Thursday 25 April 2013

Long way boontoe


Beide sit voor hulle en staar. Sy aan die linkerkant en hy aan die regterkant. Buite waai die wind effens. Hy vat sy pakkie sigarette en haal ’n sigaret uit, hou een na haar. Hy vat sy lighter. Kliek. Kliek. Kliek. Niks. Sy vat haar lighter en hou die vlammetjie na hom. Sy steek sy sigaret aan en hare ook. Beide trek diep in en blaas stadig die rook voor hulle uit.
“Ek’s fokkin moeg,” sê hy.
“Ek’s fokkin fokkin moeg,” sê sy.
Hulle trek weer aan hulle sigarette.
“Ek’s fokkin fokkin fokkin moeg,” sê hy.
“Ek’s fokkin fokkin fokkin fôôkin moeg,” sê sy.
Beide sug amper tegelyk.
“Ek is so fokkin moeg, ek weet nie hoe gaan ek opstaan nie,” sê hy.
“Ek’s so fokkin moeg, dis ’n wonder ek rook hierdie sigaret,” sê sy.
Hy blaas ’n klein sirkeltjie rook. Dit beweeg stadig vorentoe deur die lug.
Om draad te trek met protes is uitputtend. Liefde is soms uitputtend. En dreinerend, onregverdig, maar die ergste van als en meeste van die tyd, onverwags goed of sleg of albei.
“Ek’s so fokkin moeg, ek twyfel of jy ooit weer gaan seks hê.”
Sy glimlag.
“Nee wat, ek ken jou goed genoeg.”
Hy glimlag.
“Ons sal sien,” try sy flou twyfel saai, maar altwee weet.
Sy hand vou om hare.
“Jy ok?”
Haar ken sak skuins regs. Net by hom. By ander is dit altyd vorentoe, uitdagend, ’n muur.
“Ja. En jy?”
Hy knik.
“So, dis hoe ’n nervous breakdown lyk.”
“Jip,” sê hy en skud die as van sy sigaret met ’n bewerige duim in die asbakkie tussen hulle af.
“Intens.” Sy trek haar sigaret rooiwarm. “Alhoewel, ek dink nie jy verdien een nie.”
“Verdien ek darem skoon klere? Asseblief Klara. Ek dra al my onderbroeke onderstebo.”
“Ok. Noudat ek verstaan wat aangaan. Dis fine.”
Hy trek die laaste stukkie sigaret tot by die filter en blaas ietwat dankbaar die wit rook by sy mond uit.
“Fokkit.” Hy leun moeg vorentoe. “Gaan ons boontoe?”
Sy kyk vir hom.
“It’s a long way up, maar ek’s game.”
“Ek ook.” Hy gee haar hand ’n stewige druk.
Sy staan stadig van die rusbank op, trek aan sy arm. Hulle klim die trappe na hul kamer op.

Sunday 21 April 2013

Glas


Dis nou al die hoeveelste keer wat ek my vinger met ’n glas sny. Ek voel kompleet soos ’n ongeluksvoël op Thanksgiving Day in Amerika. As ek net my hande kan stil kry. Maar dit bly onrustig rondsoek, vat en klem.
 
’n Digter het lank gelede geskryf “Sy’s Petunias en ’n hand vol glas.” Nog een het ook verwys na glas as ’n spieël wat gebreek het “tussen my en hom.” En in laas week het die Boston Marathon soveel tragedie beleef met twee bomme en mense fyn en flenters gesny was deur glasskerwe onder andere.

Wanneer glas jou sny is daar ’n skok wat deur jou lyf trek. Jou eerste reaksie is om te kyk hoe diep dit is, maar ook nie. Jy kyk eers weg, kry moed en kyk dan na die bloed wat reeds begin uitsypel. Vir ’n split sekonde admireer jy die helder rooi bevestiging van lewe. Dan skrik jy vir die diepte van die sny.

Jy roep die file in jou kop op oor noodhulp en hou jou hand bo jou hart want jy kan nie vinnig genoeg ’n pleister kry of staaldruppels nie. Die enigste ding naby genoeg is altyd jou mooiste en gunsteling vadoek. Die een met die mooi kleure op. Die een wat jy deeglik uitgesoek het toe jy die besluit geneem het om jou kombuis ten einde laaste ’n tema te gee maar helaas net opgeëindig het met die een mooi flippin vadoek.

Die pyn duur gewoonlik nie lank nie. Dis eers wanneer jy jouself gedokter het en alles onder watte en pleisters begrawe is, wat jy kort-kort herinner word aan jou ongeluk met ’n dowwe pyn. An unfriendly reminder van jou stupidity and clumsiness.

Na ’n week kan jy nie meer wag nie en jy maak die pleister versigtig oop om te kyk hoe dit lyk. Dis nooit ’n mooi wond nie. Net dokters sal sê “Jou wond genees mooi.”

Ek het foto’s gesien van die Boston bomme. Mense wat soos zombies voor hulle staar met bloed oor hulle klere, ander wat angsbevange rondom hulle kyk en tegelyk dankbaar en skuldig voel oor hulle enige besering gespaar is.

In ’n oogwink het al hulle lewens onherroeplik verander met ’n onvoorsiene ondenkbare slag. Slagoffers met vrae van onskuld in hulle oë: Hoekom het hierdie gebeur? Wie het hierdie afskuwelikheid beplan en uitgevoer? Hoekom so ongenaakbaar? Hoekom met kinders en families by? Hoekom, hoekom, hoekom?

Elke nuusbulletin het elke hoek ontleed. Die tyd wat dit ontplof het, die datum, die intensiteit van die slag, die skade. Ander mense wat probeer sin maak, oplossings kry, logiese antwoorde vir die ongelooflike koudbloedige daad. Maar vrae gee kraampyne aan nog vrae. Op die ou end is dit een massiewe verwarring en ’n gat vol seer, geskokte, stukkende siele wat stukkies moet optel om van vooraf te begin. Daar’s vrees, woede, bitterheid, spyt, alles ongevraagde resultate wat skielik nuwe uitdagings is om te oorkom. Hoe doen jy dit sonder antwoorde?

Die een sny op my duim het ’n dik lagie vel geword. My duim protesteer as ek dit doelbewus probeer vorentoe buig. Onthou jy nie? Jy het ’n glas probeer vang. My ander sny op my ringvinger is nog onder die pleister, dag drie, nog vier om te gaan.

Die ding wat my die meeste optrip na die tyd is hoekom dit so ’n belangrike ingesteldheid is om goed te red. Dis ’n natuurlike reaksie om dit wat val te probeer keer. Na die tyd besef jy eers hoe gevaarlik, hoe erger dit kon gewees het.  Jy weeg die waarde van die glas teenoor die seer en die moontlike erger beserings op en dít laat jou nog meer soos ’n idiot voel. Niemand is ’n hero omdat hy ’n glas “gered” het nie. ’n Hero red tog iets met waarde.

Ek het al hierdie goed vanoggend aan gedink nadat hy vir my gesê het hy wil skei. En toe onthou ek elke oomblik toe ek dit probeer keer het en die snye vol verwyte en die skok en die seer. Die ontnugtering. Asof nugter ’n stunning kwaliteit vir ’n mens se karakter is as oppose to normale verwagte optrede. Eers wanneer jy jou nugterheid kwyt is, lyk ontnugtering skielik soos ’n dronk fokker wat al swaaiende oor jou lyk loop.

Die vrae en herinneringe word beide plekke van aanbidding en gevangenis. Vrees en hoop terwyl jy soek na left overs van liefde. Enige gebaar, al koop hy net ’n pakkie sigarette vir jou. Hoop. Tot hy sy mond oopmaak en nog ’n verwyt val uit. Jy probeer weer keer maar die volgende verwyt is reeds daar. Nog ’n slag en nog ’n slag. Teef. Jy bestaan nie meer vir my nie. Ek gee nie meer om nie. Elke slag vat nog ’n hap uit jou lyf. Na tien minute versuip jy as ’n klein krieseltjie met al die swaar aanklagtes om jou nek wat jou blou wurg. Jy soek asem maar hy was jou asem. 

Mense wat liefde verloor lyk soos iemand wie se kop in ’n papiersak gedruk word. Onthou jy die dag voor die garage en ons gehuil het om bye te sê toe jy oorsee gaan werk het? En jy snak na asem. Onthou jy toe ons verlede Dinsdag so gelag het? En jy trek harder om nog ’n bietjie suurstof te kry. Onthou jy hoe jy my elke aand bymekaarmaak in jou arms voor jy aan die slaap raak? En skielik is daar niks. En jy vrek net daar soos ’n hond.

Vanoggend op pad werk toe, toe ons in die kar klim en die radio aansit. Toe begin ’n song speel. My begrafnislied? Met die chorus wat losbars het daar trane gerol onder my donkerbril maar dit was okei want jy het nie gekyk in my rigting nie. Ons het so lanklaas net vir mekaar in die oë gekyk. Asof ons failures teenoor mekaar tussen ons kom lê het en ons net nie meer kans gesien het om daarvoor te kyk nie...

Take a load off Annie, take a load for free. Take a load off Annie. And you can put the load right on me.

Friday 12 April 2013

O Pok. ’n Pagina oor Plagiaat


Daar sit sy met haar kraalogies. Blink-blink. Ek trust nie mense wie kort-kort hulle oë so knip nie. Dis asof hulle kort-kort die lieg probeer afvee met hulle ooglede. 

Sy hoef dit nie te sê nie: Beggars can’t be choosers. Ten minste is ons op dieselfde bladsy daar. Ek’s eintlik glad nie lus vir haar gesig in my veld nie, maar weens ’n baie lang storie moet ek dit tans verduur. Sosiaal verplig.  Nee, ek word nie maklik gevang met daai hoek nie, tog, somtyds het ek nie ’n keuse nie. Nee, beter gestel, die moeilikheid van my afwesigheid oorskadu enige logika, dus hou ek maar die blink kant bo terwyl ek mismoedig ook nie die stink kant kan miskyk nie.  Fok.

Sy maak dit geensins maklik nie.”As my pa nog geleef het, sou ek hom gevra het…” Blink-blink. Shame. Daar’s weer die verwysing na wie haar pa was… Glo my, nie roem-waardig om mee te begin nie, maar dis haar klein claim to fame omdat hy net een gedig in sy lewe geskryf het oor ’n bobbejaan wat vierjariges se gunsteling gedig is om op te sê tydens Ouma en Oupa-dag. “Ag, asseblief tog Klaratjie, net een ou storietjie vir ons. Toe man. Die dorpsmense waardeer dit tog so as jy vir ons skryf.” Blink-blink.

Ek onthou die laaste keer baie goed. Daar was geen waardering van ’n sekonde oud nie. Net klagtes. Oor die klagtes het ek nie omgegee nie. My werk is nog altyd my trots. My kinders.  Soms is hulle skeeloog-ginger-downsindroom-kinders maar ek is opreg lief vir elkeen van hulle. Nie verlief nie. Daar’s ’n groot verskil.

Waar ander mense ’n mood-swing nodig het, het ek net ’n halwe woord nodig om te skryf terwyl my trots my fondasie gee. Ek is immers geleer deur die beste. Bloubloed waardes, vreeslose grenslose ondersoekinge, oneindige wysheid, ’n hart van goud en integriteit van staal.  Dis my mentor. Ek het net respek vir haar en ’n diepe diepe liefde. As mense sê hulle talent vat hulle na plekke toe wil jy nie sommer die fout maak om te dink “skryf” is ’n eilandvakansie nie. Allesbehalwe.  Jy neem die reis saam. Jy kan nie anders nie. Dis nie ’n eenkant-aksie nie, alhoewel jy mense elke dag soos CCTV kameras bestudeer. Wanneer jy jou hand waag op ’n keyboard trek jy weg in eerste rat en jy hou nie op tot jy oor die bult en by jou eindbestemming arriveer nie.  Dit beteken jy stap saam deur die dal van doodskaduwee en ervaar eerstehands alles wat met jou woorde gebeur. ’n Ervare oog sal dadelik vir jou kan sê as jy uitgechicken het. En Mev. Kraalogies is niks anders as ’n chicken nie.

“Wanneer het jy dit nodig?” Ek besef ek raak weer nasaal. Die eerste teken van my irritasie wys al tande.
“Ag, Klaratjie, môreoggend is ook ôlraait. Jy skryf mos vinnig.” Blink-blink.
Mos.  Daai woord is netso irriterend soos ’n spietkop wat agter die Mos-bos uitspring. Mos.
“Mens sal nooit sê jy’s die hoof van jou departement nie.”
Blink-blink. Shit. Het ek dit hardop gesê?
“Jy sal jou storie môreoggend hê,” probeer ek die angel uit haar vleis haal maar sy het reeds die steek gevoel.

So toe skryf ek ’n storie van ’n duisend woorde. Elke liewe woord met liefde en omgee en vertroue. My storie het gegaan oor ’n vrou wat kunsmatige inseminasie oorweeg en hoe lonely pad dit eintlik is tussen al die kritici en hul vel kritiek.  Dit was deurgetrap alle kante toe. Die finale besluit? Die leser s’n.
  
’n Week later het ek meer traag as gewoonlik die koerant gekoop. Ek blaai na die bladsy toe. Daar, in groot vet swart letters staan háár naam by my storie. Ek frons, maar dis net die begin van my gemoedsbekakking.
Sy het hier en daar ’n sin verander (ja jy ken al jou kinders se sproete op hul lywe uit jou kop uit) en hier en daar ’n banale, kaasagtige, oppervlakkige gedagte bygevoeg so asof Mev. Kraalogies  actually gebother het om die onderwerp ten volle te begryp of te verstaan. Inteendeel, dit was super cheesy soos ’n upsize meal by ’n take away instansie. Amper so soetsappig aangebied soos televisie sepies in klein babakos happies.  Te fokkin kostelik vir woorde. Kyk! ’n Cute vrou wat cute inseminasie oorweeg. Slap on some ponytails and we have a ride!

Om te sê ek was kwaad is ’n uiters onbekwame aanname.  Daarom het ek toe die volgende briefie vir haar geskryf met ’n link na my blog:

Aan wie dit mag aangaan of in hierdie geval geheel en al ontgaan het,
Jou talent wat jy op advertensieborde uitbasuin is nie die ink werd waarmee dit gedruk is nie. Jy is en sal altyd ’n parasiet wees wat op ander teer. Die rede daarvoor is omdat jy nie ’n millimeter kreatiwiteit in jou het nie. Selfs jou geboorte was ’n wonderwerk because you just happened to be there. Al wat my vrede gee is dat jy net kan bestaan weens jou luisagtige beginsels. Ruggraatlose jellievisse soos jy, het nie die moed om die waarheid vierkantig in die oë te staar nie, want dan moet jy erken jy is ’n fake en bloot eenvoudig ’n salaristjek steel. Jou titel is ’n klug soos jou talent, ’n rumor soos ’n facebook virus wat hart en mond belowe om Britney Spears regtig kaal te wys híérdie keer, maar eintlik net ’n verleentheid vir jou “gebruiker” veroorsaak. En dit is die somtotaal van jou as geheel: ’n Verleentheid. Jy gebruik woorde soos ywerige gereedskap om jou verleentheid toe te smeer. Daarom word jou woorde wapens: arrogansie, kritiek, sarkasme, neerhalende opmerkings en roem op belaglike dinge soos wie jou pa was of wat hý geskryf het.  Jy dink jy’s ’n genius omdat jy werkwoorde kan rondskuif maar jy bly ’n dief.

Jy is plagiaat se lelike sussie. Die een wat die prins nie eers mee wou two-step nie. En dis die punt wat ek by wil uitkom (nie dat ek dink jy die nodige IK het om hierdie gewigtige nederlaag ten volle te begryp nie, nevermaaind jou gebrek aan integriteit):  When you commit plagiarism, my words will never offer you love. Jy gaan altyd soos die hoer voel wat ’n getroude man naai.
Met liefde
Klara Verstom

Wednesday 10 April 2013

Mnr. Geblus se opdrag


“Ek kan dit nie meer handle nie”. Mnr. Geblus sit voor my en slurp sy koffie tragies. Sy onderlip hang oor sy koffiebeker en dit lyk bewerig. Sy hande ook.

“Nou maar vir wat lyk jy so bedremmeld,” wil ek weet.

Obviously gaan dit oor Mev. Geblus. ’n Man sal bewerig raak oor sy werksomstandighede maar nie so tragies lyk daaroor nie. Wanneer ’n man kwaad is oor sy werksomstandighede sal hy stil raak, golf speel, ekstra hard skree op die Ref. Saterdae maar hy sal nie só …gebreek lyk nie. Net ’n vrou kan dit doen.

“Man, sy was skottelgoed sewe somtyds agt keer ’n dag. Sy was wasgoed sodra my klere die vloer tref. Sy pak kaste reg, gil op my as ek die koerant op die vloer los. Selfs as ek koffie maak en ek kyk net vir ’n sekonde weg is die kasdeur agter my toe. Ek moet net keer of sy mop my by die deur uit!”

En somtyds maak ’n vrou haar huis oordrewe skoon as iets haar vreet. Hier’s beslis ’n gevretery betrokke want ek ken Mev. Geblus. Dit vat dae vir haar om somtyds te onthou van haar skeermes, haar skurwe hakskene of haar harige bolip. Maar sy en Mnr. was oor die algemeen gelukkig.

Ek begin die nodige ondersoekwerk met ’n paar belangrike vrae. Soos, wanneer laas het hy vir haar gesê sy lyk mooi, is lief vir haar, ’n gebaar van liefde getoon…Nee, nie seks nie demmit!

Mnr. Geblus skrik so groot en mors koffie oor sy baard, boek en been.

“Fokkit Klara, moenie so op my gil nie. Ek ly aan bomskok verdomp!”

Anyways, als check uit.

Ok, volgende klomp vrae.

Is daar iets wat sy gereeld mompel? Ja, vrouens hou daarvan om clues te gee in die ylerige hoop dat die man haar skimp sal vang.

Nope, stil soos ’n landmyn.

Weird. Hierdie situasie het so pas ’n rooi level bereik. Mnr. Geblus is beslis in die moeilikheid maar waaroor is ’n tergende raaisel.

Ek dink kliphard toe my selfoon ping langs my. Sedert Facebook onthou ek almal se verjaarsdae behalwe die odd one out wat nie op facebook is nie of wat onlangs facebook-selfmoord gepleeg het. Ek kyk na Mnr. Geblus.

“Wanneer verjaar sy?”

In Januarie.

Kan dit ook nie wees nie.

“En ons anniversary is eers volgende week die sewende April.”

Toe smile ek.

“Ag, Klara asseblief man. Almal vertel my jy’s met die helmet gebore en nou sit en lag jy vir my. Dis mos nie hoe jy met jou medemens maak nie.”

“Sy’s die moer in want jy het julle anniversary vergeet. Die sewende is al so drie dae terug verby.”

Dit het gelyk of Mnr. Geblus die dood vierkantig in die oë staar. Dis einste toe die oordadige skoonmakery begin het! Hy’s vrek en geskei. Nou verstaan hy ook hoekom sy al die prokureurs in die dorp omkring het in die local koerantjie. Ek moet hom help. Hy smeek mooi. Dis te laat vir blomme.

“Strip.”

“Watse goed?!”

“Ek het gesê jy moet strip. Kry ’n song soos Joe Cocker se “Leave your hat on” of Prince se Kiss, druk ’n angelier in jou mond en trek op die ritme jou klere uit en swaai daai boude. She HAS to forgive you.”

Mnr. Geblus lyk verward. Daar’s klein sweet druppels op sy voorkop. Klink vir hom vreeslik onheilig.

“Nee, dis fun. Dis die laaste vraag wat ek jou moes gevra het maar eintlik heel eerste moes gevra het. Wanneer laas het jy en mev. Geblus fun gehad met mekaar?”

Mnr. Geblus sug diep en swaar. Hy try so hard om alles reg te doen, hy moet erken hy’t skoon vergeet om dit te geniet ook.

“Sien? Ek sê jou. Die antwoord lê in stripping.”

Hy’t sy kop lank geskud. “Fokkit Klara. Die liefde is somtyds moerse uitdagend. En ek het ’n pens.”

Dis ok. Hoe meer daai boude wikkel, hoe minder gaan sy die pens raaksien. 

Tuesday 9 April 2013

Die mammies teen die mure


Vir ’n verandering is ek in ’n goeie bui. Die liefde loop soos avocado op brood in my huis- dik en lekker. Die skrywery vat my ook na plekke toe so vir ’n afleiding kies ek en my man koers na die kroeg toe Maandagaand. Net ons twee. ’n Lusmaker vir nog…avocado.

So sit ons en die enigste ander mense in die kroeg is ’n vreemde vrou en wat blyk om haar seun te wees saam met Skurf Wessels en Dodo Vermaak. Ek kan mos nie help die toekomstige moeilikheid sit dan so oop en bloot voor my nie. Ek móét kyk!

Ek sien die bar managertjie vroetel senuweeagtig elke keer as die vrou vir haar twee brandewyn specials bestel – een vir haar en een vir haar seun. Hy vat-vat aan sy nat lap en vee kort-kort die kroegtoonbank ’n nuwe weerkaatsing van hom in. Meer benard en verward as die vorige weerkaatsing van vyf minute terug.

“Klara…nee.” Dis al wat my man sê. Ek gee hom my mooiste en stoutste smile. Na ’n paar jaar saam perfect jy daai gesig net soos hy sy gesiggie vir jou gooi wanneer jy eintlik ’n nice fliek wil kyk en dis alweer blerrie rugby. En die duiwel is agter daai rugby skedule want g’n mens kan so baie rugby kyk in ’n jaar sonder om hartkwale op te doen nie. Maar dis ’n debakel vir ’n ander keer. My man notion weerloos teen my soet-sout smile en ek is binne drie tree by die kroegtoonbank.
Pietertjie stap versigtig nader. Hy vermoed ek wil losbrand op die Irish coffee, glo ’n “bitch om te maak” maar is eintlik verlig toe ek hom vra hoe dit gaan met hom.

Moet nooit die power van belangstelling onderskat nie. Dit maak deure oop.
“En die vrou, Pietertjie? Wie’s dié?”

“Nee, herre Klara. Sy sê vir my haar kind is agtien maar ek het my bedenkinge. Dis al sy derde donnerse brandy special. As Oupoot Visagie hiervan van hoor, sluit hy my toe.”

En dis asof die Here die moerder-van-liters-tiermelk oor my pad dwing, want vier sekondes later leun sy ’n meter van my af oor die toonbank waar Pietertjie laas sy ewebeeld ingevryf het.

“Nog tweetjies van daai Wellington specials please barmêên!”

Ek maak ’n vinnige geselsie oor haar mooi leopard-print skoene en ek’s in. Dis Johnnytjie. Onlangs geskors by die skool vir drugs. Ek verstaan nou hoekom Johhnytjie op ’n skoolaand saam met sy ma rondhang soos ’n flou breëbors- hoender.En obviously is Johhnytjie nie vir ’n fok agtien nie. Sy dun stemmetjie en sy herhaalde gebruik van die woord “flippinall kief” gee hom sekuur weg soos ’n sigaret in die nag op die Angola-grens tydens die oorlog.

“Nee, honest to God, daai skoolhoof het sy mes in vir single mothers,” teem sy terwyl my oog haar lae halsrok kokkenotch. Is dit ek of lyk alles moeg van haar? Selfs haar boobs lyk of hulle die gees gegee het. Asof hulle wag op ’n bra om hulle te red vir die ewige upliftment.

Pietertjie skep op die verkeerde tyd moed en klap sy nat lap op die toonbank. “Jammer, Mevrou maar voordat ek nie ’n identiteitsdokument sien nie, was dit die laaste drankie aan jou seun. Dit spyt my maar daar’s wette in hierdie land en verantwoordelike mense gehoorsaam dit soomloos.”

Pietertjie raak altyd hoogdawerend wanneer hy nervous is. In panic attack mode verstaan g’n mens hom behalwe sielkundiges nie.

“O, is jy ook so!”

“En hoe’s daai “so” waarvan jy praat Mevrou?” Pietertjie is tans besig om daai nat lap te verwurg.

“Kom Johnnytjie. Daar’s nog brandy by die guest house. Fok hierdie pretentious plek!”

Skurf en Dodo gee Pietertjie ’n vuil kyk en vra ook tegelyk vir hulle rekeninge. Sy gaan blykbaar nie alleen haar guest house kan kry nie.

Johnnytjie se mond is dik van ontsteltenis. Sy skouers hang en sy puisie-gevreet lyk so afgehaal soos ’n kleuter in kafee wat nie sweets mag kry nie.

“Was dit nou nodig om dit te veroorsaak,” wil my man weet. Die ding met die ma wat harder probeer vriendin speel vir haar laaitie het my diep geruk. Ek praat later daai aand met my man. Net ’n ruk terug het so seekoei van ’n koei in dieselfde kroeg gesit met haar baba nog in die pram en verduidelik aan haar manlike geselskap hoe sy eintlik nie aan haarself dink as ’n ma nie, want “kinders predict nie haar social schedule nie.” Waar's die dae van mammies teen die mure wat telling hou van die biere en nie self aan die suie raak nie?

And yet they have ‘em babies. Doen jouself ’n guns en ondersoek indringend jou gemoed wanneer jy twee strepies kry op jou piepiestokkie. Maak donners seker voordat jy nog iemand in hierdie wêreld inhelp wat so ’n patetiese wrak is soos jy. Gee jou kind ten minste die kans om iets anders as jou fokkops te wees. Daar’s actually mense soos ek en my man wat alles probeer om swanger te raak en terselfdertyd kyk hoe ander ma’s pis op hul kinders se hoop by being the social little sluts they are.

Thursday 4 April 2013

Die ander Braveheart


Nee, ek is nie net verstom nie, maar kontverstom. Man dis seker so drie dae terug, stap die oulike paartjie by die koffiekroeg in.

Uitlanders. Sy’s van Amerika, hy’s van Skotland. Ek kan nie dit verander nie. Dit kan net werk as ek by die waarheid hou. Ja, sy aksent het my net daar opgetrip. ’n Skotse aksent is soos Lindt sjokolade. Dit drup van die mens se lippe af en klink vreeslik onskuldig. Jy vermoed nie kilojoules is betrokke nie. Die Amerikaner aan die ander kant nie so veel nie. ’n Amerikaanse aksent klink te selfversekerd en elke woord word verkeerd geklem wat weer die pretensie uitlig, want my weer grensloos irriteer. Eintlik heeltemal onskuldig maar dit kom nie so oor nie.

Man die tweetjies lyk so verlief. En dit koer oor die rim van Suid-Afrikaanse biere en dit smootch oor die vars tjips en vis. Everrrrrything’s to die forrrrr, oh my God!
En die Skot is mooi, hoor. Lank, aantreklik, sterk kakebeen, uitgestort. Nie aanstellerig nie. Stillerig en antwoord elke vraag ordentlik en deeglik. So in control.

Ja, ons is eintlik nie gewoond aan oversees mense hier op die dorp nie. Maar ons weet daar’s baie troues by die kerkie by die spruit en somtyds is ons lucky vir die internasionale blootstelling.
Sy werk vir ’n selfoon maatskappy in Amerika. Lang blonde hare, lang hoëhakskoene, kuite wat kans sien vir ’n berg of twee. Ja, sy moes leer van buffering want by hulle bestaan die woord nie eers in hulle woordeboeke nie.

Wat ek die meeste van haar gehou het, is haar ywerigheid om nuwe goed te probeer al het haar aksent haar elke keer in die speke laat rondrol soos haar “rrrr”.  En sweet man, soos stroop. Candy. Sy’t my laat dink aan regte egte Amerikaanse candy sweeties.

Hulle het vroeër Suid-Afrika toe gekom omdat mense hulle ge”dare” het. Toe maak hulle hul verblyf sommer ’n week lank om die punt huis toe te stuur dat alhoewel Suid-Afrika ’n “very dangerous country”  is, hulle lus is vir alles wat vars en die ene avontuur is. Sy meen, sy date mos nou die Skot. Braveheart and all that. Soen-soen, handjies vashou, blink oë vol sterre. Te pragtig.

Jong liefde. Somtyds mis ek dit. Al daai butterflies en electrifying oomblikke gelaai met lus en hoop. Dis eers later wat die gemak en die “te gemaklik” kom. Soos poep orals onbehoorlik behalwe voor sy ma ens.
So stap die twee tortelduifies weer in die koffiekroeg in gisteraand. Almal is vreeslik bly om hulle te sien. Reeds ’n funksionele Suid-Afrikaanse “family” gemaak. So tuis. Soos ’n plek waar almal jou naam ken. “Yes, just like Cheers. Cheerrrrs!”

Hulle het hul Suid-Afrikaanse draught bestel en hy het ’n oproep ontvang en hy’s uit by die deur.
Tien minute later het haar onskuldige oë rondgekyk en haar selfoon was in haar hande.
Twintig minute later het sy net vir haar selfoon gekyk.

Dertig minute later het ek aangebied om hom te gaan soek. Ek het nie gedink dat dit moontlik was dat hy kon verdwaal het nie. Daar is net een straat in ons dorp. Jy volg basies die lamppale. Maar so stap ek op na die kroeg en weliswaar sit die Skot daar asof hy daar hoort. Praat land en sand met ander klomp mans wat sy aksent netso waardeer het soos ek.

“I’m sorry but you forgot your girlfriend in the coffee shop.”

“Noooooo. We had a little domestic,” het sy klanke afgestomp uitgerol uit sy mond. Dit het my verbaas. Ek weet hoe lyk ’n vrou wat sopas deur ’n “little domestic” was. Sy het nie kalmte nie en nog minder vraagtekens in haar oë. Nee, ’n vrou wat deur ’n “little domestic” is se oë is vol fronse en woede en teleurstelling. Daar was nie so iets nie. Hoop was nog tuis.

“But I think you need to come and sort it out, because she’s waiting for you.”

“Nooooo Klêra. It’s faain. She’s got money. She’s got the hotel key. She’s faain.” En as nagedagte, die doodskoot: “Just don’t tell her where I am…”

En net daar skop my kontverstommigheid in. What the fucking Braveheart is hierdie ou se probleem?

“Did you find him?” Sy het so bekommerd gelyk. En onskuldig. En verward. En out of place. Make up kan nie alles toemaak nie.

Nadat ek haar alles vertel het, het sy begin stap na die kroeg toe. Sy was geheel en al verbaas, verstrooid, destroyed…ag fok ek het elke oomblik gehaat.

By die kroeg het hulle laat weet sy het ingestap, uitgebars in trane nadat sy rug haar gegroet het en toe het sy omgedraai en uitgestap. Ek weet ek sal haar nooit weer sien nie. Ek hoop wel ek sien hom nooit weer nie. 

Nou’s ek sommer kwaad vir my man ook. 

Wednesday 3 April 2013

Die kort en die lank van Freddie se torch


Tanja stap altyd soos ’n ballerina wanneer sy beneuk is. Rug regop, voete plat en skuins en lyk altyd reg vir ’n plié.

Sy was immers twaalf jaar terug ’n ballerina gewees. Dis waar sy haar man ontmoet het. Freddie het die beligting gedoen vir hulle show. Dit was sewe jaar terug. Die director moes daardie eerste paar weke sy “beligter”  omtrent uittrap soos hy die hele tyd die kollig op haar gehou het in stede van die ster van die show.

Dit was glo alles aan haar wat lank was. Haar hare, haar bene, haar vingers, haar neklyn. Alles aan haar was lank en soepel. En ou Freddie was versot op sy dans-ballerina.
Maar sedert Freddie ’n paar probleme in sy lewe  beleef het, het sy fokus verskuif. Toe sien hy net alles wat kort is raak. Sy kort humeur, sy kortstondige tye van geluk voordat nog ’n probleem hom onkant gevang het.

Tanja het begin gatvol raak daarvoor. Ek het haar punt ingesien. Dis geweldig frustrerend wanneer al die mans in die dorp kwyl terwyl jou eie man droëbek  sit en staar in die niet in.
Maar Vrydagoggend stap Tanja platvoet, regop rug by die koffieshop in en die split in haar rok is byna by haar naeltjie.

“Is jy nie bietjie overdressed nie Tanja,” wil ek dadelik weet.
“Nie vir die doel van haar plan nie.”

Tanja verduidelik toe in detail hoe sy ’n master-plan nou bymekaargesit het en vir Freddie op terme geplaas het. Haar lys van demands is opgestel volgens sy ouderdom en haar behoeftes, die goue middeweg vir seks en raaksien.

Indien Freddie nie gehoor wil gee daaraan nie, sal sy maar begin rondkyk vir iemand wat haar wil waardeer.
“Nee, ek sal natuurlik hom nie verneuk nie. Ek’s te lief vir die ou fokker, maar what the Tsjaikovsky is fokkin fout met hom?! Ek gaan nie vir ewig rondhang en hoop hy sien my raak en waardeer alles wat ek vir hom doen nie. Dis mos totaal en al gevrek. Wat my boonop frustreer is hoe langer hy my miskyk, hoe meer kom daar iets uit my uit wat ek nog nooit vantevore bewus was nie. Ek sweer daar’s spaanse en Italiaanse bloed in my lyf.  Hoe nader ek aan 40 beweeg, hoe meer lus is ek vir die lewe en passie. Alles is passie deesdae. Eet, drink, musiek, selfs brood-sny doen sy met ‘’n heup-beweging en dan kyk sy na Freddie en al wat jy hoor is kriek-kriek-kriek!”

Ek moes Tanja eers kans gee om asem te haal soos wat sy passievol verduidelik en kla oor haar woestyn-dorre-verlate-droëbek-Freddie.

Dis toe wat ek besef wat Tanja besig is om te doen. Sy veg. Sy’t nie gaan sit en kwyn en wag om raakgesien te word nie. En as dit dan nou maar ’n paar kwylende mans vat om haar man se alarm te trigger, dan moet dit nou maar so wees. She’s feisty, that’s all. And she’s doing it in a fun way, alhoewel ek dink dis uiters blerrie gevaarlik. ’n Man se kliere is van Mars af. Onthou dit altyd. En dis dikwels nog te alien vir my om te verstaan.

Ek het Tanja se voorbeeld gevolg en my kortste mini aangetrek vir ons Saterdagmiddag-braai. Ek moet sê my man het nie geweet waar om te kyk met al hierdie ekstra stukkies bene voor die slaaibak nie. Dit het beslis ’n spark veroorsaak en ons moes die swart van die vleis afkrap later. Ek het gister vir Freddie gesien. Hy was maar redelik dikbek gewees. 

Die storie loop wyd oor hoe Tanja die lamppaal beetgekry het Saterdagaand by die kroeg. Sy’t glo soos ’n serp haarself gedrapeer terwyl sy I drove all night gesing en gehuil het. Tanja is Sondag vir ’n week na haar ma toe. Miskien het ’n man somtyds afstand nodig, eerder as die attack van lang wit bene om agter te kom wat hy verloor het, maar ek’s moer lus en gee hom ’n torch om weer lig op die onderwerp te skyn. Fokkit Freddie, it’s not math boytjie!