Wednesday 27 March 2013

Die ma se verjaarsdag


Sy’s ’n ma. Sagste hande wat bestaan op hierdie planeet. En sagte hare. En ’n sagte stem. Alles aan haar is sag. Haar kinders het met die aartjies op haar hande gespeel tydens kerkdienste. Hulle het die aartjies gedruk en al langs die blou met hul vinger gevolg totdat dit op die punt ’n bultjie gemaak het.

Daardie sagte ma-hande het lewertjies gebraai in ’n pan saam met bietjie soet uie. Daardie hande het geglo in marmite dik smeer op ’n broodjie. Maar sy was nooit netjies op die margarien nie. Daar was skewe snye brood. Maar dit was als liefde, soos Jannie du Toit daaroor gesing het.

Haar stem het ’n twang wanneer sy sing.  Dis seker omdat sy ’n “j” voor elke hoë noot sit soos “jHelp ons o jHeer”.

Sy was op ’n baie jong ouderdom Dominee se vrou. ’n Posisie van status. ’n Voorbeeld. Mense het opgekyk na haar al was sy nie lank nie.

Sy was gelukkig om voorbeeld te speel vir ander. Sy het nie veel gehad om te sê nie. Diplomasie was haar waghond voor haar lippe. Haar sagte hand het dikwels haar kop gestut. Amper soos ’n prinses. Al haar bewegings was dainty. Haar kleredrag net boetiek-klere. Haar geheime passie – skoene. Twee kaste vol skoene. Sommige van hulle net een keer gedra.

Sy is en was nog altyd ’n goeie luisteraar. Mense kon ure met haar praat sonder dat sy enige iets bygedra het tot die gesprek. Sy het nie nodig gehad om te praat nie. Die meeste mense val net weg en praat oor hulself. Mense is maar so.

Ek het haar so leer ken van kleins af. Met die jare het sy nie ’n enkele grys haar bygekry nie. Ook nie ’n enkele plooi nie. Sy’s ’n natural beauty.

Maar so ’n mens wat stil en plegtig is en min bydra tot enige gesprek moes tog êrens iets beleef het, ervaar het, opgewonde geraak het oor -, seergekry het oor iets, teleurgesteld gewees het, kwaad geword het…enige iets! Maar sy was altyd tjoepstil. Asof daar verwag was van haar om so op te tree.

Maar daar was tog iets wat ek kan onthou wat gebeur het toe ek ’n klein dogtertjie was. My ma het ons afgelaai om by die sagte vrou te gaan speel. Dit was ’n normale skoolvakansiedag.

Haar radio was aan op Radio Jakaranda soos gewoonlik. Haar kinders het my en my broer vertel dat hul mamma verjaar vandag. Sy het net geglimlag. Vir ’n kind is ’n verjaarsdag ’n enorme dag. Dit moet astronomies wees op een of ander manier. Selfs as jy arm is, is jou teleurstelling enorm groot omdat jou ouers te arm is om vir jou ’n geskenk te koop.

Sy was stil en besig in die kombuis om ’n yskastert te maak. Maar iets aan haar sagte hande was anders. Dit het dinge hier en daar misgevat en is kort-kort drooggemaak op haar voorskoot.

Toe sy gedink het al die kinders is aan’t speel, het sy telefoon toe gestap en  haar lippe eers saamgepers voor sy die telefoonstuk teen haar oor gedruk het.

Toe hoor ek haar op haar sagte way sê: “Hallo Ben.”

Haar man se naam was nie Ben nie. Feite.

“Dis wonderlik dat jy ons nog kan onthou. Ja, dit gaan baie goed met hom en die kinders.”

Die telefoondraad het om haar sagte vinger gekrul tot haar vingerpunt blou geword het.

“Ben,” het sy amper gefluister. “Ek verjaar vandag. Kan jy asb. vir my ’n liedjie speel oor die radio.”

Eers het ek gedink dis die sadste fokkin ding wat ek nog gesien het. Wie de hel bel om self ’n verjaarsdag request te maak vir…wel,  jouself?

Na die oproep het ek haar skrikgemaak toe ek haar ’n drukkie gegee het. Sy’t my nie gesien nie. Ek het vir haar gesê dis so braaf om die radio-oom te gebel het.

Maar ek was tien jaar oud en het nog nie begryp van begeerte nie.  Dis soos ’n kind in ’n winkel wat uit die bloute van nêrens ’n piepie ontwikkel het, want “mamma ek kan nie meer knyp nie”.  Dis hoe begeerte werk wanneer jy dit vir jare onderdruk. Daar kom ’n tyd wat jy nie meer kan knyp nie. Selfs toe ek die song oor die radio hoor speel het, het ek steeds nie begryp oor begeerte nie.

I wanna wake up with yoooooou.

Al hierdie het ek eers begryp die dag toe ek gehoor het Dominee het oor die draad geloer en ’n affair gehad en uitgevang was. En toe gefire was. Ek wonder wat het van haar geword en of haar hande nog so sag is. 

Suster Klits


Hy besit die Hotel op die dorp en Woensdagaande is daar ’n vibe. Karaoke! Die dag waarvoor hy leef. Sy gunsteling woord is “klits”. Die woord wat hy verafsku is “moffie”.

In die onthaalsaal word daar elke week ’n tema keurig uitgekies en met behulp van vere en kleure ’n groot fanfare gedoente op die been gebring. Mens kan mos nie “Green green grass of home” sing as als om jou vaal en verlep lyk nie. “Klits jou hier en klits jou daar en siedaar!”

Elke week was daar ’n wenner aangekondig en hy het nooit geskroom om die prys vir homself te gee sou hy gedink het die dorpenaars het te vals gesing of nie met genoeg oemf nie. You had to give it your all or be done like Marilyn Monroe.

Op Sondae het hy minder gemince want Dominee het ’n lang gesprek gehad met hom om aanvaarbaar te wees vir sy medemens. Dominee moes onderneem om dieselfde te verwag van “die medemens” of anders gestel: die christelike beoordelaars ek bedoel…bewakers  van gister, vandag, môre en enige ander tyd of plek waar morele waardes ter sprake was.

Suster Klits en ek het ’n pad gestap. Oor berge en dale, deur hartseer en pyn, liefdesteleurstellings en verbasings.

Suster Klits was my gewete en nagte se omswoeg en sweet om antwoorde te kry op tergende vrae van die lewe. Suster Klits se probleme was deurgetrap en fyngemaal met glase en glase wyn en Bacardi’s met diet coke (hy was al op ’n paar diets gewees).

Suster Klits was my broer, my suster, my ma en my pa. Suster Klits was alleen-nagte se teenvoeter, my linkerhand, my regter breinlob, my kalmte, my vertrooster.

En toe kom Mej. Losbek op die dorp aan.

Mej. Losbek het een aand ingeklok vir die karaoke en “I’m too sexy for my shirt” geblêr oor die mikrofoon. Sy was baie vêr van daardie woorde af. Sy het ook ’n gehoorprobleem gehad. Elke keer as sy nie die man aan haar oorkant kon hoor praat nie, het sy vorentoe geleun en haar boobs het elke keer per ongeluk uitgeval. Mej. Losbek het ook geensins geweet hoe om ’n stoel te benader nie en het elke keer op geëindig met haar bene aan die weerskante die stoelpote gehaak. Wyd en welkom.

Mej. Losbek, you guessed it, was so vlak soos ’n saadjie-gaatjie wat geheime of vertroulike verhale so vinnig vertel het soos dit ingekom het by haar ore.

Suster Klits het skaarser begin raak en ek meer giftig oor Mej. Losbek.

“Warrefok sien jy in haar as pel?” wou ek die een dag skuins befok geweet het.
“Sy is nie soos wat jy dink sy is nie,” het hy gesing-sê. Hy het altyd uit sy neus begin neurie wanneer sy irritasie-vlakke die hoogte ingeskiet het.

“Maar sy’s kommin met ’n hoofletter K!”

“En ’n vriendin van my nes jy”

“Maar jy kan haar nie vergelyk met my nie. Waar’s die diepte? Waar’s die antwoorde van vrae? Waar’s die lojaliteit want sy gaan jou nog uitverkoop op ’n special Suster Klits! Hoor jy nie hoe sy skinder oor almal hier op die dorp nie? Het jy gesien wat sy met Valerie se man aangevang het? Hy was nie naby haar nie en sy loop en vertel vir almal wat ’n halwe oor het hoë hulle gepangelang het by die rivier! Valerie is stukkend oor daai slet se losbek!”

“Kyk Klara, dis eenvoudig.” Sy stem het geklink soos ’n monnik op nagmaal-Sondae. “Of jy aanvaar my vriendskap met haar, of jy het ’n probleem. Dit bly jou keuse.”

“Sy het jou verander. Jy flippin suip elke aand en val rond.”

“Dis ’n kak storie.”

“Nee, daar’s nie ’n stukkie pavement wat nie jou naam het nie.”

“Ag, Klara, hierdie is ’n mors van tyd.”

Hy was verkeerd.  Sestien jaar se vriendskap was nie alles ’n mors van tyd nie.  

Deesdae wanneer ek Suster Klits in die dorp sien…wel, die seer is te minste minder. Hy lyk gelukkig. Daar was ’n tyd wat ek kwaad was omdat ek my share-fairy kwyt is. My confidant is hoe die Engelse dit stel. Ek moet, however, myself gereeld keer om nie Mej. Losbek om te stamp met my kar nie. Dit gee my steeds joy wanneer sy op my bonnet klap en “Fokkit Klara!” skree.

Ek het net gehoor hy’t eendag vir iemand gevra hoe dit gaan met my, want “Klara praat mos nie meer met my nie.”

Nee wat, wat toegemessel is, is toegemessel. Hy het ook gekies, nes ek. Maar somtyds sal ek dinge gaan oopkrap in my kop net om weer te onthou van karaoke aande en vere en vriendskap.  

Monday 25 March 2013

Haar vertroosting


Sy wals vrolik met haar lang hare by die restaurant in. Altyd ’n sonnestraaltjie wanneer sy glimlag. Wanneer sy praat is haar stem soet en onskuldig. Sy’s tans tussen werke nadat sy by die Sondagskool klas gegee het. Sy’s pofferig maar weens al die moeite van onskuld kan en sou ’n vreemdeling haar kon opsom as een groot bondel warm liefde. En sy wil hê jy moet dit dink.

Wanneer sy lag, gooi sy haar hare oor haar skouer. Dis altyd ’n geleentheid vir haar. En as daar nie een is nie dan skep sy een.

Klokslag om 11:30 wals sy by die restaurant in vir haar eerste bottel Sauvignon Blanc. Haar gunsteling. Die leefstyl van ’n vrye siel, ’n grenslose vrou sonder ’n sweempie swaarkry van ’n minuut oud.

Teen 12:30 skop Sonnestraaltjie se tweede bottel Sauvignon Blanc af. Hier en daar het daar ’n sinnetjie of twee al geval oor hom, maar soos sy dit sê waai sy dit weg met haar hand in die lug. Sy gee regtig nie om nie. Hy is gelukkig. Sy ook. Ja, hy is baie vinnig na hul egskeiding getroud maar almal het geweet van hul affairs. Syne. Hare. Maar dis nie nodig om dit in te vryf nie. Dis maar hoe dinge uitgewerk het. Sy het ten minste die huis en die kar en ’n ou geldjie. Cheers. Tjorts. Vrolikheid vir almal.

Teen 13:15 is die derde bottel Sauvignon Blanc reeds oopgemaak. Sonnestraaltjie raak deurmekaar wanneer sy haar hare oor haar skouer gooi terwyl sy lag en wyn spuit by haar neusgate uit soos sy verstik. Sy snak na haar asem, maak haar oë groot en onskuldig en druk ’n lag uit haar keel uit. Natuurlik hoor sy dinge. Hy het haar vriende begin kontak om te hoor hoe dit nog met haar gaan. Is dit nie net weird nie! Ja, dis flippin weird! HA! HA! HA! Sy nuwe vrou kon haar ouma gewees het. Skreeulelike ding wat ’n lelike eendjie gebly het. Shame, ja, prins Charles sal dalk op haar kan verlief raak. HA! HA! HA!

Haar hande val orals in die lug rond totdat dit rusplek vind op getroude mans se knieë. Per ongeluk aanvanklik. Jy is meer as welkom om vir haar te gaan kuier. Haar stem raak sag. Sy’s eintlik baie alleen. Sy’t niks geweet toe hy haar begin date het nie. Die seksuele voorstelle, die verwagtinge, die vernederings. Hy’t haar ingebreek soos ’n perd en vergeet van die leisels om haar nek en die stang in haar bek. Hy’t haar week na week aangehits om nog meer, nog verder, nog meer bisarre onuitspreekbare dinge te waag. Vrouens, mans… Sy’t gedink sy liefde maak van haar ’n vrou, maar eintlik het hy haar gelos as ’n dier.

14:30 Sy hou haar hande in die lug en gooi haar borste rond asof dit vatlappe is. Dit lyk soos ’n  middernag-lantern-bekruip soos wat die dronk man gedrapeer word deur haar lyf. Vrouens raak kwaad en gryp hulle mans. Die eienaar van die restaurant gluur haar aan. Hy’t genoeg gehad en stap oudergewoonte nader. Too much regular in this customer. Hy weet sy gaan niks weer onthou die volgende dag nie.

Die eienaar leun oor maar besef dit gaan nie werk nie. Hy probeer haar elmboog van die getroude man se been losmaak terwyl hy so polite moontlik in haar oor fluister. Sy ignoreer hom soos n stopstraat op doopdag. Sy gee wel ’n bestelling vir nog ’n bottel Sauvignon Blanc oor haar skouer.

14:45 ’n Vrou storm woedend by die restaurant in. “Haal jou pote van my man af!” Die dronk man besef êrens onder op die bodem van liters drank iets is tans drasties verkeerd. Sy wenkbroue lig maar niks anders wil saamwerk nie. Sy vrou gryp sy arm en probeer hom optrek, maar Sonnestraaltjie probeer saam met die man en die vrou huis toe gaan. Soos ’n skoot-brakkie. Die kwaai vrou skop na Sonnestraaltjie se shins en kry op die manier haar man uit haar kloue.

Die restaurant eienaar draai moedeloos na my toe. Hy het nog nooit gesien hoe iemand hulle naam so tos kan maak dag in en dag uit nie. “Bliksem-emmer-blaas-fok-doos Klara! Nie een vrou op hierdie dorp gaan haar man meer hier toelaat nie. Sy jaag almal weg met haar fokkin gesuipery.”

Ek probeer aan hom verduidelik van hoe ’n vrou wat nie haar egskeiding kan aanvaar nie, soms so raak. Hy dink ek praat loutere kak. Sy ma en pa was geskei toe hy maar sewe jaar oud was en sy het beslis nie die hoer op die dorp geword nie.

Nee, hy verstaan verkeerd. Dis nie oor die egskeiding dat sy so maak nie. Dis haar vertroosting om uit te deel wat sy ontvang het. En somtyds werk vergifnis ook so. 

Friday 22 March 2013

Klara verklaar revolusie


Soos wat ek hier sit is ek verby my linker eierstok verstom. Dit span die kroon. Dit vat die koek. Of eintlik nie. Inteendeel, dis waar die probleem lê. Op Menseregtedag van alle dae!
So kuier vier van ons vrouens terwyl die mans stokke swaai op die golfbaan.  Nee, wag. Ek moet die agtergrond deeglik skets sodat die volle impak van my verstommenis onder die knie en bo-oor die heup kan deurdring.

Die een vrou is gorgeous. Mooi, jonk, sexy, slim, hardwerkend, bereidwillig, ietwat kort, maar absoluut pragtig. Die ander vrou is ietwat meer dramaties. Rooi lang hare, diep stem, smeulend soos kole, lank, misterieus, sensueel, you get the picture. En dan is daar die ander vrou. Rondings, a-lyn rokke werk perfek, kuite wat vastrapplek soek, a heaving bosom, donker krullerige hare, straightforward-say-it-like-it-is. Sy’s hartland-boegoe-skoonheid op sy beste.
Ok, dus verstaan almal nou hier skort niks met looks, brains of persoonlikheid nie. Dis package deals wat jongs seuns net kan droom om van te leer in die L.O. klas. Dis skoonma’s wat ’n verligte sug gee sodra haar seuntjie met so ’n vrou trou. En die lot van hulle ruik soos Parys, is keurig gegrimeer, hande en hakskene is foutloos sag geveil en nie ’n nukkerige been- of bolip- haar in sig nie.

Ok, dus is netheid en higiëne ook gecheck.
Ek staan op om koffie te maak, want ek ruik verder as Parys. Die drie het in die verlede al geleer wanneer hulle ietsie share kan ek so meegevoer raak dat ek of emosioneel saamry al die pad of daaroor skryf of albei.  Ek het op facebook gesien iemand verwys na ons soort as ’n empath.  Iemand wat die vermoë het om emosioneel saam op die staptog te gaan en dit as’t ware hul eie maak. Maar nou nie soos daai movie waar die vrou haar hare blond kleur en so wyd nie.

Ek hoor hoe my een tuinstoel ongemaklik begin rondskuif. Ek hoor hoe die een se naels vroetel in haar bangles. Ek hoor hoe die ander een nog ’n glasie sap ingooi (Sus Vastrapplek se derde glasie in ’n halfuur). Nou wag ek maar mos. As always. Soos ek die koffie uitvat, vang ek Sus Sensueel se oog.  Ek kyk haar aspris met priemende oë aan. Sy bloos.
“En nou Klara?”

“Nee, nou sê jy maar vir my. Hoe gaan dit by die huis?”
Sy gee my eers die geoefende antwoord maar ek luister met ’n ander oor. Waar plaas sy die klem? Dit GAAN goed. Die KINDERS doen goed op skool. Haar man WERK baie hard. Sy is SO bly hy kry vandag ’n kansie om te ontspan.

Die woorde wat klem moes gekry het: “GOED, SKOOL, MAN, BLY”. Sy omseil my.
Wat verder ook gebeur het, is die ander vrouens het presies op dieselfde plekke ge-mmm en ge-aaa. En nie een oog aan daai tafel praat saam nie. Dis alles van die neus af ondertoe wat ekstra hard werk om die oë weg te steek.

Tien minute later was ek verbysterd. Dit is somtyds ’n las om mense so te lees.
Al drie vrouens het weke laas ’n knypie in die donker gehad want al drie vrouens se mans werk te hard. Aldus die mans se verskonings. En net daar skop my empath uit. Ek moet keer of ek roer my koffiebeker ’n gat in.

Dames, dis tyd vir ’n revolusie. Kry jou rooiste lipstick uit en smeer daai bek van jou met mening. Gee die borste ’n super lift met ’n bra wat twee sizes kleiner is. Gaan koop ’n vibrator maar maak ’n groter fuss oor die agt pakke batterye wat jy saam met die vibrator gekoop het. Jy WIL die idee skep dat jy nooit ’n pap battery moet verduur nie. Vir ekstra fun kan jy die remote control s’n op ’n Saterdagmiddag net voor die rugby ook verwyder met ’n sexy glimlag. Smile die HELE tyd. Hierdie is nie die begin van ’n fight nie maar die begin van jou menslike regte. En staak summier om sy onderbroeke te was. Sorg dat jou huisvrou dieselfde opdrag kry. Maybe he’ll remember his tool once he smells it.
Daar is dinge in die lewe wat korter neem as tien minute. Daar’s two minute noodles, jy kan koffie maak in ses minute en sewe en dertig sekondes,  jy kan selfs ’n blok kaas van 250 gram rasper onder tien minute…maar wil jy regtig as jy seks kan hê? Dis nie die man se plek om seks te weier bloot omdat hy hard werk nie. Ons praat nie hier van ’n gym-kontrak nie. Dit vat ook nie ’n IK, ’n diep gesprek of enige ander man-gestremde issue om jou vrou behoorlik te raps nie. It’s not complicated. Inteendeel, te veel studies en logika beduie van die wonders daarvan. Vir my is dit die een ding wat jou onderskei van enige iets wat die man doen of behoort te doen in sy daaglikse handel en wandel. Jy is die enigste mens met wie hy dit moet hê. Met enige iemand anders of iets anders en dis net probleme. As hy kan shower of bad, kan hy tien minute van sy besige skedule afstaan aan jou. Vir seks. Punt en potlood-skerp klaar! As nagedagte reken ek dis dieselfde ou donner wat ook nie vir sy vrou kan vra hoe haar dag was nie.

Ek kan nie wag om te sien wat hierdie naweek gaan gebeur nie. Die revolusie begin …nou.

Wednesday 20 March 2013

Die ma wat met dooies kon praat


“Nee, ek weet nie wat dit vandag met my is nie”. Sy sit en kyk na die tuinhekkie wat squeak elke keer as die wind dit pluk ’n gee. Sy sit-lê in haar stoel, haar kop wieg op haar een hand.
“Nee, Klara, ek’s net moeg. Ek wil vir ’n uur of wat gaan skuinslê”.
“Hierdie tyd van die dag?”
“Ja, maar dis weer iemand wat op my inwerk”.  Haar selfoon ping. “Goeie fok, ek gaan hierdie kind van my iets aandoen. Sy bel en bel en bel my die hele tyd vandag.”
“Het jy ’n kind?”
“Ja, sy bly by my ma”.
“Hoe oud is jou kind?”
“Tien”. Sy druk ’n paar knoppies op haar selfoon. “Of elf”.
Sy wag vir ’n stem om aan die ander kant te antwoord.
“Wat is dit met jou vandag? Ja, ek weet dis Valentine’s day. Ja, maar moenie my so baie bel nie. Ek’s besig. Ok. Ok. Bye”.
Sy steek ’n sigaret op en blaas die rook geïrriteerd by haar neus uit.
“Nee, as ek so moeg is, dan kan jy maar weet. Die dood is naby vir iemand”.
Ek is dadelik gefassineerd.
“Nee, Klaratjie. Dit werk nog altyd so met my. Toe ek daar by Hans Tax gewerk het op sy plaas, toe breek daar mos ’n brand uit. Toe’s Rico dronk. Daai middag was ek al tweeuur in die bed. Stokflou. Ek kon nie my oë oophou nie. Almal het gedink Rico was weg vir die naweek, maar hy’t homself stil-stil paralytic gesuip. Maar toe hulle aan my deur geklop het, toe’s ek wawyd wakker”.
Sy vat nog ’n sluk koffie en vryf haar oë oor en oor asof sy die moegheid uit wil masseer.
“Daai nag het ons alles gedoen maar alles het tot op die grond toe afgebrand. En almal dink Rico is huis toe daai naweek. Eers die volgende oggend toe gaan sê ek vir hulle”.
Sy like dit as ek stilbly. Sy like dit as iemand na haar luister. Sy like dit om hierdie verskriklike storie te vertel. Haar lewe is immers een verskriklike storie lank.
“Rico was by my daai aand. Hy het alles vir my vertel. Hy’t vir my gesê hy was kas-toe gesuip. Hy en sy vrou het baklei so hy wou nie huis toe gegaan het nie. En toe stamp hy die kers om. Maar hy was so dronk hy kon net in slow-mo toekyk hoe die vlamme begin het. Eers die vadoek, toe sy overall se baadjie en the next moment die spiritsbottel. Dit was glo spectacular maar ook ’n geweldige kak gevoel wat hy toe net daar kry. Toe try hy regop kom om iets te doen en try vir iemand skree maar niks wou uitkom nie. Die rook was toe al klaar te erg en hy dink hy skree maar eintlik het die dop sy stem ’n fluister gemaak. Hy kon niks voor hom sien nie. Toe trip hy oor sy skoene. Sy vrou het altyd geraas met hom oor sy skoene wat orals in die pad lê. Toe val hy kop eerste teen die muur en toe teen die vloer. Lights-out”.
“Dis ’n terrible way to go”.
“Ja, so sê hy toe vir my daai nag ook dat ek vir sy vrou asseblief moet bel. Ek moet vir haar verduidelik hy’s nie meer kwaad nie. En sorry oor die skoene”.
“Haai shame,” is al wat ek kan uitkry.
“Bliksem tog, sal die moegheid net nie wyk nie. Ek gaat lê. Check jou môre same time, same place”.
Sy staan op en slof-slof na haar kamer toe agter die kafee.
Toe ek haar die volgende soek was sy reeds weg. Haar ma is skielik oorlede, maar sy’s eers welsyn toe oor die kind.
Soms praat mense makliker met dooies. 

Monday 18 March 2013

Haar troetelnaam


Haar naels is ongelyk en plek-plek in die lewe in gekou. Sy vat haar oogpotlood en trek versigtig ’n lyn. Sy sien ’n bietjie onderlaag het nie goed genoeg ingesmeer nie en sy vryf dit met haar lang vingers in. Sy kyk nie na haar rou wysvinger nie.

Eers het hy haar Baba genoem. Sy het gedink dis cute. Hy was ’n joernalis. Sy was ’n romanskrywer. Sy het gedink hy speel maar met woorde en taal.

Toe word sy “My huidige vrou”. Sy het al die grappie iewers gehoor.

In haar kop het sy somtyds gedagdroom van ’n onderhoud as suksesvolle getroude paartjie, stralend gelukkig en almal het wit klere aan. Wit is ’n teken van rykdom vir haar want jy het genoeg geld om dit wit en skoon te hou. En jy lyk kraakvars. Gelukkig. Stralend. Gephotoshop tot perfeksie. 

Sy meng koeksoda en suurlemoensap tot dit skuim om die rookvlekke van haar tande te probeer borsel, maar haar tandvleis brand en begin dadelik bloei. In die wasbak meng bruin water en bloed in ’n krul voor dit by die drein wegspoel. Ten minste het sy ’n bietjie afgekry, dink sy.

Toe noem hy haar “My Bruid”. Maak nie saak of sy net haar nagklere aangehad het en ’n maand laas geskeer het in die winter nie, dit het haar spesiaal laat voel. Sexy.

Sy forseer ’n glimlag om te kyk na haar witter tande. Sy druk haar vinger op die bloeiende tandvleis. Dit moet nou ophou bloei. Sy wil nie iemand laat gril net omdat sy gesmile het nie. Sy dink weer aan die tyd toe sy draadjies gehad het. Nooit gesmile nie, want nou-nou is daar êrens ’n stukkie brood wat vasgesit het.
Op ’n kursus in die vroeë negentigs het sy ’n mannekynkursus bygewoon. ’n Glimlag moet van binne af kom en jou oë ophelder.

Sy smeer rooi lipstick per ongeluk oor haar liplyn en probeer met haar duim dit wegvee.

“Shit.” Vir ’n oomblik lyk dit of sy morsig gesoen is. Of ’n malletjie. The bitch van hel.   Miskien moet sy so uitgaan. Wild gevry of stapelgek. Laat mense op straat maar self besluit. Die ironie gee haar ’n bitter trek om haar mond.

Toe noem hy haar net “Bruid”.  En “teef”, “verkeerd”, “heks”, “jou skuld”, “’n drama queen”, “gatvol”.
Hy’t vergeet van die woord “moedeloos”.

Sy kyk na haar oë. Sy probeer ’n plek in haar lyf kry wat iets moois kan onthou. Sy soek net ’n tinteling, ‘’n giggle”. Iets wat sy na haar oë toe kan stuur van binne af om die bekommernis weg te steek. Onsekerheid is die bose geeste in die lug wat haar elke dag uitdaag en wen.

Die eyeliner is te veel. Sy vat toiletpapier, frommel dit in ’n balletjie en vee haastig daaroor.

“Shit”. Sy moet fokkin fokus.

’n Maand terug het hy haar “gesig” genoem. Hul vriende lag. Hulle dink dis cute. Sy weet dit is nie. Hy moet haar voorstel as ’n joke om beter te voel oor homself en dit wat hy nie wil erken nie. Dit wat hy haar voor blame. Die “gesig”, die bewys van al sy failures, die oorsaak van al sy probeerslae en die ondankbare resultaat van al sy effort. Teef!

Haar selfoon-alarm begin lui op die wasbak. Sy kyk nog een keer in die spieël. Sy gaan haar donkerbril opsit. By die werk sal sy die hele tyd kyk vir haar rekenaarskerm. Sedert hy sy werk verloor het, moes sy weer ’n kantoorwerk aanvaar. Die moeite om elke dag jouself weg te steek vir mense is uitputtend. Dit maak haar angstig.

Nee, moenie nou dink aan dit nie. Fokkin fokus demmit.

Sy gryp haar handsak en waai vir haar buurvrou wat ewe haastig uit die garage reverse.

Haar kar verdwyn tussen die see van ander karre ’n blok verder.

Daar’s baie van hulle tussen ons. 

Steak vs Worsie


Hy praat nie maklik nie. Hy’s meer gemaklik daarmee om te kyk as te praat. So het ek hom opgesom by ons kroegie op die dorp. Sy plek. Hy’t so 5 jaar terug hier kom intrek en lewe van dag tot dag om mense drank te gee en te kyk. Besige oë. Soekende oë.

Een aand het hy so bietjie oopgemaak teenoor ’n ander ou. Sekere mans praat mos net sekere stories teenoor vrouens wanneer die bier koud en volop is en die lus daar is. Maar ek het hom amper nooit lus gesien vir enige girl nie. Nie eers die uiters gewillige dames op die dorp wie se lus uitgehang het soos ’n tipiese tagtigs onderrok nie. He kept it together most of the times. Daar was wel  ’n paar aande wat hy loud geraak het. Dan het sy lastige systappie ingeskop, sy heupe ernstig rukkerig agter die ritme van die Beach Boys se songs aangekarring en hy gehuil het soos ’n wolf. “Ahoooeee, surf surf surf surf your t-bone awaaayyyyy doem doem doem yeah!” Dan het die polisie gekom want ou tannie Greyvenstein het altyd ’n probleem gehad sou iemand die dag oor-vriendelik wees.  Shame, sy’s ook ’n week terug skielik stil en plegtig hemel toe. Haar gehoorapparaat was langs haar bed gekry.

Dié aand wat ek per abuis (as usual) effens oorgeleun het, kon ek hoor hoe hy die sad verhaal vertel het van sy grootste fokop van sy lewe.

In kort - Hy was getroud. Hy sal nooit hul troudag vergeet nie. Daardie dag het hulle vir mekaar gesmile. En sexy. Amper verbaas oor dit wat hulle sopas reggekry het.  En trots. Sy was net goed vir hom. Maar as ’n man elke dag steak eet, raak hy gewoond aan die geur, die smaak, die look. En toe word hy slim en hardegat. Net oor hy kon. En toe verloor hy haar. Hy dink baie terug. Oor hoe hulle lank gelede was voor hy slim-meneer geword het. Hy verlang veral haar gemaklike bereidwilligheid om goed te wees vir hom. Lank gelede was niks te veel moeite nie. Vandag is alles vir hom moeite sonder haar. Vandag is dit wat hy kan kry nie ’n patch op wat hy gehad het nie. Dis soos om te settle vir ’n worsie terwyl jy gewoond was aan steak.  Sy vergelykings was altyd in pub-lunch terme.

Toe ten einde laaste ontmoet hy ’n girl met ’n trippie Jo’burg toe. En dis net ’n skaam glimlag voor en ’n skaam glimlag agter. Maar hy praat nie maklik nie. Hy kyk net. En later het sy oor naweke kom kuier in die hoop dat hy sal praat. So hoor ek hoe sy in die kroeg sit en vir sy gereelde customers opgewonde verduidelik oor elke krummeltjie oopmaak. Soos die vorige naweek by Hartbeespoortdam. Daar tussen die muskiete. Hy’t gesê hy is gelukkig. Hy het bietjie gepraat oor sy bekommernisse. Sedert die myn gesny het op uitgawes kry hy nie meer al daardie pub lunches so lekker verkoop nie. Hy worry bietjie.
Sy wéét hy vertrou haar. Sy  wéét hy gee om vir haar. Hierdie is nie net ’n onskuldige flirtasie nie. Daar’s ’n connection. Sy kan dit voel.

Haar lang swart hare val oor haar skouers soos sy terugleun in haar stoel. Mooi vrou. Dit was Vrydagaand ’n week terug.

Maar hierdie Vrydagaand toe’s ek daar en sy nie.  En hy het die Beach Boys cd op repeat. Sy gewrig sukkel om sy glas regop te hou. “Surf surf surf surf surf your worsie awaaaaayyyy doem doem doem yeah!”
Sy selfoon lui. Hy korrel-kyk na die skerm en druk die selfoon met mening terug in sy broeksak. Ou Hetta met haar los onderrok en los idees en losbek en alles wat losskud, selfs haar tiete staan met hoop nader vir ’n skuurtjie teen hom. Sy gee haar mooiste smile maar dis verreweg net ’n seerower wat dit aanloklik kan vind met haar geel rook-tande. “Daar’s niks fout met jou worsie nie!”

Hy gryp haar arm en draai haar in die rondte. Hy verloor sy balans en beland teen die deurkosyn.
Sy slof vorentoe en tel hom aan sy kraag op. Nou hang die lus dik in hierdie plek. Ek kyk al die pad. Hy vat haar uit na die straatlamp en soen haar vol op die bek. Haar bene staan weier en weier. Sy een vriend strompel buitentoe. Hy tik hom op sy skouer en praat kalm in sy oor. Ou Hetta raak skuins beneuk en vloek die pel.  Die pel ignoreer haar en trek hom in die kroeg in. Hy laat hom sit voor ’n dubbel brannewyn en coke.

Sy oë kyk rond. Hy vryf gefrustreerd oor sy gesig. Sy hande wil nie op die bar-counter tot ruste kom nie. Hy kry werk daarvoor en steek geïrriteerd sy sigaret op. Met sy ander hand swaai hy sy glas wild na bo en mors op sy hemp en broek. “Surf surf surf surf surf every-fing awaaaayyyyyy doem doem doem yeah!” Sy pel klop hom op die skouer.

Skuldgevoel en lus is nie dienaars van begeerte nie. Al wat dit is, is bloot friendly reminders van dit wat jy eens gehad het. 

Friday 15 March 2013

Die boemelaar se karma


“Karma, karma is ’n bliksem my Auntie.” Die ou man sit-staan teen die pilaar en rook stadig aan sy sigaret. Sy “laaste een” soos wat hy nou al vier keer geskimp het. Sy klere is deur geskif en vol klitsgras. Sy groottoon grawe ’n gaatjie in die grond. Sy gesig so duidelik soos ’n padkaart uitgelê met plooie vir kontoere alom sy kakebeen.  “Hy was nog nooit my maat nie.”

“Mamma, wat is karma?,” vra ’n dogtertjie soos sy en haar ma verbystap. Die ma druk die kind deur die winkel se deur en mompel iets van ’n duiwelse new age beweging. In hierdie dorp word karma vermy soos ’n stopstraat op ’n begrafnis. Mens krap mos nie waar jy niks van weet nie. En op hierdie dorp is niks-weet ’n leefwyse. Hoe minder jy weet, hoe veiliger is jy.

Ek wil weet waar hy uitgevind het van karma. Hy reken dit was ’n paar jaar terug al. Ook nooit iets geweet daarvan nie. Hy was getroud met kinders en ’n werk en die hele witgepleisterde heining. Dinge was ôlraait, Af en toe sy brannewyntjie gedown, af en toe met sy vrou baklei, af en toe sy kinders vuil uitgekyk as hulle hul slim gehou het, maar hy’t nie die gode getart nie. Hy’t hom bepaal by sy pad en nooit wyd gekyk nie. Hoekom moes hy? Dis net wanneer jy ’n straat oorsteek wat jy links en regs kyk.

Toe bly hy stil en kyk vir my pakkie sigarette op die tafel. Hy sal baie lekkerder kan verduidelik met ’n skyf.
Ek gee vir hom twee en my boksie Lion matches. Hy lyk geïrriteerd toe hy dit vat by my. Elke man het sy trots al is dit deur ’n olifant stukkend getrap.

Nee, toe maak die fabriek toe. En hier sit hy sonder werk. En sy vrou verdien nie genoeg as sekretaresse by die munisipaliteit nie. En soos die geld minder geword het, het hy en sy meer en meer baklei. En toe hy weer sien, toe dink hy maar hy het genoeg gehad. Dis nie sy skuld nie. En toe kyk ’n ander vrou vir hom. En sy luister vir hom en sy verstaan beter as wat sy luister. En haar hande was altyd warm en sag. En hy’t hierdie exciting affair met haar. En dis maklik want al wat hy hoef te sê is dat hy vir ’n interview gaan. Maar sy het geweet. Sy vrou het flippin goed geweet. Dit was seker maar die ander vrou se parfuum wat in sy nek gaan lê het en wag het om discover te word. Hy kan onthou dat hy in ’n stadium gewens het sy vrou vind uit, want dan sal sy ophou baklei met hom oor kak wat nie sy skuld is nie.

En toe sy uitvind, toe vat sy nie lank om haar maaind op te maak nie. Sy’s prokureur toe. Die laatlam het dit nie goed gevat nie. Moes matriek weer oordoen. Sy laatlam het saam met sy ma gaan staan en hom die skuld gegee daarvoor ook. Sy laatlam het ook moeilikheid gemaak in die kroeg toe sy skelmpie ’n beurt gekry het by die karaoke aand. Sy was nog besig om “Stand by your man” te sing en the next fing (hy kan nie “th” nie) vlieg ’n bierbottel verby  haar kop. Daar was ’n trok vol kak wat gespat het Auntie.
Hier los sy skelmpie hom, sy vrou het die huis en die kar en nog die laatlam en daar sit hy met niks behalwe sy trots wat soos sy drinkbroer orals saam met hom gaan. As dit nie vir sy trots was nie, sou hy nooit daai eerste aand op die parkie se bankie oorleef het nie. Dis al wat hom regop gehou het, was sy trots.

En toe.

Hy grawe met sy toon dieper in die grond in en vat ’n lang trek van sy voorlaaste sigaret.
En toe…toe raak sy vrou siek. Die laatlam het hom kom sê een aand in die parkie. En toe sê die dokter sy’t kanker.

Maar wat kon hy doen daaromtrent? Die vrou het alles van hom af weggevat nadat sy hom vir alles geblame het. Sy skouers trek elke keer op as hy verskonend soek na woorde. Wat…wat moes hy gedoen het? Hy’t haar een keer by die werk gaan opsoek en toe spoeg sy amper sy oog uit want hy’s hierdie boemelaar vir wie sy haar skaam en dit voor haar werksmense. Toe gooi hy en sy trots so lekker dik vet middelvinger vir haar en hy poep kliphard en toe fokkof hy. En sy’t hom nooit weer gesien nie.

Maar twee maande nadat die laatlam toe sy matriek weer geskryf en god-genadiglik  geslaag het, toe begrawe hulle haar. Hy’t vêr eenkant agter ’n boom gestaan en gehuil soos ’n kind. Heeltemal te laat. Dis nie dat jy nie wil weet van karma nie. Hy kom haal jou wanneer jy opgefok het.

Ek wil weet of sy vrou se kanker háár fokop van karma was? Hy’t sy laaste sigaret weer aangesteek en in die grond gekyk. Eers het ek gedink hy het my nie gehoor nie. Sy hare het lank en vuil oor sy ore gehang.
Nee, sy was ’n engel. Sy het dit nie verdien nie. Dis hy wat haar so laat worry het, wat al die kwaad in haar lyf gemaak het. Ek verskil met hom. Binne-kwaad maak nie kanker nie.

Nee, maar verlange doen. Hy glo dit vas. En dis hoekom karma ’n bliksem is.

Sy oë word nat.

Dis al wat hy nou oorhet nadat sy trots gefokof het. Sy verlange vir haar. 

Thursday 14 March 2013

En toe kom mamma


Sy het haar beste gedoen om te glimlag en gelukkig te lyk, maar haar pendoppie het haar weggegee. Deurgekou. Sy het kort-kort aan haar hare gevat en dan aan haar gesig so asof sy quality control kort-kort check.

Ek het die storie saam-saam my koffiereuk geruik. Mmmmmmmmm. Jittery is mooi as jy nuuskierige is.

En 'n jittery mens, veral 'n vroumens, is mal daaroor om te eet. Ek het haar ‘n hoenderpastei in die plek van haar pendoppie aangebied bloot uit goeie mede-dorpenaarskap en haar kans gegee om behoorlik te herkou voordat sy haar storiedeur vir my oopgehou het. 

"Nee, fokkit, sy kan nie meer nie", sê sy met die tweede stuk hoenderpastei.

Kyk, sy en haar suster is deur al drie stappe van moederliefde. (Maaind you, ek het Suslief nog nie met ‘n oog gesien die hele week nie, strike dit my  soos sy dit sê. Oee, hier’s beslis iets groots beet) 

Beide susters deel glo dieselfde probleem – Hul moeder wat uit die goedheid van haar hart jou laat wens jy het die ability om verf van 'n muur af te rasper met jou tande...Oor al haar omgee, jy sien.

Haar mamma het weens die feit dat sy 20 jaar jonger lyk as haar oudste dogter die vrymoedigheid gehad om vir Oudste te sê dat sy asseblief nie haar vel moet laat agteruit gaan nie, sy die naam van die produk sal sms wat help vir split-ends, en met bekommernis in haar stem verwys na "haar oudste se maer lyfie" en hoe dit haar herinner aan hare back in the day. Maar sy het dit "bekommerd" gesê, dus weet Oudste geensins of dit 'n kompliment was nie. Sy het verder vir haar kleinkind gruwel-liefde-preke afgesteek oor hoe haar kleinkind aanvaarbaar moet wees vir haar skoolmaats en hoe haar kleinkind eintlik druk op haarself gesit het omdat sy nou vir  vier jaar agtermekaar met lof geslaag het en nou is dit maar die standaard wat sy sal moet hou. Sy het ook haar kleinkind gereeld herinner aan haar oorlede pa se swakhede soos om nie 'n goeie vaderfiguur vir sy kind te gewees het nie en dus tegnies gesproke verdien het om in die dam te verdrink nadat hy dronk daarin geval het. Sy het ook vir Oudste gesê waar haar meubels eerder moet staan in háár huis want Oudste het nie haar natuurlike oog oorge-erf toe dit by klas en styl (veral) gekom het nie. Maar haar jonger sussie, Suslief het dit ook nie ge-erf nie. Die moeder, blyk dit nou te wees, het al die talent vir haarself gehou tydens conception.

Haar ma was 48 uur in die dorp en sou NET by Oudste gekuier, maar dit was nie vir haar beskore nie.  Die moeder moes glo noodgedwonge na Suslief gaan, omdat die kleinkind histeries begin huil het oor ouma se groente-gebak, (spesiaal ontwerp om haar breinkrag te gee!). Dit  proe ook glo presies soos semels. By Suslief was daar weer ander punte van "inspirasie".

Suslief was weer ontsteld oor haar ma haar 7 koper bangles uitgekryt het as "vieslike bruinvolk-kak" en het aangebied om 'n ordentlike bangle vir haar te gaan koop. Verkieslik goud. Ons weet nou nog nie of dit oor die hoeveelheid koper bangles is of oor die keuse van koper persé is, wat haar moeder nie gelike het nie. 

Sy was ook nie tevrede met Suslief se gewigsvordering nie en het gemeen sy hoef nie so hard te probeer om so vet te bly nie. Hence Suslief en haar moeder se screaming match wat enige tennis legende sal laat kwyl het. (Ek het gehoor van die bakleiery omdat Hetta vir my die volgende dag kom vertel het van Suslief se growwe stem wat so ver trek met die woorde "Dis. My. Fokking. Tennisbiscuits!"

Ek het net my kop geskud en Oudste opreg jammer gekry. Jy kon sien sy is moertoe oor moederliefde.

Dié moeders wat ons gebaar het, het oënskynlik vergeet hoe lank terug die gebeurtenis plaasgevind het, want hul optrede is min of meer dieselfde as die van Hitler in ‘n tutu.

Ons streef ons moeders se waardigheid na en sou ons faal (wat blykbaar 'n daaglikse, amper uurlikse geval is) is hulle daar om ons te herinner dat ons ver te kort skiet. Hulle verwys na ons wonings as plekkies en na hul vriende se suksesvolle kinders (met teleurstelling en heimweë) se wonings as huise. So ook ons vervoermiddels kry die neerhalende liefdevolle term as “karretjie”.

Ons is lief vir hulle. Dit is immers ons moeders. Of moe(r)ders...

Dieselfde vrouens wie ons pa's gekies het om mee te trou en seks te hê wat 'n direkte gevolg gehad het dat ons hier is vandag.

Suslief maak uiteindelik haar verskyning met 'n pak tennisbiscuits in die hand. Sy ryg die koekies deur haar tande en die krummels spat in 3D op haar skoot. Sy probeer haar gesig ondertoe hou oor die onooglike veluitslag op haar gesig nadat haar moe(r)der haar 'n velbehandeling of soos sy dit gestel het:" 'n gesigmasker" gegee het gemaak van yoghurt, mayonaise, komkommer en anchovy. Suslief se maag is ook omgekrap en reken haar gehoor is ook aangetas. Haar selfoon ping. Oudste en Suslief kyk vir mekaar. Hulle maak tans beurte om haar te ignoreer. 

Wednesday 13 March 2013

Die spookoproep-maker


Vrees. Dit begin by die donker en versprei van daar af. Is dit nie so nie? Eerste ding waarvoor kinders gewoonlik bang word sodra die verstand terugpraat, is die onbekende. Daarna volg die vrees vir die hoeveelheid groente wat jou ma op jou bord sit vir aandete. Alhoewel ek vermoed ’n pak slae was dalk net-net voor die donker daar.

Deesdae is ons so gebombardeer met al die bisarre moorde orals in die wêreld. Op eie bodem maak Oscar opslae en veroorsaak ’n magdom mense voor hul televisies vasgenael sit weg van die atletiekbaan. Of die kind in Griekwastad. Of die ou in Amerika wat 166 aanklagtes in die gesig staar nadat hy losgebrand het op niksvermoedende fliekgangers. Die blote moontlikheid van waarheid in hierdie omstandighede koggel jou vrees-kliere met elke koerantopskrif. Met elke bespiegeling kry jou vrees ’n plukkie, ’n unfriendly reminder van wat dalk miskien moontlik kon wees.

Ek kyk om my en sien mense survive in ’n not so user-friendly omgewing, naamlik life. Wat ons almal doen om te survive verskil van die buurman langsaan se surviving skills. Jy doen dinge om dit meer bearable te maak, meer interessant, meer fun, meer exciting, selfs meer scary onder controllable omstandighede, meer vredevol,  more wholesome, less complicated. Party praat die waarheid, ander lieg hulleself in ’n beter spot in. Party lag wanneer dit druk, terwyl ander net kan huil of kwaad wees of depressed wees of teleurgesteld wees. Party kry sindrome, ander kry die Here. Filosofie, gym, seëlversameling, alles goed wat help om die unfriendliness en little unwelcome surprises van die lewe trotseer. En boeke. Soveel boeke en tydskrifte om mense te vermaak en te inspireer.

Juis oor daardie rede sit ek by ons local koffieshop en lees die Huisgenoot. Die tydskrif laat my altyd beter voel oor my eie lewe.

Terwyl ek wroeg oor een van die klaers in Dr. Adri se kolom stap sy haastig in die koffieshop in en bestel oor haar skouer ’n koffie en vetkoek. Sy gaan sit by die tafel en haal haastig haar selfoon en nog iets uit haar handsak uit. Sy sien my nie.

Sy ruil ’n selfoonkaart met ’n ander een om en skakel ’n nommer uit haar kop uit. Sy wag ’n paar sekondes en hou die gehoorstuk toe met haar hand. Sy druk haastig dood toe die waitress opdaag met haar koffie. Haar stem is effens asemrig. Sy vryf die sweet van haar hande af teen haar rok. Dit veroorsaak klein kreukels in die rooi motief op haar rok. Sy sê vir die waitress sy is eintlik baie haastig. Die waitress sê hulle sit net ekstra kaas op die vetkoek. Dis hoe sy dit elke dag mos eet? Nee, nee los die kaas en kom net met die vetkoek. Skip die mince ook sommer.

Toe die waitress weg is, neem sy weer die selfoon en skakel weer, die keer met die redial knoppie. Sy wag weer ’n paar sekondes. Druk weer haastig dood. Die waitress bring haar vetkoek en vra haar waaroor sy glimlag. Sy lag skaam. Ag, dis sommer niks.

’n Paar dae later kry ek vir Susan by die poskantoor. Haar selfoon lui. Sy kyk lank na die skerm en sug. Sy antwoord bot. “Hallo. Halloooooo! Ag, man kry net ’n fokking lewe ok!”
Natuurlik gaan ek vir Susan vra wat nou fout is. Natuurlik gaan Susan vir ’n oomblik dink of sy my moet vertel.

“Ag nee, fokkit Klara. Hier’s nou hierdie een verdomde persoon wat my elke dag skakel. Hier van twaalfuur af en dan weer net na ses saans. Ek kan dit nie meer hanteer nie. En ek kan hoor iemand is op die lyn. Ek was al by die polisie maar om dit te ondersoek is ’n helse schlep. Ek dink die blerrie persoon weet dit ook.”

Ek vra haar of sy ’n vermoede het. Susan kyk lank na my. Nou wik en weeg sy deeglik.

Sy skud haar kop. Nee. Sy skud haar kop weer, hierdie keer meer beslis. Nee. Daai hoofstuk is afgesluit in haar lewe. Sy en haar man kon genadiglik hul huwelik red na sy ontrouheid. Dit was geensins maklik nie. Vertroue kom net in 100% of 0% formaat uit. Jy kry nie 60% vertroue nie. En sy vertrou vir Peet. Hy het berou en bekeer en hy probeer regtig baie hard. Môre is dit hulle agste huweliksherdenking. Sy onderneem nou al om haar selfoon by die huis te los. Sy gaan nie haar spesiale aand bederf met hierdie mal mens wat so lastig is nie.

Almal survive hierdie lewe op sy eie manier. Party lag wanneer dit druk, terwyl ander net kan huil of kwaad wees of depressed wees of teleurgesteld wees. En dan is daar party mense wat spookoproepe maak. Vrees is ’n bliksem. Net sodra jy dink jy veroorsaak dit, wys dit jou eintlik hoe bang jyself is. En hoe bitterlik alleen jy werklik is. 

Tuesday 12 March 2013

Jaloesie, 'n Keizer met los tolle in die wind


Jaloesie is so welkom vir my soos eyelashes vir karligte. Onooglik om na te kyk alhoewel die teorie daaragter met die cuteste van bedoelings bedoel is.

Jaloesie kom mos nooit kaalgat na jou aangestap nie. Nee dis so onverwags soos ’n vyftienjarige wat van moord en verkragting aangekla word in Griekwastad oor ’n Paasnaweek. En die Keizer weet hy hardloop met sy tolle los in die wind. Jaloesie weet van jaloesie. Onthou my tog dat ek iets êrens sê oor ontnugtering.
Soos jou vriendin wat in die soetste stem beduie hoe bly sy vir jou part is omdat jy vir ’n naweek kan weggaan en sy met die grootste liefde na jou diere sal omsien. Of ’n vrou wat met lang oë kyk na jou man wanneer hy jou soen gee op straat. Of die man wat na sy pel se nuutste double cab bakkie kyk en jy as vrou nie eers kan begin verstaan hoekom hy kwyl nie. So butch.

Sit ek wat Klara is nou met ’n netelige probleem oor daai einste woord “jaloesie”. Wel, dis wragtag die enigste verskoning, want die res van die ander moontlike verklarings strook nie.

Kyk ou Olyf wat ’n blok van my af bly het opdrag by sy huisdokter gekry om aan die beweeg te kom. Olyf se oplossing daarvoor is ’n golfkar en ekstra lang ure op die golfbaan. Ek weet mos. Ek is self daar. En hy het verder so geredeneer – die afstand wat hy van sy golfkarretjie na die bal moet loop en terug is net onder ’n kilometer elke tweede dag van die week. Ek het aspris die woord “blok” gebruik aan die begin van hierdie paragraaf omdat Olyf ’n blok van man is. Altyd vriendelik en giggel as hy lag. Dan skud sy hele lyf, maar dit kom nooit tot by sy oë nie. Die toonbeeld van 100% carefree en happy. Olyf se vrou, Mev. Suur-Druif, ala wederhelf is helaas nie ooglopend gelukkig nie.

Twee naweke terug het sy na ’n “feel-positive-and-inspired-kursus” in Pretoria gegaan. Alles behalwe inspired teruggekom. Eerder meer moerig oor die aanbieding daarvan, die onsmaaklike snacks en die geld wat sy moes betaal het vir die bedrogspul. Snaaks hoe ver mense sal gaan om hul comfort zones te beskerm.
Nou sit ek by die klubhuis, drink my drinky en chat met Olyf oor sy amperste voëltjie op die derde gat en al wat Mev. Suur-Druif hoor is “voëltjie”. Skielik het Mev. Suur-Druif ’n maar moerse intense belangstelling in golf en ek moet net keer of sy wil reël vir ’n “swing-with-joy-kursus”. Die already-joy nag moertoe.

Dis nie ’n week daarna nie, toe sluip die eerste sinnetjie deur. “Klara, kyk hoe moeg lyk jy. Daar’s tot sakkies onder jou oë”. Ek erken die eerste sin het ek waardeer. Ek het dit selfs vertolk as belangstelling en omgee. Die tweede sin nie soveel nie. G’n vrou wil beskuldig word van rekmerke, spatare of sakkies onder die oë nie. Dit druis teen jou DNA in en laat jou weer met lang oë kyk na jou oorspronklike besluit om nooit onder die mes te gaan nie  (maak nie saak watse plooie op plekke vorm nie). Grace vlieg by die venster uit en broccoli word weer in kilogramme gekook saam met aandete. My arme man.

Die tweede keer was ek skrams geïrriteerd met die herhaling van ’n alreeds onnodige gesprek. Die Amerikaners stel dit so mooi vir my wanneer hulle ongeloof wil wys…Really?! Really?!
Die derde keer kon ek my golfstok met tinsel versier sien in haar hol. REALLY?!

Maar skielik het Mev. Suur-Druif nuwe energie soos wat sy met haar deursettingsvermoë ’n daadwerklike verskil wil maak aan die kwaliteit suurstof wat ek inasem. Ek staar langer in die spieël, apply Hannon se “geheime” tip vir donker kringe en sorg vir hope seks met my man. Ek sing selfs in die stort. Ek dink ewe nog met ’n skalkse glimlag aan die groot favour wat Mev. Suur-Druif my veroorsaak.

Seks, gesonde kos, happiness – thanks Mev. Suur-Druif!

Tot verlede Woensdag toe…Mev. Suur-Druif se bogey in die sandbank…figuurlik gesproke.
“Nee, herre Olyf. Kyk hoe lyk Klara! Sy lyk so moeg. Kyk daai gesig van haar. Nee, herre Klara, is jy op anti-depressante of het jy en jou man moeilikheid?”

En Olyf kyk na my soos hy altyd kyk na my – vriendelik, met ’n giggelende begeerte.  Saam met die verwyt het my ontnugtering gelyktydig arriveer.

En toe weet ek iets meer van jaloesie. Vir die ontvanger daarvan is dit altyd ontnugterend. For the giver, it’s the only way of living. Life. My space. My comfort zone. Mine. Jaloesie sal altyd iets claim onder karige omstandighede.

Ek speel deesdae net op Sondae golf wanneer Olyf en sy vrou die kollekte behartig tydens biduur. 

Monday 11 March 2013

Die betrokke ma


“’n Mens kan net trots wees op my bloedjie. Die mees intelligentste, wonderlikste, gemanierde, liefdevolste, vriendelikste, slimste bloedjie wat enige ma voor kon vra”.

So het sy haar toespraak begin daardie aand.

“Dames en Here, namens my bloedjie wil ek u hartlik bedank vir die voorreg en die eer om hier te wees vanaand. Baie dankie vir hierdie wonderlike prys”.

Toe vat sy ’n sluk water. Het ek ’n ligte bewe in haar hand gesien toe sy so vat-vat aan haar nek-serpie?

“My bloedjie ken u almal. Het u gesien hoe daar verlede week in die dorpskoerant weer verwys word na hom as die moderne geskenk van God aan ons nietige mense? Het u gesien hoe hy geglimlag het op daardie foto? Ek is so trots om sy ma te wees!”

Sy het oor haar brilraam getuur na die gehoor op soek na ’n gesig wat saamstem. Toe vat sy weer ’n slukkie water en weer aan haar nek-serpie.

“My bloedjie was van die eerste dag af ’n spesiale kind. Mens kon dit sien aan hoe hy sy lewenspad oopgekap het. Saam met sy ma se liefdevolle bystand…eintlik nimmereindigende bystand, het my bloedjie sy baan oopgekap om vandag as ’n steunpilaar vir die gemeenskap te staan. Ek weet nie almal sien dit so in nie. Maar gee nog kans. Hy is immers nog nie eers 30 jaar oud nie!” (fake ongemaklike laggie)

“En vandag is ons weer hier tesame danksy my bloedjie se inisiatief, ok mamma het weereens ook handjie bygesit…(fake ongemaklike laggie) om geld in te samel vir sy nuutste projek. Daarom, vergun my asseblief ’n paar bedankings”. 

Sy het oor haar skouer teruggekyk met ’n paar afwagtende geligte wenkbroue en voortgestu onder doodse stilte.

“Eerstens wil ek die skoolhoof bedank vir sy gewilligheid om hierdie raffle te kon hou. Daar is presies R250 000 ingesamel en ons sou dit nooit bereik het, as ons nie al ons afrol-werk en administrasie van die skool verwag het nie. Aanvanklik was daar ongeloof oor die totale commitment en deursettingsvermoë wat so ’n inisiatief verg, maar later was daar soomlose samewerking. Kom ons gee almal vir die skoolhoof ’n heerlike handeklap.”

Daar het lipstick op haar tande afgesmeer toe sy breed glimlag.

“Dan, dames, baie dankie vir julle hulp. Julle weet wie julle paartjies is.  Weinig ingesamel maar nietemin…(fake ongemaklike laggie) julle weet nou wat dit verg, né! ’n Betrokke ouer is ’n ouer wat werklik lief is vir sy of haar kind. Dis somtyds tragies om hierdie kinders te sien wie nie so gelukkig is om deernisvolle, volhoubare ondersteuning van hul ouers te geniet nie”.

Haar oë het gedwaal na haar notas voor haar. “Waar was ek laas….o ja, nou weet julle”.

“Laastens maar nie beslis nie die minste nie, julle as ouers. Baie dankie vir julle belangstelling. Eendag sal julle ook kan terugkyk en ook so trots wees op julle kinders en wat hulle bereik het in die lewe soos ek vanaand”.

Daar was iemand wat uit oudergewoonte begin handeklap het. Drie klappe en toe’s dit weer doodstil.

Sy het rondgekyk wie die ondersteuner kon wees.

“Louise! Bless your soul! Dáár is nog ’n betrokke ouer! Nog iemand wat haar kind se hand al die pad vashou, want dis wat ons moet doen as mamma’s, né Louise?! Ons stap daai ekstra 50 myl vir ons kinders al moet dit eintlik hulleself wees. Somtyds moet mens die voorbeeld uitleef vir hulle om jou voetspore raak te sien en te volg. Of eintlik dieselfde voetspore te trap nadat jy as ouer al die onnodige foute reeds in die lewe gemaak het. Om daarna nog deel van hul lewens te wees, is 'n hele nuwe uitdaging". 

Louise het haar selfoon haastig uit haar handsak gehaal, die geluidlose instrument in die lug gehou en met vinnige treetjies die saal verlaat, bloedrooi in haar gesig van skaamte. Hierdie fiasko was op die punt om te eskaleer.

“Ek moet ongelukkig om verskoning vra vir die afwesigheid van my bloedjie. Soos julle almal weet is hy deesdae so belangrik. Al die koerante praat oor hom vandat hy die een prys na die ander wen. Ek weet van julle wat hier sit stem nie altyd saam met sy werk of die sosiale kommentaar wat sy werk uitlok nie. Danksy sy sterk persoonlikheid en selfvertroue kan ek in alle eerlikheid sê dat dit hom geensins pla nie. Inteendeel, hy is min gepla oor enige iets eintlik. (fake ongemaklike laggie). Ag…

Sy het vinnig opgekyk om haar trane van haar maskara weg te hou.

“Julle moet my verskoon. Noudat my bloedjie so bekend is en almal sy naam op hulle lippe het, is dit somtyds moeilik vir my om hom te deel met die res van die wêreld. Ek was elke dag daar van sy lewe en deur dik en dun, ongeag wat. Ek het net trots in my binneste vir hom. Hy kon ongelukkig nie vanaand hier wees nie. Glo my, ek het probeer om sy skedule aan te pas, maar hy het herhaaldelik vir my gesê dis net onmoontlik.”

Sy het vlugtig en minder vriendelik na die gapende tannie in die eerste ry geloer.

“So weereens baie baie dankie. Ek kon nooit voorsien het dat ek die raffle sou wen wat ek self uitgedink, georganiseer en tot en met vanaand deurgevoer het nie. Dit was nou heeltemal onverwags. Ek is die gelukkigste ma op hierdie planeet”.

Friday 8 March 2013

Tannie Orreltjie en Oom Nee


Die eerste keer het ek gaan staan en luister in my tuin. Dit was my buurvrou aan die regterkant. Sy was sielsongelukkig. Ek kon dit hoor in haar stem. Daar was verbasing, ontnugtering en woede. Die seer het jy eers gehoor wanneer sy voor haar orreltjie gaan sit en opgeruimde christelike liedjies probeer speel het. Loof Hom met die tromme met ‘n effense drag and blues approach.
Toe slaan my kind haar bal oor ons muur in haar jaart in. Ons het vlugtig ontmoet. Tannie Orreltjie was baie vriendelik en hulpvaardig met die standaard cliché belofte om te koffie as new neighbours do. Daarna was haar ongelukkigheid meer gereeld tot dit later geswel het na ‘n daaglikse crescendo van verwyte. Nou wag Klaratjie maar, want die goed kom mos oop en bloot aangestap. Elke dag is ‘n “Dag vir die nuuskieriges” (Met fyn apologie aan P G Du Plessis).

Dit was seker ‘n maand daarna toe ek haar bewerige stem my naam hoor roep oor daardie selfde muur.
“Gee ek om? Kan ek asseblief net vinnig by haar ‘n koffie kom drink. Sy het nou dringend iemand nodig.”  Voor jy kon sê Flash ahaaaaa! was Klara daar in alle besorgdheid.

Nee sy is bitter en alleen en bitter alleen.  Tannie Orreltjie en Oom Nee staan op skei. Yes I know this crime scene. Now to establish motive.
Oom Nee word so genoem omdat jy kan sien hy wil eintlik vuurwarm seks novels skryf, maar sy gesig dit nie toelaat nie en dus werk hy vir die poskantoor al vir vyf en twintig jaar. En hy haat elke oomblik daarvan. En sy standaard antwoord vir enige iets is “nee”.  

Oom Nee het in ontevredenheid verval met Tannie Orreltjie. Jy weet, sy was eens op ‘n tyd geweldig losbandig. Ja, mens sal dit nooit sê as jy vandag na haar kyk nie, né. (Ek raak altyd senuweeagtig as mense die woord “losbandig” gebruik, want wat mense as losbandig beskou, het ek altyd gesien as ‘n tyd waar jy alles beproef en die goeie behou. Met ander woorde – ‘n lekker tyd!)
Maar dis nou waar die probleem inkom. Oom Nee is steeds losbandig. Die Here het haar vry gemaak, maar hoe meer sy vir Oom Nee bid, hoe meer skop hy daarteen. Daar’s ‘n demoon in die lug. Sy kan dit ruik. (Die demone kry ook altyd die skuld vir onverklaarbare liefdeloosheid.)

Nou is alles flenters. Hulle was van bed en tafel geskei, maar hy het eergister finaal sy Ford gevat en gery. Ek verstaan nou hoekom Bly by my Heer dus onophoudelik gespeel was met ‘n death metal approach.

Tannie Orreltjie huil terwyl sy Oom Nee se hondjie vryf wat hy daar vergeet het. Ja sy was nie sterk genoeg nie. Sy het hom gevloek en vervloek. Sy weet klank trek ver oor mure. Sy kry sommer baie skaam. Maar hy het ook die vieslikste goed vir haar gesê…soos hy hoop ‘n spul swart mans kom en rape haar. (Christelike rassiste wat mekaar dreig met violence gaan my verstand te bowe! Like really, you can’t have both.)
Hulle was vir drie en twintig jaar lank getroud. Hulle het twee seuns. Die een het ‘n hoërskool meisietjie pregnant gemaak. Sy kan hom nie oordeel daaroor nie. Sy was immers ‘n swak voorbeeld vir hom. Die mooiste kleinkind, maar nou wil die meisiekind ook skielik niks met die first-time ouma te make hê nie. Sy vermoed dis oorlat Oom Nee vir dié meisiekind se single ma begin ogies maak het. Of dis dalk maar hoe dié vrouens maar is. (Oom Nee klink vir my baie georganiseerd, keeping things tight and in the family.)

Die ander seun worship die Here. Hy is self diep seergemaak oor sy pa se onwelvoeglike lewe, maar reken as dit die enigste manier is vir vrede dan moet mamma en pappa skei.  
‘n Week later kry ek haar in die winkel. Oom Nee se Ford was ten minste twee keer daar gewees wat ek gesien het. En die orreltjie was stiller.

Is die oom nou terug? Het hy tot inkering of bekering gekom? Was daar ‘n wonderwerk gewees? Nee lag tannie Orreltjie. Oom Nee is maar moeilik as dit kom by sy klere. Die vrou by wie hy bly stryk nie sy broeke reg nie. Hy kom haal maar net elke keer sy wasgoed.

Ek dog ek verloor my estrogeen-inhoud net daar. Wat?! Jy was steeds sy wasgoed al is julle prokureurs besig om te praat met mekaar? Watter gedeelte verstaan ek nie? Die feminis in my is hyperventilating!

Sy kry hom jammer. Hy lyk verwaarloos. Sy’t reguit vir hom gesê hy stink, want hy doen. Hy’t dit nie goed gevat nie en is met sy gestrykte klere in ‘n verfrommelde bondel en 'n "fok jou " oor sy skouer glo daar weg. Die ander vrou pas hom nie goed op nie. Sy weet nou hy gaan dit nie maak nie. En daarin het sy berusting gevind. Die Here is baie goed vir haar.
Dis die weirdste goed waaraan ons vasklou wanneer ‘n hart breek. Solank Oom Nee soos 'n boemelaar lyk, voel tannie Orreltjie of sy die lewe nog in die oë kan kyk. Asof die liefde nie genoeg van sy eie suffering en opofferings veroorsaak nie, is die suffering van die verbrokkeling daarvan meer belangrik om sodoende ‘n pleister te plak en aan te beweeg vir haar.  Hoe verkak kan die lewe nie somtyds wees nie? Toemaar. Retories.

Thursday 7 March 2013

Wanneer 'n man sy moer strip


Mens kan nie altyd hierdie sad hartseer stories vertel nie. Daarom is die tema van vandag “mans” vir ‘n bietjie humor.
Is dit net ek of sit ‘n klomp couples tans vas met hul wederhelftes? Dis asof daar ontug in die lug is, of ietsie verdags in die drinkwater. En wanneer ‘n man nie gelukkig is met sy wederhelfte nie, is daar duidelike tekens daarvan.

Die een man wat ek ken, kan nie genoeg die woord “OK” sê nie.  Soos wat sy vrou hom opwen, word sy OK’s vinniger en hoër. Dit klink soos ‘n music box met ‘n  draaiende ballerina, ‘n moontlike Justin Bieber treffer “I’m ok, you’re not ok.” Die teorie waarop hy sy argument wil wen is dus: “Dit is hoe hierdie gaan gebeur en klaar.” Die word “OK” is die koninklike seël daarvan.
Ek praat nie sommer uit die huis uit nie, maar my man het weer die gebruik om my te laat verstaan dat ek eintlik niks verstaan nie. Sinne soos: “Wat jy nie WIL verstaan nie…” feature gereeld, veral as hy moertoe moeg gewerk is.  Ja, ja, vrouens “weet” mos watter knoppies om te druk. So aspris van ons om botweg te weier om ons verstand te gebruik.  Die onreg hiervan om my dinkertjie aan te skakel is vir hom net so sleg soos vetvrye kos, te min geld vir ‘n laaste dop of te oordeel aan sy histerie: strafbare man-slag.  My man se teorie om ‘n argument te wen is dus: “Jy is dom, gaan weg.”

‘n Ander vriend van my klink soos ‘n rugby-toeskouer wat kyk hoe sy span amper niks gedoen het om ‘n drie te keer nie. “Vrou….vrou….vrou-vrou-vrou-vrouvrouvrooooouuuuu!!!!! Let wel, my vriendin kan op hierdie stadium van die geveg nie aflei wat sy verkeerd gedoen het nie.  Haar man nie. My vriend se teorie hoe om sy argument te wen is dus: “Wys haar jy’s kwaad, want sy weet prrrre-sies wat sy verkeerd gedoen het.”
Ook wat verder ongelooflik fassinerend is, is ‘n man se body language wanneer hulle in hul “ander tyd” is. Party turn, turn, dip en quick-step, quick-step, turn, turn, dip en draai. Ander “bang hul koppe ritmies teen ‘n muur om visueel te wys dat hierdie beweging selfs lekkerder is as om met ‘n vrou te stry. Sommige mans praat met hulleself en maak selfs die gesprek klaar, maar laat jou daar ook nie toe om 'n kans te kry om te praat nie. Daar is hulle wat ook behendig is met handgebare. Die verskil is net dat sy vingertaal in LARGE PRINT wys: “NEEEEE….FO-HOK…..JOOOOOOU!!!!!” Ja, daai groot print. 'n Tagtigjarige kan dit gemaklik van 300m af lees.

Dis natuurlik in sterk kontras met vrouens, want soos ek die storie verstaan – as ‘n vrou die hoppende fok in is (maar soos in blind van woede) (pssssst - die ladies, nie die terte nie)  raak alles net dunner: lippe, oë op skrefies, stiller, selfs haar stem word piepklein. Sy’s maar net besig om te konsentreer en te mik broer. Soos ‘n cowboy. Sy wil kyk waar sy die volgende knoppie gaan druk. Mos.
Mans word egter swak wanneer hul  vrou ‘n regte egte Sarie Suurtiet word na afloop van sy ontevredenheids-aanbieding. Haar woordkeuses  soos “Dis fine”, “Ag maar ok”, “nou maar doen dit dan” is bloot verbale uitlatings van skok omdat meneer tekere gegaan het soos dié Boggom van die Kruger Wildtuin. Dit is nie ‘n vorm van goedkeuring, op dieselfde bladsy aanmeld of eers remotely “ek sien jou punt in”-vibes nie.  Moet nooit die dualistiese betekenis van die word fine onderskat nie. Sien dit eerder as ‘n uitdaging met epiese nagevolge.

Ons is seergemaak, gekrenk en gecharge met revenge wanneer mans hul ontevredeneheid so duidelik uitdruk.  'n Vrou sal jou terugkry. Al is dit op hoe ‘n klein skaal, maar sy gaan jou nail.
Sy gaan vergeet om jou onderbroeke vir ‘n week te was , of al jou vuilgoed wat jy orals los, netjies in jou kas pak en voorop die kasdeur skryf “NUWE ASBLIK”. Sy kan vir jou knoffel tussen die nuwe slaaiblare op jou extra lean lunch-toebroodjie smeer en jy daarna met ‘n mondvol breath-mints jou baas moet toespreek. Sy kan jou bankkaart byna verwoes en tegelyke tyd jou telefoonrekening sky high bel agter haar ma aan. Sy kan die mooiste hemp koop wat net-net ‘n size te klein is en jou maag so laat afshw laat dit lyk soos 'n double garage vir 'n Mini Coupe.  

Sy kan jou in detail bespreek met haar vriendinne. Hier moet ek tog ‘n pouse neem en die mans in die oë kyk…Menere. Dit sluit details van seks en die aan/afwesigheid daarvan baie beslis in. En terloops, terwyl sy so kla oor jou lyk sy outomaties soos ‘n saint om met jou as brombeer opgeskeep te sit.
Of… sy… kan… net… sulk... This is enough to drive you over the cliff while smiling. Horrible death by choice and loving it!

Ek weet ek het my man vierkantig moeg vir my gehad oor al die knoppies wat ek soos ‘n switch-bitch geoperate het die laaste ruk. Nommer hoeveelste jammer asseblief? Dit was maar net oor ek hom so min gesien het. Nagging en verlange is nie ver van mekaar af nie al voel dit nie so nie. Inteendeel, nagging en verlange is eintlik aangetroude familie van mekaar. Gelukkig sukkel ons om lank kwaad te wees vir mekaar. Nee ons raak te vinnig verveeld met ‘n frons. And I do love my brombeer, especially when he says “Kom ons gaan faks gou so bietjie.”  

Tuesday 5 March 2013

Die vrou met die groen oë



Ek sien die foto op facebook gister- dis 'n prentjie van 'n verjaarsdagkoek wat 'n vrou vir haar man gebak het. Bo- op die koek staan in icing sugar geskryf  : "It's 10:30. I'm tired. Here's your cake." Dis kaksnaaks. Veral as jy net-net lank genoeg saam was om te besef dat jy "at least 'n freakin koek gebak het". Somtyds wil jy net hê jou partner-in-life besef jou moeite, want die Here weet: die liefde toets als en behou die teenwoordigheid van gees om die middelvinger met icing sugar te versier. Daai is eintlik genuine liefde so week voor opmaak-tyd, daai verjaardagkoek.

Maar moenie die koekbak-vrou verwar met Mev Botox-Von-Lippe nie. Jinne het sy my nou nuuskierig gehad. Nee, hierdie vrou weet nie van koekbak nie. Dis ver benede haar. Hierdie vrou praat in staccato. En eerlikwaar, vir my is haar gesig soos my SARS tax-aanslag sou jy iets daaruit wou probeer lees of verstaan:  Happy, geskok, kwaad, gedetermineerd...elke statement lyk dieselle. I didn't get one of them right. Nes ek dink sy's geskok, dan's sy eintlik sarkasties. Nes ek dink sy hartseer, het sy eintlik 'n warm atmosfeer probeer skep... op... 'n stylvolle... wyse. En dan wonder jy weer...shit, daai stop-start-praat van haar, was sy nou sarkasties of diep? Maar die mees dramatiese moment is wanneer sy wysheid uitdeel. Sy kykaltyd ver oor die horison en raak in haar moer in liries verlief oor haar verligte denke.

Dit komende van die vrou met die algemene kennis van Barney the purple dinosaur. Nee ek's nie lelik nie. Ek werk net met feite hier. 

Daar is wel tye wanneer dit seer maak.

Make no mistake. Mev Bottox-Von-Lippe is beeldskoon, fyn versorgd, royalty-par-amper-daar. Seriously. Ryk (al voel sy die ekonomie ook sedert almal daaroor praat), suksesvol (nee sy't spending down like a motherfucker) en ekstaties van geluk (nee regtig...daai smile gaan nou enige oomblik deur die botox beur asook die feit dat elke apteker haar persoonlik goed ken).  

Dis. Wanneer. Dit. Seermaak.

Wanneer sy opkyk van haar tafel af. En sy sien jou.

"O Klara. Hallo. Dis. Wonderlik. Om jou te sien" en jy weet dit is nie.

Ek het nooit besef sy het sulke mooi groen oë nie. Werklik buitengewoon-gras-net-na-dit-gereën-het-nat-groen-oë. Daar is nie 'n ander manier om dit te beskryf nie.

Hulle het saam aan alles begin werk destyds. Soos kinders tot laat in die nag hul besigheid op die been gebring. En toe kom haar eerste kind. En ander mense het dit so maklik laat lyk om kind groot te maak en ‘n suksesvolle besigheid te hê. En toe is die eerste kind siek. En toe is die siekte ongeneesbaar en laat hom blind. En toe kom die tweede kind. Perfek darem, maar steeds nog iets wat haar aandag verg en liefde soek terwyl sukses net bly instroom het. Sy wou dinge om haar mooi maak, haar weelde begin geniet, maar kinders het ‘n manier om jou in jou pajamas te hou nog teen drie uur die middag. En toe begin haar man se oog te dwaal. Hy het tyd gehad om sy rykdom saam met vriende te skink en te klink en mooi vroue met mooi lywe en mooi rokke en blink jewelry was altyd naby. Altyd iemand se vrou. Altyd een van haar vriendinne.  Sy het een aand met oorgawe kombuis toe gestorm voor sy verjaarsdag en ‘n koek uit ‘n boek geweeg en gemeng om koud voor haar super deluxe gasstoof te staan te kom. Sy’t nie ‘n clue gehad hoe om dit aan te skakel nie. Die droë bestandele het in die asblik opge-eindig en dit was haar laaste poging ooit. Soos alles om haar meer geword het, het alles binne in haar in kort asempies begin werk. Sy het nannies aangestel vir die kinders sodat sy haar man kon oppas. Maar toe raak die kinders  lief vir die nannies.  Al wat sy oorgehad het was die verenigde front van prentjie-geluk en die waarde van elke item in haar huis. Hy kyk altyd diep in haar oë voor ander mense, hou haar vas, soen haar hand. Die kinders gee spontaan drukkies en noem haar “mamma” na ‘n pep-talk met die nuutste nanny.  Haar vriendinne dra stil-stil duur geskenkies tydens tee-kuiertjies aan in absolute awe of her. Haar krag. Haar posisie in die gemeenskap. ‘n Ystervrou wat alles het. Haar asemhaling nog vlakker. Soos stuiptrekkings. Die ontnugtering ver weggesteek agter haar groen oë. Weelde skep nie lewe nie, net klakkelose geselskap van oppervlakkige vieringe oor dit wat mens as suskes sal beskou. Om dit aand na aand te vier, is uitputtend. Dis ‘n doodsvonnis. Dit was te laat om om te draai. Kinders word so vinnig groot.

"Jy weet," sê sy, terwyl haar bediende ons frans- ingevoerde- filter-koffie tussen ons op die tafel plaas. "My vriendin het haar seun aan die dood afgestaan onlangs. Ek het. Vir haar gesê. Sy. Moet. Sterk wees.

En toe tuur sy oor die horison. En toe sien ek hoe sy nog 'n kort asempie vat.

Die mislike vrou


Eers was dit die storie oor hoe sy haar boetie se melk gesteel het as baba. En toe die alewige energie en attention oor materialistiese goed. Sy wil als hê en moet ook als besit. Net die nuutste en beste vir haar. En toe die hengse moeite oor goeters met name. Niks mag in haar huis gestaan het as dit nie een of ander brand was wat almal eintlik stilweg begeer het nie.  Maar die ding wat my laat frons het in my broek, was haar ongenaakbare mislikheid.  Sy het gegaan vir goud met daai ene. Sy het nie ‘n sentimeter teruggehou nie.
Aanvanklik het ek gedink dis oorlat sy nie vreeslik aantreklik is nie. Nee serious. Al dra die juffrou waste grênd rok of parfuum, niks wou remotely aanloklik gelyk het nie. En sulke aversies kry myle en van myle weet ons almal. Dis mos hoe jy met daai myle tekere gaan wat altyd my aandag trek.

Toe dag ek naderhand, nee wag, dis dalk oorlat sy so konstant honger is. Dis die een  diet op die ander maar sy het nooit ‘n kilo afgeskud nie. Nie eers met die ene waar sy soggens moes yoga, smiddae moes draf en saans moes vas soos ‘n moslem nie. Toe nie eers nie. Eerder opgetel. En dan kou sy enige ding wat sy in die hande kan kry, blaarslaai, naels, penne, sjokolade, selfs seëls. Baie onaardig.
Hoe meer sy kou, hoe meer mislik word sy. Ek het later gehoor sy gaan sien dokters ook so baie soos al die nuwe diets. Dan wissel sy pille-kou af met blaarslaai maar êrens moes sy deurmekaar geraak het, want dorpenaars is dit eens sy het blaarslaai gepop saam met water en haar pille in rytjies gepak op haar broodjie. En wanneer dinge op die ergste gaan, dan het sy hierdie ongelooflike skirl lag wat Mozart sou laat bloos het van jaloesie. Nes ‘n donkie amper. Sy het op haar skrilste gelag as niks snaaks was nie.

Ek wou regtig nie net als toeskrywe aan een of ander steurnis nie. Ek het so baie gewonder oor die enetjie. Was daar ‘n siekte wat dokters nog niks van geweet het nie? Sit ons in hierdie klein dorpie op die drumpel van ‘n deurbraak oor die donkie-sindroom-siekte?

So hoor ek toe by my regterkantste buurvrou sy’t nou al haar varkies na die mark toe gestuur. Lag en vreet en lag en vreet, dis  naar om te sien en te hoor. Ook nie ‘n dag later nie of sy is haar werk kwyt. Haar baas het glo moed opgegee nadat sy tussen herkouende kake ge-donkie-lag en geswets het dat jy net stukkies BIC pen sien spat het. Die ander kantoormense het dadelik die stationery company geskakel en hul laaste order gecancel.  Yslike besparing wat help om die krismis-party meer joliger te maak as gevolg van die ekstra drank-aankope.
Maar die nuuskierigheid vreet vir my soos Juffrou Donkie-runnik. Ek gryp ‘n hond en pretend om daarlangs te gaan stap met my 6 weke oue puppy.

By haar huis, is die motor se remligte nog rooi-warm. Ek sien sy staan by die kardeur. “Ja maar kan mamma nie vir my asseblief net ‘n rok maak nie.” Die volgende oomblik hoor ek hoe daar ‘n skirl geluid uit die kar los-skeur. My fok dis haar ma! En toe hoor ek nog iets. “Jy? ‘n Rok? Moet jy dit nie eerder ‘n tent noem nie? Wa-ka-ka-ka-ka! Nee fok my kind. Kyk hoe lyk jy? Teen die spoed gaan ek eerder erf van jou as jy van my. Doen iets aan daai hompe stukke vet. Sies!”
En daar terwyl my puppy nie die leiband om haar nek kan verstaan nie, reverse die kar met die rooi rem-ligte vinnig agtertoe, pof handjie word in die lug gesteek vir ‘n waai en daar trek haar onliefdevolle moeder weg ;los haar netso in haar driveway staan. As jou ma nie eers vir jou lief is nie, gaan niks daardie leë kol vervang nie. En dit help nie om mislik te wees daaroor nie. Such is life. Obviously het ek ook vergeet ek staar na haar.

“Warrefok kyk jy Klara?” Ek kon net my kop skud voor sy met drillende boude haar huis in is.

Monday 4 March 2013

Die rooi skoene


 Ek dink ek het haar nog net een keer hoor lag. Dit was toe ek verby die koffiewinkel geloop het. Sy bly in dieselfde straat as ek. Haar man sien jy smôrens werk toe ry en saans sy toeter druk sodat sy uit die huis hardloop en vir hom die hek gaan oopmaak.
Sy is stil. Sy groet altyd hoflik maar kyk jou selde in die oë. Dis asof dit moeite is vir haar om oogkontak te hou.

Ek dink ek het haar net een keer kwaad gesien. Sy was in die munisipaliteitskantoor en het haar elektrisiteitsrekening probeer uitsorteer. Na die soveelste persoon traag was om haar te help of te antwoord het sy ‘n middelvinger afgetrek op ‘n stukkie pappier en dit in hulle “suggestion box” ingegooi.
Sy was al vetterig. Sy was al brandmaer. Haar hare was al swart, rooi, blond en geperm. En hier dag ek die perm het al uitgesterf. Haar hare was al kort, lank, bop. ‘n Regte verkleurwyfie as mens dit so kan vasvat.

Sy het my baie nuuskierig gehad. Ek kan mos nie dit net ignoreer nie.
Gelukkig was die gode genadig en het sy inderdaad verlede week voor my huis verbygeloop in trane. Prys die Here! ‘n Storie!

Ek het dadelik suikerwater aangebied. Haai weet jy, sy’t my regtig laat dink aan ‘n spartelende duifie sopas getref deur ‘n karvenster. Jy wou amper nie aan haar raak nie. Alles was seer en stukkend. Dit was seker ‘n halfuur voordat sy eers een woord kon uitkry.
“Hy’t gesê hy gril vir my. Hy’t gesê ek is pateties,” het sy dit met snikke uitgekry. Ek het maar my eie afleidings gemaak.

Na ‘n paar vrae kon ek nog meer afleidings maak. Vier jaar getroud, geen kinders, amper geen seks (was daai nou moeilik om uit haar te kry), besit net ‘n pappegaai en ‘n goudvis. Sy is ‘n huisvrou, maar alles het daarop gedui dat sy meer as ‘n hou-vrou is as net eenvoudig “iemand se vrou.”
Sy het ook nou al alles probeer, vetter geword vir groter boobs, maerder geword vir heupbene wat in die rondte kan draai, verskillende hairstyles, sexy nighties, eksotiese disse, boerekos, liefdesbriewe, mixed tapes, alles. Sy het selfs een keer so ver gegaan om vir hom ‘n song te skryf. Al wat sy wil hê is vir hom om op te hou kwaad -wees vir haar.

Dis glo al wat hy doen. Werk, gaan huis toe en wees kwaad vir haar. Al wat sy wil doen, is doodgaan. Sy maak nie saak vir niemand nie. Sy beteken niks vir niemand nie. Sy het nie die guts om haar eie lewe te knip nie, maar sy bid nou maar dat die Here haar moet kom haal sodat sy ten minste net op ‘n manier met haar waardigheid hier kan uit. Dis al wat sy nog oorhet. ‘n Millimeter waardigheid.
Ek het my voet neergesit. Mans, in die minste respek, is donnerse bliksems. Fokkit, dis nie asof vrouens berge verwag van hulle om versit te word nie. Somtyds is dit regtig die kleinste van gebare wat ‘n vrou petrol in haar eierstokke gee om aan te gaan. Kyk nou na die vrou – Sy’s beeldskoon, maar was vier jaar laas bewus daarvan. Sy’s ook nie ‘n dom nie. Sy’s nie kommin met 'n K nie. Sy’s nie mallerig nie. Sy is lank en maer. Sy's nie drinkerig nie. Nie dwelmrig nie. Sy's net daar. What the testosteroon deviancy is so erg aan haar dat hierdie man eenvoudig net kan besluit sy is sy verbale bokssak? Ja ‘n saak het altyd twee kante, maar seriously? ‘n Huwelik is werk en moeite ook. Jy kan dit nie net eenkant toe skuif en gebruik as ‘n placeholder vir blaam in die lewe nie. Sy het haarself stukkie vir stukkie begin wegpak in ‘n solder in die hoop dat haar man haar weer eendag sal vind en uitpak.

Daar’s nog een ding wat sy nog moet doen. Sy moet vir haar ‘n paar rooi skoene gaan kry as sy dan nou nie wil skei nie. Die power wat ‘n paar rooi skoene vir ‘n vrou gee is sterker as Popey se spinasie, Shrek se liefde vir sy Fiona en beat enige vitamiene B inspuiting. Kyk as sy nie geloof het in haarself nie, gaan niks werk nie. Die rooi skoene is jou sexy friendly reminder: Onthou, jy’s ‘n sekspot vol genot – smile! Vreemde raad inderdaad, maar hei, ek het gefigure ‘n ligte oorspronklike aanslag behoort die knoop deur te haal.
Sy’s daar weg met dik, droë oë, ‘n halwe boks tissues en ‘n tjoklit, “want,” het sy oor haar skouer gesê  “ ‘weer probeer’ is haar middelnaam.”

Ja ok. Somtyds like ek dit meer om mense te help as om hulle sad verkakte lewens te probeer verstaan. Veral as my eie manlief my moermeter nog so in die rooi hou oor sy verdomde sokkies orals op die vloer lê en sy hordes koffiebekers orals friendly reminders vir my los: Manlief was here and there and there and everywhere!
So met my skuinsbeneukte houding besluit ek toe self om aan die oefen te kom maar teen die trant wat bejaardes sal verstaan. ‘n Rustige oggend stappie. Nie nodig om jou enkels die skok van hulle lewe te gee wanneer jy tot die daad oorgaan nie.

Dit was seker so 200meter van haar huis af wat ek die klavierklanke gehoor het. En toe hoor ek haar stem deurkom. Og wat ‘n stem!  Tussen die klavierklanke deur het haar soet beautiful stem gevleg sonder enige moeite. Sorgeloos. In haar kop moes dit gevoel het of sy sweef op lug. Ek het die song probeer uitmaak. Eers het ek gedink dis Dolly se “I will always love you”, maar soos ek nader gestap het, het ek gehoor ek het die kat aan die verkeerde song beet.
Toe sien ek haar. Sy het met haar rug na die straat gesit. Haar bene was wydsbeen voor die klavier. Aan haar voete was osbloed-rooi hoëhaak -skoene. Haar dun skouers het heen en weer beweeg agter haar hande aan. En toe hoor ek die song…

“As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy Sy pêrels”.
Toe weet ek vandag is haar bereidwilligheid se begrafnis. Dis nie meer lank voordat die lykswa haar hier gaan wegry nie. Dis die sadste ding as iemand hoop verloor.