Friday, 15 March 2013

Die boemelaar se karma


“Karma, karma is ’n bliksem my Auntie.” Die ou man sit-staan teen die pilaar en rook stadig aan sy sigaret. Sy “laaste een” soos wat hy nou al vier keer geskimp het. Sy klere is deur geskif en vol klitsgras. Sy groottoon grawe ’n gaatjie in die grond. Sy gesig so duidelik soos ’n padkaart uitgelê met plooie vir kontoere alom sy kakebeen.  “Hy was nog nooit my maat nie.”

“Mamma, wat is karma?,” vra ’n dogtertjie soos sy en haar ma verbystap. Die ma druk die kind deur die winkel se deur en mompel iets van ’n duiwelse new age beweging. In hierdie dorp word karma vermy soos ’n stopstraat op ’n begrafnis. Mens krap mos nie waar jy niks van weet nie. En op hierdie dorp is niks-weet ’n leefwyse. Hoe minder jy weet, hoe veiliger is jy.

Ek wil weet waar hy uitgevind het van karma. Hy reken dit was ’n paar jaar terug al. Ook nooit iets geweet daarvan nie. Hy was getroud met kinders en ’n werk en die hele witgepleisterde heining. Dinge was ôlraait, Af en toe sy brannewyntjie gedown, af en toe met sy vrou baklei, af en toe sy kinders vuil uitgekyk as hulle hul slim gehou het, maar hy’t nie die gode getart nie. Hy’t hom bepaal by sy pad en nooit wyd gekyk nie. Hoekom moes hy? Dis net wanneer jy ’n straat oorsteek wat jy links en regs kyk.

Toe bly hy stil en kyk vir my pakkie sigarette op die tafel. Hy sal baie lekkerder kan verduidelik met ’n skyf.
Ek gee vir hom twee en my boksie Lion matches. Hy lyk geïrriteerd toe hy dit vat by my. Elke man het sy trots al is dit deur ’n olifant stukkend getrap.

Nee, toe maak die fabriek toe. En hier sit hy sonder werk. En sy vrou verdien nie genoeg as sekretaresse by die munisipaliteit nie. En soos die geld minder geword het, het hy en sy meer en meer baklei. En toe hy weer sien, toe dink hy maar hy het genoeg gehad. Dis nie sy skuld nie. En toe kyk ’n ander vrou vir hom. En sy luister vir hom en sy verstaan beter as wat sy luister. En haar hande was altyd warm en sag. En hy’t hierdie exciting affair met haar. En dis maklik want al wat hy hoef te sê is dat hy vir ’n interview gaan. Maar sy het geweet. Sy vrou het flippin goed geweet. Dit was seker maar die ander vrou se parfuum wat in sy nek gaan lê het en wag het om discover te word. Hy kan onthou dat hy in ’n stadium gewens het sy vrou vind uit, want dan sal sy ophou baklei met hom oor kak wat nie sy skuld is nie.

En toe sy uitvind, toe vat sy nie lank om haar maaind op te maak nie. Sy’s prokureur toe. Die laatlam het dit nie goed gevat nie. Moes matriek weer oordoen. Sy laatlam het saam met sy ma gaan staan en hom die skuld gegee daarvoor ook. Sy laatlam het ook moeilikheid gemaak in die kroeg toe sy skelmpie ’n beurt gekry het by die karaoke aand. Sy was nog besig om “Stand by your man” te sing en the next fing (hy kan nie “th” nie) vlieg ’n bierbottel verby  haar kop. Daar was ’n trok vol kak wat gespat het Auntie.
Hier los sy skelmpie hom, sy vrou het die huis en die kar en nog die laatlam en daar sit hy met niks behalwe sy trots wat soos sy drinkbroer orals saam met hom gaan. As dit nie vir sy trots was nie, sou hy nooit daai eerste aand op die parkie se bankie oorleef het nie. Dis al wat hom regop gehou het, was sy trots.

En toe.

Hy grawe met sy toon dieper in die grond in en vat ’n lang trek van sy voorlaaste sigaret.
En toe…toe raak sy vrou siek. Die laatlam het hom kom sê een aand in die parkie. En toe sê die dokter sy’t kanker.

Maar wat kon hy doen daaromtrent? Die vrou het alles van hom af weggevat nadat sy hom vir alles geblame het. Sy skouers trek elke keer op as hy verskonend soek na woorde. Wat…wat moes hy gedoen het? Hy’t haar een keer by die werk gaan opsoek en toe spoeg sy amper sy oog uit want hy’s hierdie boemelaar vir wie sy haar skaam en dit voor haar werksmense. Toe gooi hy en sy trots so lekker dik vet middelvinger vir haar en hy poep kliphard en toe fokkof hy. En sy’t hom nooit weer gesien nie.

Maar twee maande nadat die laatlam toe sy matriek weer geskryf en god-genadiglik  geslaag het, toe begrawe hulle haar. Hy’t vêr eenkant agter ’n boom gestaan en gehuil soos ’n kind. Heeltemal te laat. Dis nie dat jy nie wil weet van karma nie. Hy kom haal jou wanneer jy opgefok het.

Ek wil weet of sy vrou se kanker háár fokop van karma was? Hy’t sy laaste sigaret weer aangesteek en in die grond gekyk. Eers het ek gedink hy het my nie gehoor nie. Sy hare het lank en vuil oor sy ore gehang.
Nee, sy was ’n engel. Sy het dit nie verdien nie. Dis hy wat haar so laat worry het, wat al die kwaad in haar lyf gemaak het. Ek verskil met hom. Binne-kwaad maak nie kanker nie.

Nee, maar verlange doen. Hy glo dit vas. En dis hoekom karma ’n bliksem is.

Sy oë word nat.

Dis al wat hy nou oorhet nadat sy trots gefokof het. Sy verlange vir haar. 

No comments:

Post a Comment