Tuesday 7 January 2014

Die voëltjie het gesing...

Elke oggend en elke sonsondergang sing hulle hoe hulle uitsien na die dag, net om op te som hoe die dag verloop het wanneer die son die grond soen.

Hulle twyfel nooit.

Nie soos mense nie.

So stap Sam na my toe, klaar in die tuin geskoffel met sy sweterige voorkop en sterk voorarms. Sy broekspype onder sy voetsole is 'n verslete getuienis van ver paaie van tuin na tuin. Sondagskool het my 'n natuurlike liefde gegee vir tuinwerkers. Dis hulle wat blomme saai en in die sweet van hul aangesig eienaars kleur gee aan hul status.

"Hoe gaan dit mamma?"

My gesig trek skeef en ek sit my donkerbril op.

"Pa was lanklaas hier by die huis".

Dis nie nodig om my om te spit vir antwoorde nie demmit.

"Hy werk Sam. Jy weet dit mos. Whenever hy nie hier is nie, werk hy."

"Dis reg so mamma."

Sam glimlag. Hy glimlag altyd. Dan begin hy te giggel.

"Daai voëltjie het nou-nou gesing. Ja daar bo my kop. Tjwiep, tjwiep, tjwieeeeep."

Hy lag weer.

Ek lag uit beleefdheid.

"Hy sing 'everything's gonna be alright. Don't worry."

Ek druk my hande onder my lense in en vryf my oë om die water te keer wat vir die soveelste keer die pad ken oor my wange.

"Het hulle dit regtig gesing Sam?"

"Die hele aanmekaar se tyd mamma. Hulle ..."

My selfoon bliep en ek tel dit vinnig op. Dis nie hy nie.

Dis steeds nie hy nie. Al vir drie maande nie hy nie.

Kan niks my help soek na dit wat ek verloor het nie? Hoekom is dit so moeilik vir hom om homself weer te kry en vir my om te laat gaan?

'n Snik later is Sam se arm om my skouer.

"Die voëltjies weet wat om te sing mamma. Hulle sing vir almal. Daarom sing hulle vinnig-vinnig. Hierso. Daarso. Hulle moet oralster sing."

As hulle hier kom sing het, is dit goed so. Gee mens hoop. Weet nog nie vir watter rigting nie. Vir vashou of vir laat gaan.

Either way, als sal ok wees.