“’n Mens kan net trots wees op my bloedjie. Die mees intelligentste,
wonderlikste, gemanierde, liefdevolste, vriendelikste, slimste bloedjie wat
enige ma voor kon vra”.
So het sy haar toespraak begin daardie aand.
“Dames en Here, namens my bloedjie wil ek u hartlik bedank vir die
voorreg en die eer om hier te wees vanaand. Baie dankie vir hierdie wonderlike
prys”.
Toe vat sy ’n sluk water. Het ek ’n ligte bewe in haar hand gesien toe
sy so vat-vat aan haar nek-serpie?
“My bloedjie ken u almal. Het u gesien hoe daar verlede week in die
dorpskoerant weer verwys word na hom as die moderne geskenk van God aan ons
nietige mense? Het u gesien hoe hy geglimlag het op daardie foto? Ek is so
trots om sy ma te wees!”
Sy het oor haar brilraam getuur na die gehoor op soek na ’n gesig wat
saamstem. Toe vat sy weer ’n slukkie water en weer aan haar nek-serpie.
“My bloedjie was van die eerste dag af ’n spesiale kind. Mens kon dit
sien aan hoe hy sy lewenspad oopgekap het. Saam met sy ma se liefdevolle
bystand…eintlik nimmereindigende bystand, het my bloedjie sy baan oopgekap om vandag
as ’n steunpilaar vir die gemeenskap te staan. Ek weet nie almal sien dit so in
nie. Maar gee nog kans. Hy is immers nog nie eers 30 jaar oud nie!” (fake
ongemaklike laggie)
“En vandag is ons weer hier tesame danksy my bloedjie se inisiatief, ok
mamma het weereens ook handjie bygesit…(fake ongemaklike laggie) om geld in te
samel vir sy nuutste projek. Daarom, vergun my asseblief ’n paar bedankings”.
Sy het oor haar skouer teruggekyk met ’n paar afwagtende geligte
wenkbroue en voortgestu onder doodse stilte.
“Eerstens wil ek die skoolhoof bedank vir sy gewilligheid om hierdie
raffle te kon hou. Daar is presies R250 000 ingesamel en ons sou dit nooit
bereik het, as ons nie al ons afrol-werk en administrasie van die skool verwag
het nie. Aanvanklik was daar ongeloof oor die totale commitment en deursettingsvermoë
wat so ’n inisiatief verg, maar later was daar soomlose samewerking. Kom ons
gee almal vir die skoolhoof ’n heerlike handeklap.”
Daar het lipstick op haar tande afgesmeer toe sy breed glimlag.
“Dan, dames, baie dankie vir julle hulp. Julle weet wie julle paartjies is.
Weinig ingesamel maar nietemin…(fake
ongemaklike laggie) julle weet nou wat dit verg, né! ’n Betrokke ouer is ’n ouer
wat werklik lief is vir sy of haar kind. Dis somtyds tragies om hierdie kinders
te sien wie nie so gelukkig is om deernisvolle, volhoubare ondersteuning van
hul ouers te geniet nie”.
Haar oë het gedwaal na haar notas voor haar. “Waar was ek laas….o ja,
nou weet julle”.
“Laastens maar nie beslis nie die minste nie, julle as ouers. Baie
dankie vir julle belangstelling. Eendag sal julle ook kan terugkyk en ook so
trots wees op julle kinders en wat hulle bereik het in die lewe soos ek vanaand”.
Daar was iemand wat uit oudergewoonte begin handeklap het. Drie klappe
en toe’s dit weer doodstil.
Sy het rondgekyk wie die ondersteuner kon wees.
“Louise! Bless your soul! Dáár is nog ’n betrokke ouer! Nog iemand wat haar
kind se hand al die pad vashou, want dis wat ons moet doen as mamma’s, né
Louise?! Ons stap daai ekstra 50 myl vir ons kinders al moet dit eintlik
hulleself wees. Somtyds moet mens die voorbeeld uitleef vir hulle om jou
voetspore raak te sien en te volg. Of eintlik dieselfde voetspore te trap nadat
jy as ouer al die onnodige foute reeds in die lewe gemaak het. Om daarna nog deel van hul lewens te wees, is 'n hele nuwe uitdaging".
Louise het haar selfoon haastig uit haar handsak gehaal, die geluidlose
instrument in die lug gehou en met vinnige treetjies die saal verlaat, bloedrooi
in haar gesig van skaamte. Hierdie fiasko was op die punt om te eskaleer.
“Ek moet ongelukkig om verskoning vra vir die afwesigheid van my
bloedjie. Soos julle almal weet is hy deesdae so belangrik. Al die koerante
praat oor hom vandat hy die een prys na die ander wen. Ek weet van julle wat
hier sit stem nie altyd saam met sy werk of die sosiale kommentaar wat sy werk
uitlok nie. Danksy sy sterk persoonlikheid en selfvertroue kan ek in alle
eerlikheid sê dat dit hom geensins pla nie. Inteendeel, hy is min gepla oor
enige iets eintlik. (fake ongemaklike laggie). Ag…
Sy het vinnig opgekyk om haar trane van haar maskara weg te hou.
“Julle moet my verskoon. Noudat my bloedjie so bekend is en almal sy
naam op hulle lippe het, is dit somtyds moeilik vir my om hom te deel met die
res van die wêreld. Ek was elke dag daar van sy lewe en deur dik en dun, ongeag
wat. Ek het net trots in my binneste vir hom. Hy kon ongelukkig nie vanaand
hier wees nie. Glo my, ek het probeer om sy skedule aan te pas, maar hy het
herhaaldelik vir my gesê dis net onmoontlik.”
Sy het vlugtig en minder vriendelik na die gapende tannie in die eerste
ry geloer.
“So weereens baie baie dankie. Ek kon nooit voorsien het dat ek die
raffle sou wen wat ek self uitgedink, georganiseer en tot en met vanaand
deurgevoer het nie. Dit was nou heeltemal onverwags. Ek is die gelukkigste ma
op hierdie planeet”.
No comments:
Post a Comment