem om haar dogter se keuse in vriende te ondersteun al verstaan sy dit nie noodwendig nie.

En toe gooi die Lewe die eerste chilli in die pot – Mev. Heilig eis eers ’n verskoning van Mev. Gelukkig.
Mev. Gelukkig was aanvanklik flabbergasted oor die parmantige versoek, maar het weereens haar dogter se geluk eerste gestel. Mev. Gelukkig het die volgende goed self vir my vertel.

“Man Klara, ek het my trots gesluk en haar geskakel, maar sy’t hierdie kak houding van ek wat haar iets skuld. Holier than thou houding, né?” (Mev. Gelukkig hou van die woordjie “né”.)

Mev. Heilig het weliswaar ingestem vir haar dogter om oor te slaap. Wat sy vergeet het om te noem was dat die kind op die vloer sou slaap, maar dit was nie die ergste nie. Mev. Heilig dôner glo die sewe soorte kak uit haar bloedjies durf hulle terugpraat, nie luister nie of in die algemeen haar lewe verder verongemaklik as wat dit reeds is met die plan van Bo. Sy het ook Mev. Gelukkig se bloedjie tot ewige hel verdoem omdat háár ma die Antichris is. En Mev. Gelukkig het net daar die streep getrek.

Soos die Lewe se sadistiese kant momentum kry, werk dit ook so uit dat die twee moeders mekaar na afloop van dié naweek by die nasorgsentrum raakloop.

Mev. Heilig se lip was gebruiklik opgeswel van die natuurlike bitterheid in haar lyf. Mev. Gelukkig het met haar perdebylyf vol woede oor die grasperk ge”motor” en voor mev. Heilig besef wat aangaan was Mev. Gelukkig in haar persoonlike heilige spasie.

“Nee, Klara toe spat die kak. Ek het nie vir ’n fok teruggehou nie.”

Mev. Heilig het glo later in tale gepraat maar toe sy Mev. Gelukkig toesnou as ’n slegte voorbeeld vir haar goddelose dogter, het die eerste lae vertikale poesklap geval. Teen die tyd wat die nasorgsentrumpersoneel by die dames uitgekom het, was Mev. Heilig se sykouse in flarde, Mev. Gelukkig se een nael gechip en beide dogters besig om vir Mev. Gelukkig aan te cheer. Totale chaos. The spectacle of spectacles. Die bakhande was warm geskinder: Jesus teen die Antichris. Good vs Evil. Of was dit? Want wie is “Good” en wie is “Evil”? Die dorp was verdeel. Die Verligtes teen die Uitverkorenes.

Dié wat hul ondersteuning vir Mev. Heilig gewys het, het almal begin ooptoonskoene met sykouse dra in weerbarstige protes teen die Onheiliges. Die ongelowiges het rock&roll kliphard geluister.
Mev. Gelukkig sit met haar koffie en sigaret voor my. Haar voet tik saam met ACDC se Back in Black wat speel op die agtergrond in my kombuis.

Ek het net een vraag…Wat van die twee meisiekinders?

“Nee, Klara. Hulle is nog dik tjommies. Ek weet die meisiekind kry swaar onder haar ma se verwyte. Sy speel in die geheim met my dogter. Wat ’n klomp kak vir ’n arme kind om op te vreet.”
Ek skud net my kop en hoop in my binneste van binnestes ’n lig gaan een of ander tyd aan want hierdie dorp se mense is naby aan ’n jihad of note.

 “Ek is gatvol vir christene wat my veroordeel omdat ek nie ’n geloof aanhang nie, Klara. Fokkit, ons constitution sê dan vryheid van geloof en assosiasie, maar dit bestaan net in die ink wat dit geskryf is. Jy weet in die skool beoefen hulle steeds godsdiens né? Al is dit teen die onderwysbeleid né? Aan die begin van die jaar vra die skool alle ouers om toestemming te gee vir hulle kinders om godsdiensklasse by te woon. Wat anders is dit as diskriminasie sou jy weier? Al die ongelowige kinders moet dan tydens daardie klasse biblioteek toe gaan sodat dié juffrou die twee of drie onskuldige kinders vir vyf en twintig minute lank kak uitkyk, haar kop skud en opmerkings maak van die “arme verdoemdes”.  Ander onderwysers target hierdie kinders om al hul frustrasies op uit te haal. Huiswerk word uitgeskeur, toetse word strawwer gemerk. Dis verkak! Né? En dis nie asof ons ongelowiges omdraai en mense probeer “red” of “oortuig” om op te hou glo nie. Ons hou ons bekke en respekteer hulle besluite. Né? Wanneer gaan hulle dit wat hulle Sondag na Sondag verkondig begin toepas en die vervolging vir hul Herder los?”


Ons land is nog nie ryp vir al die intensies van ons Grondwet nie. Ek het aanvanklik so gedink. Tot ek die twee meisiekinders verby my huis sien stap het. Hulle het gelag en gesels. En toe tref dit my. Gaan na die kinders en word wys en los die miere om te doen wat hulle moet doen. Daar’s hoop vir môre. 

Thursday 18 July 2013

Sy kyk ander pad

Dis ’n warm dag vandag. Kan dit eintlik nie glo so tussen winter deur nie. Sonskyn en hitte. Geen kaggelvuur of naarstig koffiemaak om soos ’n wafferse sop-advertensie jou hande om die beker te vou nie. Alhoewel daarin saligheid is. Hitte is veiligheid. 

Daarom was dit opvallend toe ek haar sien. Die apteker se vrou. Eers het ek gedink dis my verbeelding. Haar hande het om haar koffiebeker gevou. Vandag.  En sy’t voor die kaggel gaan sit in die koffiekroeg, terwyl almal buite op die stoep was besig om elke stukkie sonlig op te suig. Die kaggel was weer vir een of ander duistere romantiese rede aan danksy die ongeduldige mollige waitress wie ek nou nog sweer het so dik begin raak vandat sy hier begin werk het en die kaaskoek deur Margie gemaak word.

Ek het my sigaret met ’n kooltjie gaan aansteek, my lighter in my broeksak.

“Klara jy weet jy mag nie rook in die koffiekroeg nie!”  Die waitress prop ’n stuk kaaskoek in haar kies. Fok sy lyk nes ’n eekhoring.

Haar kwaai aanmaning is presies waarvoor ek gewag het.

“Ag, sorry man, my lighter het die gees gegee,” sê ek en bestel nog ’n koffie om haar iets te gee om te doen anders as eet.  Ek draai na die apteker se vrou om te kyk of daar oogkontak is van haar kant af. Nope. Niks. Sy kyk myle in die vuur in.

Haar selfoon lui. Ek ken die wysie. Bob Dylan se All I want to do. Sy probeer haar selfoon uit haar handsak kry terwyl die song vorder na die chorus. Sy kyk na die skerm.
No and I ain’t lookin’ to fight with you, frighten you or tighten you. Drag you down or drain you down. Chain you down or bring you down. All I really want to do is, baby, be friends with…
Haar selfoon hou op met lui. Sy kyk nog ’n rukkie na haar selfoonskerm en druk dit weer terug in haar handsak.

Van die koffiekroeg se deur kan jy net twee groot stoele se rugkante sien voor die kaggel. Jy kan nie uitmaak wie in die stoel sit nie.  Een van my persoonlike gunsteling wegkruipplekke in hierdie dorp. Die deur swaai oop en die apteker kyk vinnig rond en staan voor by die counter.

’n Ploffie asseblief. Die waitress is nie getrain in dorp-lingo nie en haar algemene kennis suck. Hy moet twee keer vra, elke keer harder. Later is hy amper paniekerig. “Dis ’n donnerse koffie met ’n skeut whiskey in!”
Die waitress vererg haar en plak ’n koffiebeker hard op die counter neer.

Ek steek my sigaret met my lighter aan en gaan sit skuins voor die kaggel sodat ek tussen die twee stoele se ruglenings na die counter se rigting kan kyk.

“Dis ’n wegneemkoffie asseblief.” Die apteker kyk senuweeagtig rond. Die mollige waitress se lyf raak aspris en stadig. Sy mors suiker soos sy mik na die polystyrene koppie.  

Die apteker se vrou sit doodstil in haar stoel.

Die apteker se geldnoot is reeds in sy hand. Soos die waitress die geld vat gaan sy lippe reeds na die stomende koppie se rand en brand sy lippe soos hy ’n groot sluk probeer vat.

“Dankie,” sê hy oor sy skouer by die kroegdeur.

Ek kyk na haar voor die vuur.

“Wil jy praat?”

Sy kyk nie weg van die vuur af nie.

“Ek het al. Dit help nie.”

“Wat gaan jy doen?” Ek gaan sit langs haar en rook nou onbeskaamd my sigaret. Fok die waitress.

Eers dog ek sy het my nie gehoor nie.

“Wat kan ek doen Klara? Hom voor ’n ultimatum stel? Hom vertel hy’s die grap van hierdie dorp? Dink jy hy gaan ophou drink omdat niemand hom ernstig opneem nie?  Of alles waarvoor ons so hard gewerk het, weggooi? Hy’s ’n volwassene maar mens sal dit nie sê soos hy vloermoere gooi wanneer ek hom konfronteer daaroor nie. Ek doen die enigste ding wat ek kan doen.”

Sy draai haar gesig weg van die vuur en kyk na die as van my sigaret.

Sy draai haar gesig stadig weg en staar weer na die vuur, haar rug na die koffiekroeg se deur gekeer. 

Wednesday 17 July 2013

Die bang-babeblaas, hy praat soos die kind...

“Het jy al na kinders geluister?”

Vicky van die koekiewinkel het kom koffie drink nadat Susan haar gat weer lam maak oor diens en hoe treurig haar koekies lyk. Nou skuil Vicky in die koffiekroeg tot vet Susan se vetgat uit haar winkel is na ’n dosyn koeksisters.

Ek reken ek luister maar na almal om my. Dis wat skrywers doen – hulle kyk en maak notas en daarna flans hulle alles deurmekaar sodat ander mense nie offended raak wanneer hulle hul eie kak lees nie.
Vicky wil-wil haar vererg vir my dwars antwoord. Sy sou sweer twee weke in die wildtuin sou my uitgesorteer het, maar sy sien ek was nog ’n week kort.

Ek meet haar met my oë.

“Wat wil jy sê oor kinders, Vicky?” Elke woord wurg by my mond uit.

“Nee, ek wil eers weet hoekom jy so moerig is Klara. Ons het jou verlang en hier sit jy weer met jou ou dikbek. Ag nee, man. Vlieg in jou moer. Ek loop sommer.”

Ok ek voel skuldig. Ek voel moer skuldig. En as ek moer skuldig voel raak ek later so kwaad en dan voel ek éérs skuldig. Vicky sit haar handsak weer stadig neer.

Nou moet ek seker weer verduidelik waaroor ek skuldig voel. Ek voel skuldig omdat ek weke laas iets geskryf het. Ek moes ontspan en dit was vir my uitputtend gewees! Ek doen nie ontspanning nie. Dis vir weduwees en ou mense. Dis vir lui mense. Dis vir…

Vicky reken ek het issues. En my man het seker weer nie huis gehou met my nie. En en en…Precisely why I don’t like sharing. Dan word jy weer veroordeel en jy sak net dieper en dieper weg in nog meer skuldgevoelens! Fok ’n vakansie is ’n straf vir my.

Ek kry die gesprek genadiglik omgedraai na Vicky se eerste vraag – Luister ek na kinders?
Vicky reken kinders en mans klink presies dieselfde. Wanneer kinders met mekaar praat probeer hulle altyd die grootste indruk op mekaar maak. Soos haar twee kinders wanneer hulle aan’t stry is. “Jy gaan banger wees wanneer ek jou ’n poets bak. Nee, jý gaan nog banger wees wanneer ék jou ’n poets bak…” En so neuk dit die hele dag aan.

Maar sy kon nie help om haar man se telefoniese gesprek te hoor met sy vriend ’n paar dae terug nie. Sy vriend se verjaarsdag is om die draai en hulle het reëlings getref oor die afdwingbare kuiertjie.
En toe hoor sy haar man. “Jong ons sal maar ’n draught of twee moet vasvat. Ja, ek’s mos nie bang vir ’n tequila nie. Wat wou, ’n ou Jack Daniels op sy tyd en plenty daarvan sommer die volgende middag. Ja, ek dink ons slaap sommer oor by julle.” Een, twee, drie, blok myself. Mans het soveel spoed wanneer dit gaan oor 'n kuiertjie.

Ek sien Vicky se oë verander van blou na vrees. Haar kak is geboek. Haar man gaan astronomies dronk word en die volgende paar dae gaan senutergend in slow motion verbygaan.
Ek kry haar jammer. Maar sy het ’n punt beet. Mans en kinders klink presies dieselfde wanneer hulle ’n indruk op mekaar wil maak.

Ek het nog nooit twee vrouens vir mekaar hoor sê: “Jong wanneer ek jou weer sien gaan ons tee drink dat die byle huil. Jy gaan moet byhou want mamma is lus om ’n potjie tee ordentlik vas te vat. Ja, jy gaan jou sit moet ken.”

Ek besef skielik, wanneer ek terugkom aarde toe wil ek ’n man wees. Want dan sal ek weet hoe om behoorlik te ontspan en my pelle warm te praat oor ’n aand vol drank. En dan wil ek ’n vrou hê wat deur dit alles by my staan en al het sy vrees in haar oë steeds kans sien vir die volgende dag se mislike kopseer en "dit- wat- ek- aan- myself- gedoen- het" met simpatie te behandel asof sy nie geweet het wat gebeur het was deeglik beplan en inevitable nie.


Vicky skud haar vrees weg. Ek verstaan nie hoe sy dit so maklik regkry nie. Sy verduidelik soos sy haar laaste slukkie koffie vat. Die bang-babelaas, hy praat altyd lank en stadig, veral langer en stadiger soos jy ouer word. Haar man gaan so sleg voel, sy sien actually uit daarna. En dit was aand en dit was môre die volgende dag. En dit was goed genoeg. 

To denial or not to denial

Hy’s lank met krullerige hare. Hy het ook ’n effense brei op sy tong. Maar die ding wat die meeste uitstaan van hom is wanneer hy sy mond oopmaak en praat…altyd laag en stadig soos ’n slak en altyd in denial oor alles. Asof dit moeite is om die woorde te vorm in sy brein voordat dit by sy lippe uitglip.

Hy klink met ander woorde moerse dom. Een keer te veel op sy kop geval. Maar. Hy. Het. Nie.

En dis die ding met Flip-Karel…Ja, dis sy naam. Soos wat kombinasie-name gaan, het dit ook verkeerd gegaan vir hom.

Hierdie level van intellek kan mens nogals gereeld dryf om moerig te raak vir Flip-Karel.  En dan knoop jou tong wanneer jy jou woede tot verhaal wil laat kom. Dit eindig gewoonlik op in “Ag, flippit, maar my goedige fok flippin hel Flip-Karel!”

Ek sit by die bar en luister na die kroegeienaar se broeiende frustrasies oor Flip-Karel. Hy’s spyt hy het die outjie ’n kans gegee. As hy net vinniger kan werk as wat hy kan praat sal dit al klaar ’n pluspunt wees, maar donner, dis asof jy agter hom moet loop met ’n blowtorch net om hom aan die gang te hou. Dis uitputtend! Hy’s voor sy rekenaar. “Klara, wat is die Afrikaanse woord vir incompetent?”

Teen alle verwagtinge van logika weens die weliswaar bekende feit oor sy gesprek-gebrek, is Flip-Karel mal daaroor om ’n geselsie aan te knoop met enige iemand oor enige iets. Solank dit gaan oor karre, meisies of hoe hy amper ’n ou gebêre het teen die pavement omdat dié hom durf stamp het. Ge-vaaaaarrrr-lik…Flip-Karel se vuiste praat die vinnigste van sy hele lyf …al het dit nog nie.

En so werk dit toe ook so glo ’n week terug toe ek in die Kruger wildtuin leeus gaan opsoek het. Te midde van ’n vol bar en mense wat drink asof daar nie ’n môre is nie, storm Flip-Karel uit en gil “My broer, my broer!” En daar’s Flip-Karel net weg.

Die customers staan rond en hou hulle laaste slukkies koesterend vas. Jacques wonder of dit ongeskik sal wees as hulle hulself kan help want die dors is nog ver van geles af. Hy sal mos opskryf man.  Brent reken hulle moet dalk gaan kyk waarheen die laaitie so gehardloop het. Almal weet hierdie twee broers veroorsaak hoofopskrifte terwyl hulle nooit soek daarna nie. Nee, regtig nooit nie. En dis in anyways beter as om hier te te staan en wag vir ’n koue brandy.

Die een gewillige vrou met die uithang borste stuur ’n Whatsapp vol spelfoute na die kroegeienaar. Dis genoeg om hom met sy pajamas en al daar te kry in ’n rekordtyd. ’n Moerige man met slippers is ’n moeilike ding om te aanskou.

Flip-Karel stroll om die hoek met sy broer aan sy sy. Jan-Frik is vrot gesuip. Flip-Karel hou hom met moeite regop.

Nee, verduidelik hy, hy het so byna sy broer se lewe gered. Hy was nou so amper geskiet. En dis net die onskuld vanself. Die ander ou het eerste moeilikheid gesoek. Die ander ou het eerste begin vloek.

Die kroegeienaar skuim by die mond en trek later sy een slipper van woede uit en swaai dit voor Jan-Frik se neus rond. Flip-Karel reken dis nie nodig om sy broer wat byna geskiet was, nog verdere ontsteltenis te veroorsaak nie.

Die slet by die hoek reken sy wil ’n foto neem.

“Haai nee auntie. Ek doen mos nie foto’s nie. Ek’s te skaam.”

Nadat die kroegeienaar met moeite kalmeer het (menende verskeie glase rooiwyn), staan Flip-Karel by sy broer en fluister…hard genoeg vir almal om te hoor.

“Daai auntie, sy kyk die hele aand vir my. Maar ek weet sy sien iemand. Ek karring mos nie in ’n ander man se slaai nie.”

En nog later…

“Ek raak nie sommer gou kwaad nie. Dit vat lank vir my om kwaad te word.”

Die kroegeienaar het hom sy final written warning  gegee ’n halfuur nadat ek daar weg is. Dis nadat hy gepose het vir ’n foto saam met die aanvallige vrou vol ronde borste, dié se boyfriend helder oordag kom navraag doen het oor die groot smile op sy gesig en Flip-Karel hom teen die pavement gebêre het, ampertjies. Verder het die kroegeienaar die finale streep getrek omdat die hotelbestuurder vir hom die waarheid kom vertel het oor die amperse skietgeval. Dit was Jan-Frik wat met sy brandy besaaide asem ’n ou gestorm het omdat hy in ’n one-way per ongeluk opgery gekom het. En dit was genoeg vir Jan-Frik om ’n hele moles te begin, deur te voer, sy broer te bel en in te sleep en daarna verder te suip in onskuld.

Dis soms die goed wat jy ontken wat jou weggee. 

Die perfekte gesin

’n Vrou sal doen wat sy moet doen met militante presisie al moet sy dit wat sy moet doen ook sleep tot by die plek waar dit nodig is. So hou ek vir Amanda dop vanuit die koffiewinkel. Oorkant is ’n materiaalwinkel. En “Pappa” is saam.

Pappa kyk maar sien niks raak nie. Hy kou sy vuurhoutjie uit die hoek van sy mond en probeer om aan niks te raak nie. Soos hy geleer is deur Mamma.

Mamma bring haar kant. Sy spaar geld deur om vir Pappa ’n trui te brei, ’n hempie vas te stik en vir die kinders speel en kerkklere van ou patrone af te knip gemaak van materiaal uit hierdie winkel. En Pappa is elke keer saam.

Pappa bring weer sy kant deur om nie te veel waves te maak nie. Staan 06:30 op elke oggend en trek solank sy kant van die bed reg, stort en stap 06:50 by die kombuis in waar hy vir Mamma voor die stoof kry. Sy is reeds besig om sy bacon en eiers op te dien saam met LOW GI brood, die koffie moet hy self maak. Die kinders is op pad terug kamer toe na hul bordjies oats. Boeta kyk ’n ekstra sekonde na sy pa se bacon en eiers voor sy ma hom aanjaag om sy hare weer te gaan kam, want só verskyn mens nie op straat nie.

Mamma blaf verder die dag se verwagtinge aan Pappa. Die tuinman kom en hy moet ’n geldjie op die yskas los. Dan het sy kruideniersware nodig, nog ’n geldjie. En dan gaan sy vir Tiena kuier in die hospitaal maar daarvoor het sy koekies gebak.

Pappa sal weer teen 17:17 by die huis opdaag terwyl die kinders nog besig is met hul huiswerk en Mamma kort-kort in hul kamers gaan oog gooi oor algemene netheid van die werk asook hul kamers. Sou Boeta iets dwars noem sak Mamma net daar af op haar knieë en kyk onder sy bed. Sy haal twee bakkies ou kos, ’n skooltrui wat sy orals gesoek het en ’n paar toffiepapiertjies onder die bed uit en los dit verwytend op sy vloer met die dreigement dat Pappa ingelig gaan word oor sy houding.

Sussa smelt botter in haar mond teen kamertemperatuur. Mamma se persoonlike innerlike gemoedsruskind. Haar kamer is altyd netjies, haar huiswerk presies soos Juffrou dit verwag en haar hare altyd gevleg. Daar is nie ’n spatseltjie modder of stof op haar skooltas nie. Alles is op sy plek.
Mamma voel gelukkig terwyl sy materiaal teen Pappa se ken hou om te kyk of die kleur sy oë uitbring. Alles is perfek. Sy’s in beheer.

Karin aan die ander kant is ook ’n ma. Haar man werk night shift by die fabriek en ek kan nie onthou of ek al ooit sy hande sonder grease gesien het nie. Karin se hare is gewoonlik in ’n rowwe bolla op haar kop vasgebind. Haar twee kinders lyk gewoonlik of iets met hulle gespeel het as andersom. Karin loop nooit stadig nie. Sy stap-draf, amper asof sy iets vasknyp en dan dit ’n go gee. Wanneer Karin kwaad word, krap sy in haar handsak en soek na woorde. Karin hou nie van konfrontasies nie. Dis nie dat sy nie haar man kan staan nie (ek het al haar vloermoer in Telkom gesien). Dis eerder ’n geval van sy wat nie tyd het om mense te oortuig nie. Karin en haar man sien mekaar soggens wanneer hy van die werk af instap by sy huis. Sy roer sy koffie terwyl haar ander hand die kinders se melk in hulle rice crispies gooi. Aandetes bestaan uit whatever sy in ’n pot kon gooi en in ’n oond kon druk of take aways. Op Moedersdag vat haar man by die fabriek af en pluk saam met die kinders blomme in hulle tuin en hy braai ’n vleisie. Soms het hulle vriende wat oorkom en dan vou haar man se hande oor sy bors terwyl sy bier rus op sy gewrig. Die kinders hardloop gewoonlik met die vet pavement special brak om hul klein huisie en skree al die pad in stereo.

Dis presies op daardie oomblik wanneer Amanda en gesin met hul skoon-gekamde Golden retriever in die straat afgestap kom. Die toonbeeld van geluk en perfekte liefde. Die bewys van ’n moeder se sleepvermoëns om haar gesin by die plek te kry waar hulle moet wees. En terwyl Karin Amanda se skoon lewe begeer, is dit Amanda wat staar na Karin se man en hoe hy haar vashou. 

Friday 21 June 2013

Die moerse verskil

Eergister hoor ek in ons local kêffie hoe twee mans staan en mor oor hulle onderskeie bankkoste en die diens wat hulle nie kry nie. Die sweterige een is veral ontsteld oor hy nie meer gereeld reminders kry om sy skuld te betaal nie. Die bewerige maer een reken die bank is sweerlik die gedierte waarteen Openbaring ons waarsku. Hulle is moedeloos want eintlik is al die banke dieselfde. En jy voel so magteloos, want wat kan jy nou doen? Die dae is verby waar ’n man met die bankbestuurder kan onderhandel. Dis alles die rekenaar se skuld as jy nie ’n lening kry nie. Die sisteem is die oorsaak dat daar nie ’n persoonlike verhouding tussen ’n man en sy bankbestuurder is nie. Daai dae is verby soos soveel ander goed vir ’n man.

Ja, reken die sweterige ene. Selfs rooivleis soos sy oorlé Mammie dit altyd gemaak het: Ontbyt, middag- en aandete, bestaan nie meer nie. Dis te duur. Die bank vat dan al jou geld en dit wat oorbly vat jou vrou en die kerk.

Die bewerige maer een reken die eindtye is naby. Niks maak meer sin nie.

Ja, selfs sy vrou is die kluts ook nou heeltemal kwyt. Dis nou net oefeninge voor en gesond leef van agter af. So asof daar fout is met hom. Iets wat veronderstel is om goed vir jou te wees het nog nooit so verkeerd gevoel nie. Nee, die ou wêreld is op sy kop ou maat.

Die sweterige een klou sy LOW GI brood onder sy arm. Slag sy vrou hom lewendig durf hy met ’n gewone witbrood by sy huis opdaag!

Jip dis leeu en lamtyd swaer. Flip wat hy nie sal gee net vir ’n ou stukkie skaaptjoppie nie. Of ’n barmhartige bankbestuurder wat die sisteem op sy jis kan skop of enige iets wat net blerriewil maklik is. Als is ’n gesukkel en kômpliekeited. Dit het hom ’n maand gevat net om sy nuwe grassnyer te verstaan. En omdat hy nou nog nie die moerse remote met al sy knoppies onder die knie het nie, swaai sy vrou die septer daar ook. Hy word eintlik naar vir al die stront wat op die televisie is.

Die maer ene herinner sy broer in verdrukking oor die Antichris wat ’n geslepe vabond is en wat onskuldige niksvermoedende siele naderhark aan hulle kele en insleep in sy wêreld.

Nee, kyk wat te erg is, is te erg. Hy gaan sy voet dwars sit met sy vrou en met dominee gaan praat. Hy is immers die man in die huis. Die maer ene klop die groot man op die skouer. Daar gaat hy nou swaer!
Testosteroon wat mekaar aanhits is so mooi soos polonie. Ek kyk na die ry wat nie beweeg nie. Tony, die kêffie owner, sukkel met die Lotto masjien. Ek besluit om later terug te kom en sit my witbrood weer op die rak.

Buite staan beide mans se vrouens by hul motors en praat.

Die sweterige een se vrou is aan die woord terwyl haar arms help prentjies maak met haar woorde. Nee, haar man is so skuins jy kan met hom koekies bak. Sy kan skaars vir hom kyk dan wys hy tande en lyk slaggereed om haar te byt. Die maer ene se vrou skud haar kop in medelye. Sy hou ook nie huis met hare nie. Maar ou boeta laat die pelle bel, jong dan’s dit net smiles all over. Sy wat vir hom ’n tuiste skep is sommer ’n terloopse saak. As sy hom vra wat hom pla dan “karrrrrrring” sy “onnodig”.

Beide van hulle is moeg om so op eiers te loop om hulle mans. Jinne hulle probeer net help en ’n skouer wees, maar dis ’n gees van knorrigheid wat so dik hang jy kan stik daarvan.

Ja, reken die sweterige een se vrou, wanneer sy terugkom aarde toe wil sy ’n man wees. Die maer ene se vrou raak begeesterd. Ja! O die saligheid!  
Die sweterige een se vrou wil gedemp ernstig weet of dit so baie moeite is om net ordentlik te wees met haar? As hy dan nou nie met haar wil praat nie, ten minste net nie so konstant iesegrimmig te wees oor elke donnerse ding nie.

Voordat die maer ene se vrou kan antwoord is beide se mans by hulle.

“Vir wat vat julle so lank?” wil die sweterige man se vrou weet.

Hy ignoreer haar en groet die maer ene met ’n belofte van ’n braai aanstons. Met ’n paar skaaptjoppies op die kole. Daar word kyke oor en weer uitgeruil.

Men are from Mars and women are from Venus. Vrouens moet besef daar’s ’n moerse verskil tussen “nag” en “moan”. Die eersgenoemde is onsexy, terwyl ’n gesonde moanery op sy tyd enige man soos ’n seksgod kan laat voel met die grootste en sterkste voël. En mans…Net soos jy jou ma se kos mis, maak sy staat op haar Moeder se goeie raad met shit soos: "'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees". Vrouens wil alles fix met gewigsverlies soos julle probleme oplos met 'n braaitang, warm kole en koue bier. Broers, moenie so bang wees vir praat nie. Dis wreed om jou vrou aan die raai te hou oor wat jou knyp. Praat is nie ’n siekte nie en jou vrou is aan jou kant. Veral wanneer hulle omgee vir julle ou brommerige dose wat als wil “vasvat” behalwe 'n goeie ou chat. Want, face it – ’n vrou wat nag is nie die helfte so arbeidsintensief soos ’n man wat homself bejammer oor dinge nie meer dieselfde is nie. Kyk net hoe tragies het Malema gelyk tussen sy koolkoppe. En wat is so donners sexy daaraan?


Asseblief, vry in vrede hierdie naweek. Ten minste.

Wednesday 19 June 2013

RIP Logika

Lena kyk om haar rond. Sy dink nie iemand kyk tans na haar nie. Sy vat ’n tissue en snuit haar neus. Haar donkerbril is stewig op haar gesig, maar haar mondhoeke gee haar weg. Dis afwaarts. Lena werk vandag vanaf die coffee shop. Sy doen al haar bestellings vir haar man se hardeware winkel van haar selfoon af.
Kort-kort biep dit tussendeur, dan kyk sy vlugtig na haar skerm en skud haar kop. Persoonlik dink ek sy sukkel om die skerm te lees deur haar donker lense. Dis nie ’n helder sonskyndag nie. Buite is die wolke dik saamgepak en die winter het orals al nes geskrop. Verder merk ek Lena se naels. Dis swart geverf. Vir hierdie dorpie is dit nie noodwendig die algemene verkose kleur nie. Maar dis nie net haar naels wat swart is nie. Haar kleredrag sowel as haar skoene is swart. Selfs haar lipstiffie is ’n donker plumb osbloed rooi. Not a hint of happiness anywhere.

Ek moes Lena twee keer groet voor sy my gehoor het.

“Wie’s dood Lena?”

Lena reken Logika het tragies die vorige dag gesterf. Sy kyk nie op van haar files wanneer sy dit sê nie. Selfs haar stem klink soos die dood – Laag, emosieloos, not a hint of a joke.

My hart klop in my keel. Hier’s ’n hengse skroef los. As ’n vrou eers begrafnis hou vir skills of emosies, is Tori Amos nie ver nie. Lena se ovaries pomp in die rooi.

Verder wil Lena nie iets sê nie. Nee, wat. Mense wat rou hoef niks verder te verduidelik nie. Toe ek uitwys dat dit wat sy so pas gesê het, geensins sin maak nie, reken sy dis hoekom sy begrafnis hou vir Logika. Wat maak tog sin in vandag se lewe?

Maar Timing is nog alive and well en soos dit gaan in alle goeie stories stap Breggie in, gooi ’n vuil kyk na Lena en pyl na ’n oomblik van wik en weeg af op haar. Lena kyk steeds nie op nie.

“Tannie, ek wil net vir tannie sê dat…”

Lena prewel iets en ek sien Breggie leun met haar lang fietse lyfie nader om beter te hoor.

“Ek kan nie hoor wat tannie sê nie…”

Lena prewel weer iets. Breggie se cleavage is basies in Lena se gesig soos twee konfronterende konstabels soos Breggie haar probeer hoor. Selfs ek leun vorentoe om haar te hoor. En the next moment…

“Maar my fok, kan jy selfs nie eers ordentlik hoor nie. Ek’s nie jou fokkin tannie nie. En ek stel nie belang in jou verskonings nie. Fok weg van my tafel af.”

Breggie se kakebeen kan ’n jet daarin stoor so wyd hang dit oop. My hand ondersteun gelukkig myne.
“Wat de hel het ek aan tannie gedoen?”

Lena pluk haar donkerbril van haar gesig af en die swart maskara het al begin smeer. Breggie skrik haar boeglam.

“Verstaan jy dit nie? In jou eerste vyf dae by my man se winkel was jy nie een keer betyds nie en was jy ook twee dae kwansuis siek sonder ’n doktersbrief. In die grootmenswêreld, Poplap, werk dinge as volg – wys eers wat in jou steek.”

Soos Lena se woorde by haar mond uitgespoeg word, besef sy ook te laat dat haar laaste sin nie goed oorgekom het nie.

“Maar tannie, oom Gerhard het gesê hy stel my aan omdat ek ’n sexy girl is en hy wil graag van die ou garden stock ontslae raak. Ek is aangestel om bietjie flair aan die winkel te gee. Ek het nie nodig om betyds te wees nie. Ek is die sexy girl. En jammer as ek dit in tannie se gesig sê maar my ma sê dat tannie dalk net effens jaloers is. ”

Lena draai na my met haar wenkbroue teen haar haarlyn gelig. “Verstaan jy nou hoekom ek begrafnis hou Klara?

“Inderdaad Lena. Ek is op pad huis toe om ook swart aan te trek. Kry ek en jy mekaar by die kroeg vir die begrafnis?”

Breggie se oë spring soos ’n tennisondersteuner heen en weer en sy het ’n groot frons op haar voorkop. “Beteken dit ek het my werk terug tannie Lena?”

Lena begin hardop te lag. Sy klink moedeloos.

“Ek is nie jou fokkin tannie nie, Breggie.  Het jy iets vir my om op jaloers te wees soos breins Breggie of het jou tiete jou toekoms vooruit geteer?” Lena gryp haar eie borste vas en stoot hulle tot amper onder haar ken terwyl sy verbaas klink en Breggie mok asof sy dit nou eers ontdek:  “My goeiste! Kyk, ek het ook van hulle! Wow, gaan jy nou jou werk terugkry omdat ek ook tiete het soos jy? Neeeeee!”

Breggie het nog daar gestaan toe ons twee al by die deur uit is. En Lena het vergeet om haar donkerbril weer op te sit. There was a hint of a smile. 

Wednesday 12 June 2013

Asem

Dit kan enige plek of tyd gebeur. Soms het jy beheer daaroor, ander kere is jy onkant betrap. Ek sien dit op skole se sportvelde. Ek sien dit wanneer mense hulle pos kry en sekere vensterkoeverte oopmaak. Ek sien dit elke Saterdag wanneer groot volwasse mans na die TV staar en hul spanne speel. Soms as jy lucky is, kan jy dit sien tussen twee mense in ’n onbewaakte oomblik. Dan dank jy die universe vir die vlieg-teen-die-muur-oomblik.

’n Paar jaar terug het ek uit ’n winkelsentrum gestap. Ek moes verby ’n restaurant se tafels loop na my kar toe. Die vrou het haar sigaret net aangesteek gehad en gestaar na die man oorkant haar. Hy’t haar in die oë gekyk en gesê: “Dit gaan nie werk nie. Dis verby”. En toe gebeur dit. Sy’t haar asem ingetrek en opgehou. Sy moes dit sometime uitgeblaas het lank reeds nadat ek my kar se deur oopgemaak het.

Soms is dit moeilik om iets wat voor jou afspeel met woorde vas te vat.

Dis soos die millisekonde net voor jou selfoon lui. Die skerm word effens dowwer in jou hand en jy weet iets gaan nou gebeur. Bank, vriend of verkeerde nommer? Of soos die vrou wat na haar slaapkamer stap en sy weet haar man was laaste daar. Tergende vrae soos of die bed opgemaak is en of sy klere weer die wêreld vol lê op die vloer sorg vir jou asem om warm in jou maag rond te hang tot daar ’n resultaat sigbaar is. Dis gewoonlik soos jy dit verwag.

Ek het presies so gevoel toe ek die titel die eerste keer gesien het op die TV-skerm…Being Mandela…
Eers het ek gedink – Nee, kan dit wees? Is dit wat ek dink? En toe die resultaat…Jip dit is wat ek gedink het…en toe word dit erger as wat ek verwag het. Een moerse disgusting teleurstelling. Ek sal selfs so ver gaan om dit walglik te noem. Klomp ryk meisiekinders met ’n belangrike van wat hul lywe Kardashian hou en hul neuse optrek vir goed wat ’n arm man sal hemel toe stuur.

Om dit selfs as utterly fucked up te file is nie genoeg nie. Degrading, onrusbarend, onvanpas of selfs so eenvoudig soos stupid vat dit ook nie geheel en al vas nie. Sien, selfs die kakste goed in die lewe kan mens nie altyd behoorlik in swart woorde op ’n wit papier uitdruk nie.

En toe kom die nuus deur. Madiba is weer in die hospitaal en dinge lyk nie goed nie. Sensasionele hoofopskrifte uitgedink deur ’n sadis skree teen die lamppale: “Berei jou voor op die ergste.”
Jy vang jouself weereens verslaaf aan Twitter en Facebook vir enige brokkie nuus. Jy kry ’n private message van een van jou pelle in Kaapstad “Dude, daar was nou net ’n twenty one gun salute. Beteken dit…?” En dan sê iemand op Twitter ’n uur later: “Dis net die president van Sudan wat opgedaag het.” En jy blaas weer jou asem stadig uit.

Dan begin nagging gedagtes jou asem opvreet – Sê nou die regering besluit om dit eers stil te hou om al hul varkies bymekaar te kry vir die media-malheid wat reeds begin het? Sê nou daar’s nog iets wat hulle nie wil sê nie. Hei, ek’s nie die een wat ’n wet goedgekeur het om sekere goed stil te hou nie. Ek trust nie ’n ou wat ’n huis bou sonder om my te vra of hy my geld kan gebruik daarvoor nie. Nog minder ’n ou wat dink jy kan AIDS afwas in ’n stort soos Kallis in ’n Sanex advertensie. Die ou het meer vrouens as ure wat hy werk in ’n dag. (En presies die rede hoekom ek nie daarvan hou om politiese uitlatings te maak nie, want ek sê dit as ’n burger van die goeie ou RSA en nie die whitey wat moan met ’n brood onder haar arm en slogans op haar t-shirt wat reken apartheid kan nie meer geblame word nie. Ek is gatvol vir ouens wat nie hulle werk doen nie, maar die salaristjek and some huis toe vat sonder ’n gewete. There, I’ve said it. Moving on.)

Maar die ding wat my die laaste paar dae my asem ophou is om Madiba te groet. Ek raak kort-kort ontsteld aan die gedagte. Die pad wat hy gestap het, is massief. Dit kon soveel anders gewees het as hy soos ’n normal human being alles om hom geblame het of met oogklappe die leisels oorgeneem het. ’n Houding ingeslaan om eers Mauritius toe te gaan vir ’n bietjie R&R nadat hy uit die tronk gekom het. Die man het ’n visie gehad desondanks sy omstandighede of die graad van ondenkbaarheid om te bereik wat hy bereik het. I mean honestly, om die rugby World cup te gebruik het om ’n land se mense een stem te maak, was insane en genius.


“Remember to breathe. It is after all, the secret of life.” ― Gregory MaguireA Lion Among Men. Ek stem nie saam nie. Somtyds gebeur die lewe juis wanneer jy jou asem ophou. En tans hou almal hulle asem op oor Madiba se laaste dae. Jy’s nie net deel van ‘n stukkie geskiedenis nie. Jy’s deel van iemand se pad wat diep spore gelos het vir almal om te volg. Tot by die laaste tree. En dan bye te sê. 

Monday 10 June 2013

Mnr BMW se need

Eers het ek en Susan hom ontmoet by die koffieshop. ’n Ryk man vol stories van onder begin en bo uitkom. Nou versprei hy die rykdom onder mense wat dit nodig het. Mense wat hy sien potensiaal het.

What a nobel idea. Net jammer dis mense wat dit uitgedink het en nog meer jammerlik probeer uitvoer.

Ek en Susan het die man uitgeluister. Die volgende geleentheid is nommers uitgeruil. Ek is altyd huiwerig daaroor. Sodra jy vir sekere mense jou nommer gee is dit asof hulle jou nommer in persoonlike besit neem en elke dag ses SMS’e afstuur en whatsapps en die bliksem weet wat nog met boodskappies wat ek gewoonlik nie as funny beskou nie al is daar sinnetjies soos “Dis regtig funny!” bygevoeg.  Ek hou nie daarvan om gespam, gebombardeer of misbruik te word met behulp van my selfoonnommer nie. Seriously, mense moet begin dink aan hierdie goed.

Die man, kom ons noem hom Mnr. BMW (ja hy ry die nuutste een met meer knoppies as ’n Boeing 747) het ’n groot belangstelling getoon in my werk. Dis vir hom so interessant “hoe julle mense 'n bestaan maak en aan die lewe bly”.

Julle mense… Met ander woorde kreatiewe mense? Mense wat nie van agt tot vyf ’n ’n kantoor sit en werk vir iemand anders nie?

Mnr. BMW is nie getroud nie. Hy is inteendeel tien jaar terug geskei maar praat glad nie daaroor nie. So toe soos Lazarus se grafsteen daaroor.

“Klara, ek sal vir jou geld gee. Gaan skryf jy enige iets wat jy wil en ek sal die befondsing daarvoor gee. Ek help mos mense. Maak nie saak wat dit kos nie. Die dag toe ek iemand nodig gehad het, was daar niemand vir my nie. Ek weet hoe dit voel.”

Ek het so diplomaties moontlik decline.

En toe kom die eerste SMS. “Hi, julle by die koffieshop?”

En toe die volgende dag kom die volgende SMS. “In die dorp. Kry julle by die koffieshop?”

En die dag daarna. En die dag daarna.

Susan is ewe ordentlik en antwoord terug “Dit sal lekker wees,” maar teen Dag drie begin sy ook verskonings maak… “Jammer, is effens besig vandag.”

Nou kruip ons weg vir Mnr. BMW in my kombuis.

“Fokkin julle mense.”

Susan frons soos sy vir my kyk.

“Die man is ’n loner Susan. Hy het nie vriende nie.”

“Dis mos nie sy skuld nie Klara. In sy lewe kan hy nie almal vertrou nie, want hulle is net vriende met hom oor sy geld.”

Ek reken hy moet dit dan nie so vrylik aanbied nie. Susan lyk skuldig. Sy het geld aanvaar van hom om haar naaldwerk-besigheid ’n hupstoot te gee.

Haar selfoon biep. Dis Mnr. BMW wat gou by haar winkel gestop het. Waar is sy?

Ek skud net my kop en wens haar geluk. Sy behoort nou aan Mnr. BMW. Hy’t haar gekoop.

Susan is moerig. Sy dink darem nie dis so erg nie.

“Susan, hier’s hoe ek dinge sien. Oor ’n week van nou af gaan jy presies sit waar jy sit en ek gaan vir jou ’n bottel warm wax gee waarmee jou hare uit jou kop kan pluk van spyt en frustrasie oor Mnr. BMW.  En daarna gaan ek jou vriendelik herinner aan vandag se gesprek en waarskuwing. Mense soos Mnr. BMW het geen normale vermoëns om vriende te maak nie. Die enigste aangeleerde manier wat hy ken is om mense se vriendskap en respek te koop.”

Susan raak kriewelrig. Sy verpes dit om my voorspellings deur te sit. Glo erger as ’n Sondagdiens waar dominee Viljoen swaarmoedige preke afsteek oor die sondige mens en hoe warm die hel regtig is.

Dis een ding wat die skrywery my geleer het: Elke karakter het ’n need. Elke karakter het ’n want ook. Met ander woorde: ’n Karakter wil graag ’n huisie by die see hê (want), maar dit is belangrik vir daardie karakter om gerespekteer te word deur die gemeenskap (need). Needs and wants. Nog ’n voorbeeld? Ok, vat iemand soos SAUK. They need money and want people to pay their TV license. Die storie lê altyd in hoé hulle dit kry. Dwing hulle dit af, of soos in Mnr. BMW se geval, koop hulle dit? Al wat Mnr. BMW gedoen het was om die algemene mens op straat se want te bepaal en gebruik dit tans to feed his need.  Ek meen, watter mens wil nie meer geld hê nie? En wie wil regtig alleen deur die lewe gaan sonder vriende?

Susan lyk soos ’n rugbyspeler wat die bal gedrop het op die doellyn. Moerig. Sy verskoon haarself en ek sien haar nie vir die res van die week nie. Kry haar in die koffieshop. Nee, sy’t mnr. BMW se geld vir hom teruggegee. Dit was seer, want die nuwe naaimasjien kon glo enige ding met blompatrone vasnaai met die druk van ’n knoppie. Die enigste woorde wat ek Susan mee kon troos is dat dit seerder was vir Mnr. BMW om ge-unfriend te word. 

Improved

"Improved se gat Linda!"

Liewe fok. Wat gaan aan met haar vandag? Sy stry met my oor elke kleinste nietigste dingetjie. Nee, Klara dit was tweehonderd en ses miljoen rand wat Nkandla gekos het. Nee, Klara hulle het Oscar se datum uitgestel na die negentiende Augustus.

“Wat’s jou plak Linda?”

En hier gebeur die voorspelbare van ’n bedonnerde vrou…

“Ek weet nie waarvan jy praat nie, Klara.”

Ontkenning, my ou vriend, ek het jou inderdaad lanklaas gesien. Ja, right.

“Linda, asseblief, jy lieg soos iets wat jou knyp aan jou keel. Jy lyk soos iets wat jou knyp aan jou keel!”

“Al wat ek vir jou probeer sê Klara, voordat jy my liederlik beledig het, is dat ons koffie lekkerder proe vandat daar “Improved” op die label geprint is. Vir wat is jy so kwaad vir my?”

“Want jy’s ’n pyn in die gat Linda. Daar staan “pyn” oor jou gesig geskrywe en jy wil hier kom staan en lieg en sê alles is okei met jou. En almal weet wanneer daar “improved” op enige iets staan dit gewoonlik net ’n sales gimmick is.”  

“Sies vir jou Klara. Ek hoef mos nie met jou oor goed te praat wat my dalk pla nie?”

“Is jy seker? Want jy  probeer nie baie hard om stil te bly nie.”

“Klara, jy moet ophou om mense so te lees. Jy gaan straight hel toe.”

Bingo.

“Linda dit bekommer my dat jy alles so opkrop. Dis nie goed vir ’n mens nie.” Liewe fok dis uitputtend om mense aan die praat te kry. My nuuskierigheid is in flarde.

Linda kyk my kamma geskok aan. En toe breek sy stukkie vir stukkie voor my.  Dis moeite om so ’n groot masker op jou gesig geplak te hou. Die effort is uitmergelend.

Sy en Peet  het dinge opgepatch na hy oor die draad geloer het. Hy’t weggespring met ’n bang. So bly en so dankbaar en so lief. Sy was aanvanklik in die hemel. ’n Vrou wat geag word ver bo die waarde van aardse besittings en die bomenslike deursettingsvermoëns om nooit weer ander pad te kyk nie, want sy is genoeg. Maar sy voel dit nie meer nie. Al wat sy voel is plig. Deesdae is ’n geforseerde glimlag sy grootste deursettingsvermoë. En sy kan sien dis moeite.

Sy dink nie hy loer net anderpad nie. Sy vermoed hy’t oorgesteek.

Ek reken dis tyd dat sy die draad knip. Linda is onkant gevang met my oortuiging. Die stories op die dorp klop met Linda se voorgevoel. ’n Vrou kan sien wanneer sy smile nie tot by sy oë kom nie. Maar Linda skop vas. Hy kan weer daai effort maak soos voorheen. Hy kan weer van vooraf belowe.

Ek wil weet hoeveel keer reken Linda gaan sý die een wees wat “improve” terwyl hy net ’n valse advertensie is?

Linda weet hoe dit die laaste ruk aan haar getorring het. Dit moes getorring het.

Sy kyk weg toe ek dit noem. Die mens kan net vir so lank sober deur die lewe gaan. Daarna druk reality jou voor ’n keuse. Either lieg vir jouself oor jou imaginary lekker koffie of sy figure uit die maatskappy bedoel eerder hulle het ’n way cheaper manier gekry om kostes te bespaar en dit steeds koffie te noem.

“Ag, fokkit Klara. Kan hy nie maar net bedoel wat hy belowe het nie. Hoekom is ek nie genoeg vir hom nie?”


Maar daai een kon ek haar nie antwoord nie.   

Thursday 30 May 2013

Die friendly reminder

Elsa is in ’n toestand. Ek reken ek blaf nie meer soos ’n gekastreerde hond nie en vermoed ek sal naasteliefde moet betoon vandag toe sy opdaag met haar sigaret reeds bewerig in haar mond.
Sy trek die kooltjie rooiwarm in die kombuis en voor die ketel gekook het, het sy reeds haar volgende zaan gedonkie.

Ek wil weet hoe gaan dit met haar man se menopause?  Sy waai dit weg  en blaas die rook deur haar woorde. Hy fluit steeds vir meisies uit sy bakkie en doen steeds elke oggend vyf en dertig pushups. Actually begin dit haar nou grensloos irriteer. Vir my sou dit ook. Jou man wat homself soos ’n aap uit ’n bakkie gedra. Nee, korrigeer sy my, sy steun-en-kreun- geluide elke oggend is genuine ’n gatkramp. As dit vir hom so ’n straf is, hoekom doen hy dit dan?

Ek sien.

Elsa roer haar koffie effens rof en haar een knieg wip senuweeagtig op en af. Maar wat is dit dan wat Elsa so op hol het?

Elsa vat ’n sluk koffie asof sy ’n konferensie gaan toespreek.  

“Ag, fokkit Klara. Die Kerk het my gevra om Sondag ’n lied op die kitaar te begelei.”

En haar probleem is?

“Ek speel nou maar eers ’n fokkin maand Klara!”

Dit is waar. Elsa het begin kitaarlesse neem weens haar man se menopause om hom op so ’n manier terug te kry as sy klein stukkies musiek oor en oor en oor en oor twang. Haar boodskap aan hom om sý kak te stop. Persoonlik dink ek haar deursettingsvermoëns  wakker sy prostaat aan.

Ek reken Elsa gaan fine wees. Dis immers vir kerkmense. Niks om oor te worry nie. Elsa gluur my oor die koffiebeker aan. Sy reken ek moet ook sommer my kak stop oor kerkmense.

“Maar waaroor wil jy nou stres Elsa? As jy ’n fout maak, is jy onmiddellik vergewe? Ek meen, dis mos nie what a bitch we have in Jesus nie!”

“Klara! Tel jou woorde for fuck sakes! Jy weet dit werk nie so nie al speel jy vir die Pous. Fok my bene bewe net as ek dink aan al daai mense.”

“Maar dis net mense! En jy’s een van hulle.”

“Somtyds is goed complicated Klara. Hou op om alles so te vereenvoudig. Jy sien nie hoe hulle vir tannie Ralie aangluur wanneer sy die orrel opfok nie. Dis sulke suurgesigte wat boontoe staar. Sy moes al mespunte in haar rug gevoel het. Sy bly ook nooit vir tee na afloop van die diens nie.

Maak nie saak wat ek vir Elsa probeer sê het nie, sy was een bol senuwees en is meer gestres daar weg as toe sy opgedaag het.

Daar was net een ding oor om te doen. 

Ek het my trots gesluk en satan se niggie geskakel en ’n gratis kolom aangebied vir die local koerantjie. Weens geskiedenis het die “editor” (haar nuwe bynaam van my) hart en mond belowe om nooit weer enige van my woorde te verander nie.

En toe gaan skryf ek ’n stuk oor vergifnis en hoe min dit gebeur. Die enigste plekke waar ek dit nog mooi sien gebeur is op koerantblaaie wanneer slagoffers hul aanvallers vergewe of Amor en Joost hand om die testament is of Steve Hofmeyer en Anton Goosen mekáár vergewe vir hul musieksmaak asook die uitvoering daarvan.  En ek weet die local koerantjie kom uit op Vrydae.

So toe gebeur wat ek gehoop het, gaan gebeur. Die dominee strip sy moer en sorg dat sy hele diens net oor een woord gaan en dis vergifnis en die vals predikers daar buite wat die christendom wil ontsier met leuens (a.k.a  ék).

En Elsa speel nie te kak nie, maar maak hier en daar gruwelooslik foute. Nietemin spring haar man aan die einde op en lyk presies soos wanneer sy rugbyspan ’n drie gedruk het. Dit fluit en cheer trots op sy vrou se vertoning.  Selfs die orrelspeler was genooi vir tee na afloop van die diens.


Ja. Soms surprise die mens my nog met iets nice. Al wat af en toe nodig is, is iemand wat hulle ’n friendly reminder gee.  Ok?  

Wednesday 29 May 2013

Lus, demmit. Dis lus!

“Wel, dis een versus zero vir vrouens!” en ek roer my laaste slukkie koffie.

“Klara wanneer gaan jy dokter toe? Jy klink soos ’n trekker wat backfire.”

“Man, dokters charge jou toe moer in gone en dit net vir ’n ligte borsverkoue.”

“Ek wil nie weet hoe klink jou swaar borsverkoue as jy hierdie een as lig afmaak nie.”

Susan karring aan my.

“Terug na die punt wat ek wou maak,” probeer ek sarkasties voortstu maar ’n hoesbui oorval my. Fok ek haat dit om siek te wees. Daar is niks in die lewe wat my ouer laat voel as siek-wees nie. Dis nie die pyn en die ongemak nie. Dis die slowing down, die watte-kop, die klank wat jou lyf maak wanneer alles nie 100% klopdisselboom tick nie. Ek voel soos ’n virus, gereed om ander plat te trek met kieme.

“Ek’s trots op Breytenbach en die onverwagse regverdige uitspraak in haar sake. Deesdae voel alles so gevlek met leuens, jy weet nie of jy die patetiese joernaliste se soetsappige stories kan glo of die glibberige politikus wat sy eie belange eerste stel nie. Check nou hierdie Gupta gemors byvoorbeeld.”

“Mens kan sien jy’s siek. Jy’s weer ekstra bedonnerd.”

“Nee,” en nou raak ek gatvol na die herhaalde verwysings na my lyf asof ek ’n vergete skool-kosblikkie is met gemufte brood daarin. “Wat my wel bedonnerd maak is hierdie artikel wat ek gister gelees het op die internet. Hierdie veertienjarige seun wat sy ma, ouma, sewejarige broer en drie maande oue babasussie vermoor het met ’n byl. Nou’s dit weer satan en drugs se skuld.”

“Ja, maar daai mense is maar so deurmekaar. Hulle offer dan katte en al sulke kak goed.”

Ek’s lus vir ’n fight.

“Bullshit. ’n Veertienjarige kind wat vier mense met ’n byl vermoor is meer as net ’n satanis en drug user. Fokkit, hoekom moet alles so verduidelik word en voos geblame word. Kak man, die kind is duidelik die kluts kwyt.”

“Haai Klara, hoe kan jy dit sê? Dis ’n kind.” Susan skuif ongemaklik rond in haar stoel en trek ’n sigaret uit haar pakkie.

Ek besluit om die ketel aan te sit vir nog koffie. Susan kyk my effens bekommerd aan en dan na haar selfoonhorlosie. Sy kan nie te lank bly nie. Kinders en wasgoed. Ek voel ’n veer. Ek soek my soapbox.

“Hierdie blame shifting moet end kry. Die regering doen dit met apartheid. Die dominee blame die duiwel vir sy gemeentelede se swakhede soos owerspel. Onderwysers blame opvoeding vir swak skoolprestasies. En ons? Ons blame enige ding wat bene het om te hardloop. Drugs, bose geeste in die lug, heavy metal, kak ouers, selfs hoë crime syfers en vrees kry die skuld wanneer ’n man die besluit neem om ’n paar skote deur sy badkamerdeur te skiet. Kak!”

Susan sug en hou moedeloos haar leë koffiekoppie na my toe. Sy wil weet wat mense dan eintlik moet blame.

“Die ruggraat is besig om uit te sterf, Susan. Niemand staan op en sê: ‘Sorry ouens, maar dit was ék’, nie. Dis asof die mensdom onbewustelik die seven deadly sins wil verminder na ses.”

Susan verstaan nie. Sy’s nie katoliek nie.

“Lust, Gluttony, Greed, Sloth, Wrath, Envy, Pride. Die kernwoorde van enige goeie storie, by the way. En die mensdom probeer van Lust vergeet.  Niemand wil eenvoudig klink en sê: ‘Want ek was fokkin lus’, nie. Dit pis my af.”

“Fokkit Klara, ek dink jy yl. Jy moet regtig dokter toe gaan. Hoe dink jy gaan dit klink as daai kind moet omdraai en sê hy was lus om vier mense met ’n byl dood te kap. Of die regering omdraai en sê hulle was net eenvoudig lus om korrup te wees. Of Oscar wat hoofopskrifte maak want hy was lus om iemand op ’n toilet te blaas. Niemand sal so stupid wees om dit te sê nie.”


My point exactly.  Niemand het die ballas om eerlik te wees nie, want somtyds klink die waarheid te eenvoudig en stupid om …wel, waar te wees. Die verskoning moet die tragedie match om berusting te veroorsaak. Dit was nie net ’n mal versteurde kind wat vier mense van ’n afstand van dertig sentimeter sy mense soos diere doodgekap het nie. Nee, dit was iets veel ergers as dit. Dit was satan. Dit was iets wat hom buite beheer gedwing het. Dit was vrees. Dit was die bose geeste in die lug. Hierdie land sal net gesond word wanneer ons besef daar’s nie bose geeste nie. Daar’s somtyds iets so eenvoudig soos lus en dit vat ’n man met ’n ruggraat om daardie eenvoudigheid te erken.

Thursday 9 May 2013

Die Pop


Sy sit met haar strooitjie in haar mond. Kort-kort, met ’n sagte “flick”, skuif sy die een haarsliet oor haar skouer met haar gewrig. Dainty. Haar mond lyk soos ’n roosknop gevou om die strooitjie. Haar oë kyk altyd ver. Op ’n manier is hulle nog vol vrae. Maar daar’s ook trots, verwondering, vrees en selfs woede wat ’n onverwagse twinkle gee. Ah, lewe. ’n Besige ene. Haar kop staan nooit stil nie. Alles word ingeneem om haar en verwerk alles in netjiese opstelle. Sy tik met haar strooitjie op die glas se bodem. ’n Paar koeldrankborrels skiet boontoe.

“Sy’s net perfek. Alles wat sy doen, is net perfek. Selfs haar hare is net perfek.”

Sy stamp weer haar strooitjie op die bodem en suig daarna stadig die groen boontoe.
“En sy het hierdie irriterende manier om alles oor te brag. Oee kyk wat het ek sopas reggekry.”
Haar wange kry ’n rooi skynsel. Haar een hand hou nou haar voorkop vas. Sy stoei. Mens kan sien hoe dit blits in haar oë. Vrae, antwoorde, nog vrae, nog antwoorde. Dan kyk sy weer oor my skouer.
“Ek meen, die ander meisie bring verlede week ’n trofee aan wat haar pa gewen het, maar hy het dit ook self gemaak. Hy’t dit gewen by ’n golfdag.” Sy kyk na my oë. “Ek weet, dis weird nè?”
Sy vryf deur haar lang hare. Daar’s ligte sonstrepe daarin. Sy druk ’n stukkie lang kuif agter haar oor in.
“Ons almal het alles wat hulle het, net nie geld nie. Dis al. Maar nou dink hulle hulle is beter as ons. Hoekom?
Dis net geld.”

Ek wil weet hoekom dit haar so eet?

“Want hulle bly brag daaroor. En alles is altyd “net die beste”.

Sy suig haar laaste bietjie koeldrank deur die strooitjie. Dit maak ’n harde geluid. Sy suig die laaste druppel onder op die bodem op, sit terug en kyk na die blou lug bokant haar kop.

“Wat wil jy hê moet gebeur?”

Sy dink nie lank nie. Sy het reeds oor hierdie vraag gedink.

“Ek wil net hê haar ouers moet aan die einde van die maand sukkel met geld. Of sy moet van haar wedstryde verloor. Of sy moet ’n toets dop of iets.” Sy dink of sy nog iets moet byvoeg. Dit lyk of sy dit lank oorweeg. “Sy kan selfs vetter word.”

Ek wil weet hoekom sy spesifiek dit wil hê?

“Ek wil hê sy moet voel hoe dit voel om ’n normale kind te wees. Soos ek. Ons almal is tien. Maar sy is mos little miss perfect. Dit irriteer my.”

“Geld is nie alles nie. Waar jy leer hoe om probleme op te los, gaan daardie kinders dit eendag deur die lewe moet leer. Soos jy verloor jou besigheid, of jou familie of jy word siek of iemand vir wie jy lief is word siek. Daarom sê hulle altyd ‘Geld kan nie alles koop nie.’ Leer eerder van hulle as wat jy dit persoonlik opneem.”
“Daar’s niks fout met my nie. Ek doen sport, ek is okei met skool, ek het maatjies. Sy’s net ryk. Dis soos my ma altyd sê ‘Dit pis haar-af’. Wel, dit pis my ook af. Ek wil net een keer voel hoe dit voel.” Sy tel haar pop van die tafel af en kam deur haar pers hare met ’n plastiek borseltjie.

Somtyds is eerlikheid belangriker as moraliteit en ek laat slip die kragwoord verby my. (Ja, al vloek ekself beteken dit nie ek like dit as jong kinders vloek nie.)

Ek kyk na haar. Hierdie kind is alles behalwe normaal. Om op so ’n jong ouderdom so geïrriteerd met die lewe te wees is gelyk fassinerend en hartseer. Dit breek my hart wanneer die lewe met kinders gebeur. Grootmense se fokkops, ryk mense se afwesigheid, arm mense se daaglikse struggle om te survive, sosiale druk, realiteit, ontnugtering en al wat jy aan kan vasklou is hoeveel verbeelding jy as kind gehad het.
Soos sy my groet gee ek haar en haar pop ’n drukkie. En op daardie oomblik hoop ek sy kan nog ’n rukkie langer popspeel as om te worry oor ’n mislike brat en hoe rykdom jou verander.