Die hel is los in die
dorp. Die bakhande is uit en die skinder loop dik oor twee moeders, hul
bloedjies en die fight wat rofstoei dames soos kinderoppassers laat lyk het.
Maar dit gaan nie oor die kinders nie. Ek weet, ek het ook daai fout gemaak.
Wanneer gaan ’n fight ooit oor die ooglopende redes?
In die een hoek het ons vir Mev. Heilig. Onder haar belt is:
A] Twee suksesvolle egskeidings
B] Vyf kinders waarvan een oorlede is (niemand weet tot vandag toe hoekom
nie)
C] ’n Vrou in diens van God en alles wat reg is
D] Bitter
In die ander hoek het ons Mev. Gelukkig
A] Een keer suksesvol geskei en een keer suksesvol getroud
B] Een dogter
C] Nie gelowige
D] Gelukkig
Soos ek nou al die Lewe
se twist en turns ervaar het, is die Lewe veral mal daaroor om kompleet soos ’n
sadis die uiterstes om ’n tafel te nooi en dan terug te sit en te kyk wat
uitbroei. In hierdie geval het hierdie twee vrouens se dogters baie goeie
vriende geword. En dis presies waar die Lewe se sadistiese kant begin ritme kry
het.
Mev. Heilig is nie
gelukkig met hoe haar lewe uitgedraai het nie. Onderhoud vir haar vyf kinders
was nooit ’n happy gebeurtenis nie en sente-omdraai was nie meer ’n kuns nie. Sy
vra nie vrae nie, want sy “weet alles het ’n doel, want Hy bepaal haar roete.” Diplomaties-plegtig-moerig
vir al die swaarkry en uitdagings op haar pad. Sy is dus gedurig in uiterste
konflik met haarself. Soos haar ooptoonskoene saam met sykouse. Absoluut
onooglik! Die fok weet hoe iemand in sy regte brein vir ’n millisekonde kan
dink dis hoe jy op straat kan verskyn.
Mev. Gelukkig is nooit
aangetrek sonder haar glimlag nie. Dit konfoes die hel uit christene, want
goddeloses moet mos swaarkry, in vrees lewe en 100% suiwer assholes wees. Jy is
mos niks sonder Sy liefde nie.
Die eerste
waarskuwingskoot het Mev. Gelukkig gevuur toe Mev. Heilig se bloedjie vreeslik
demanding in die naam van Jesus en alles wat goed is, Mev. Gelukkig se bloedjie
ontstig en ontstel het en selfs so ver gegaan het om haar een pop des moers te
breek. Mev. Gelukkig het ten einde laaste ingegryp en ’n berispende SMS afgevuur
na Mev. Heilig maar ook aan die einde van die SMS as nagedagte bygevoeg vir
hulle twee om die saak oor ’n koffietjie vas te vat.
Mev. Heilig het in stilte
dit van die hand gewys.
Maar die sadistiese
kant van die Lewe was nog nie klaar nie. Daar’s mos ’n button gepush, ’n resultaat
verkry. Why not take it further?
En so raak die twee
dogters weer vriende. Mev. Heilig en Mev. Gelukkig het die op en aflaai van hul
onderskeie bloedjies so gesinkroniseer dat hulle nie mekaar se paaie gekruis
het vir ’n paar maande nadat die dogters hul vriendskap hervat het nie.
En later het die twee
meisiekinders so lekker maats geword dat met die eerste geleentheid wat Mev. Gelukkig
’n funksie gehad het, het haar dogter, as expected van normale kinders wat
vriende is, voorgestel of sy nie by haar maatjie kan gaan oorslaap nie. Mev. Gelukkig
was aanvanklik huiwerig. Mev. Gelukkig het wel ’n kognitiewe besluit geneem om
haar dogter se keuse in vriende te ondersteun al verstaan sy dit nie noodwendig
nie.
En toe gooi die Lewe
die eerste chilli in die pot – Mev. Heilig eis eers ’n verskoning van Mev. Gelukkig.
Mev. Gelukkig was
aanvanklik flabbergasted oor die parmantige versoek, maar het weereens haar
dogter se geluk eerste gestel. Mev. Gelukkig het die volgende goed self vir my
vertel.
“Man Klara, ek het my
trots gesluk en haar geskakel, maar sy’t hierdie kak houding van ek wat haar
iets skuld. Holier than thou houding, né?” (Mev. Gelukkig hou van die woordjie “né”.)
Mev. Heilig het
weliswaar ingestem vir haar dogter om oor te slaap. Wat sy vergeet het om te
noem was dat die kind op die vloer sou slaap, maar dit was nie die ergste nie. Mev.
Heilig dôner glo die sewe soorte kak uit haar bloedjies durf hulle terugpraat,
nie luister nie of in die algemeen haar lewe verder verongemaklik as wat dit
reeds is met die plan van Bo. Sy het ook Mev. Gelukkig se bloedjie tot ewige
hel verdoem omdat háár ma die Antichris is. En Mev. Gelukkig het net daar die
streep getrek.
Soos die Lewe se
sadistiese kant momentum kry, werk dit ook so uit dat die twee moeders mekaar
na afloop van dié naweek by die nasorgsentrum raakloop.
Mev. Heilig se lip was
gebruiklik opgeswel van die natuurlike bitterheid in haar lyf. Mev. Gelukkig
het met haar perdebylyf vol woede oor die grasperk ge”motor” en voor mev. Heilig
besef wat aangaan was Mev. Gelukkig in haar persoonlike heilige spasie.
“Nee, Klara toe spat
die kak. Ek het nie vir ’n fok teruggehou nie.”
Mev. Heilig het glo
later in tale gepraat maar toe sy Mev. Gelukkig toesnou as ’n slegte voorbeeld
vir haar goddelose dogter, het die eerste lae vertikale poesklap geval. Teen
die tyd wat die nasorgsentrumpersoneel by die dames uitgekom het, was Mev. Heilig
se sykouse in flarde, Mev. Gelukkig se een nael gechip en beide dogters besig
om vir Mev. Gelukkig aan te cheer. Totale chaos. The spectacle of spectacles. Die
bakhande was warm geskinder: Jesus teen die Antichris. Good vs Evil. Of was
dit? Want wie is “Good” en wie is “Evil”? Die dorp was verdeel. Die Verligtes
teen die Uitverkorenes.
Dié wat hul
ondersteuning vir Mev. Heilig gewys het, het almal begin ooptoonskoene met
sykouse dra in weerbarstige protes teen die Onheiliges. Die ongelowiges het rock&roll
kliphard geluister.
Mev. Gelukkig sit met
haar koffie en sigaret voor my. Haar voet tik saam met ACDC se Back in Black
wat speel op die agtergrond in my kombuis.
Ek het net een vraag…Wat
van die twee meisiekinders?
“Nee, Klara. Hulle is
nog dik tjommies. Ek weet die meisiekind kry swaar onder haar ma se verwyte. Sy
speel in die geheim met my dogter. Wat ’n klomp kak vir ’n arme kind om op te
vreet.”
Ek skud net my kop en
hoop in my binneste van binnestes ’n lig gaan een of ander tyd aan want hierdie
dorp se mense is naby aan ’n jihad of note.
“Ek is gatvol vir christene wat my veroordeel
omdat ek nie ’n geloof aanhang nie, Klara. Fokkit, ons constitution sê dan
vryheid van geloof en assosiasie, maar dit bestaan net in die ink wat dit
geskryf is. Jy weet in die skool beoefen hulle steeds godsdiens né? Al is dit
teen die onderwysbeleid né? Aan die begin van die jaar vra die skool alle ouers
om toestemming te gee vir hulle kinders om godsdiensklasse by te woon. Wat
anders is dit as diskriminasie sou jy weier? Al die ongelowige kinders moet dan
tydens daardie klasse biblioteek toe gaan sodat dié juffrou die twee of drie
onskuldige kinders vir vyf en twintig minute lank kak uitkyk, haar kop skud en
opmerkings maak van die “arme verdoemdes”. Ander onderwysers target hierdie kinders om al
hul frustrasies op uit te haal. Huiswerk word uitgeskeur, toetse word strawwer
gemerk. Dis verkak! Né? En dis nie asof ons ongelowiges omdraai en mense
probeer “red” of “oortuig” om op te hou glo nie. Ons hou ons bekke en
respekteer hulle besluite. Né? Wanneer gaan hulle dit wat hulle Sondag na Sondag
verkondig begin toepas en die vervolging vir hul Herder los?”
Ons land is nog nie
ryp vir al die intensies van ons Grondwet nie. Ek het aanvanklik so gedink. Tot
ek die twee meisiekinders verby my huis sien stap het. Hulle het gelag en
gesels. En toe tref dit my. Gaan na die kinders en word wys en los die miere om
te doen wat hulle moet doen. Daar’s hoop vir môre.
No comments:
Post a Comment