Ek dink ek het haar net een keer kwaad gesien. Sy was in die
munisipaliteitskantoor en het haar elektrisiteitsrekening probeer uitsorteer.
Na die soveelste persoon traag was om haar te help of te antwoord het sy ‘n
middelvinger afgetrek op ‘n stukkie pappier en dit in hulle “suggestion box”
ingegooi.
Sy was al vetterig. Sy was al brandmaer. Haar hare was al
swart, rooi, blond en geperm. En hier dag ek die perm het al uitgesterf. Haar
hare was al kort, lank, bop. ‘n Regte verkleurwyfie as mens dit so kan vasvat.
Sy het my baie nuuskierig gehad. Ek kan mos nie dit net ignoreer
nie.
Gelukkig was die gode genadig en het sy inderdaad verlede
week voor my huis verbygeloop in trane. Prys die Here! ‘n Storie!
Ek het dadelik suikerwater aangebied. Haai weet jy, sy’t my
regtig laat dink aan ‘n spartelende duifie sopas getref deur ‘n karvenster. Jy
wou amper nie aan haar raak nie. Alles was seer en stukkend. Dit was seker ‘n
halfuur voordat sy eers een woord kon uitkry.
“Hy’t gesê hy gril vir my. Hy’t gesê ek is pateties,” het sy
dit met snikke uitgekry. Ek het maar my eie afleidings gemaak.
Na ‘n paar vrae kon ek nog meer afleidings maak. Vier jaar
getroud, geen kinders, amper geen seks (was daai nou moeilik om uit haar te
kry), besit net ‘n pappegaai en ‘n goudvis. Sy is ‘n huisvrou, maar alles het
daarop gedui dat sy meer as ‘n hou-vrou is as net eenvoudig “iemand se vrou.”
Sy het ook nou al alles probeer, vetter geword vir groter
boobs, maerder geword vir heupbene wat in die rondte kan draai, verskillende hairstyles,
sexy nighties, eksotiese disse, boerekos, liefdesbriewe, mixed tapes, alles. Sy
het selfs een keer so ver gegaan om vir hom ‘n song te skryf. Al wat sy wil hê
is vir hom om op te hou kwaad -wees vir haar.
Dis glo al wat hy doen. Werk, gaan huis toe en wees kwaad
vir haar. Al wat sy wil doen, is doodgaan. Sy maak nie saak vir niemand nie. Sy
beteken niks vir niemand nie. Sy het nie die guts om haar eie lewe te knip nie,
maar sy bid nou maar dat die Here haar moet kom haal sodat sy ten minste net op
‘n manier met haar waardigheid hier kan uit. Dis al wat sy nog oorhet. ‘n
Millimeter waardigheid.
Ek het my voet neergesit. Mans, in die minste respek, is
donnerse bliksems. Fokkit, dis nie asof vrouens berge verwag van hulle om
versit te word nie. Somtyds is dit regtig die kleinste van gebare wat ‘n vrou
petrol in haar eierstokke gee om aan te gaan. Kyk nou na die vrou – Sy’s
beeldskoon, maar was vier jaar laas bewus daarvan. Sy’s ook nie ‘n dom
nie. Sy’s nie kommin met 'n K nie. Sy’s nie mallerig nie. Sy is lank en maer. Sy's nie drinkerig nie. Nie dwelmrig nie. Sy's net daar. What the
testosteroon deviancy is so erg aan haar dat hierdie man eenvoudig net kan
besluit sy is sy verbale bokssak? Ja ‘n saak het altyd twee kante, maar
seriously? ‘n Huwelik is werk en moeite ook. Jy kan dit nie net eenkant toe
skuif en gebruik as ‘n placeholder vir blaam in die lewe nie. Sy het haarself
stukkie vir stukkie begin wegpak in ‘n solder in die hoop dat haar man haar
weer eendag sal vind en uitpak.
Daar’s nog een ding wat sy nog moet doen. Sy moet vir haar ‘n
paar rooi skoene gaan kry as sy dan nou nie wil skei nie. Die power wat ‘n paar
rooi skoene vir ‘n vrou gee is sterker as Popey se spinasie, Shrek se liefde
vir sy Fiona en beat enige vitamiene B inspuiting. Kyk as sy nie geloof het in
haarself nie, gaan niks werk nie. Die rooi skoene is jou sexy friendly
reminder: Onthou, jy’s ‘n sekspot vol genot – smile! Vreemde raad inderdaad,
maar hei, ek het gefigure ‘n ligte oorspronklike aanslag behoort die knoop deur
te haal.
Sy’s daar weg met dik, droë oë, ‘n halwe boks tissues en ‘n
tjoklit, “want,” het sy oor haar skouer gesê
“ ‘weer probeer’ is haar middelnaam.”
Ja ok. Somtyds like ek dit meer om mense te help as om hulle
sad verkakte lewens te probeer verstaan. Veral as my eie manlief my moermeter
nog so in die rooi hou oor sy verdomde sokkies orals op die vloer lê en sy
hordes koffiebekers orals friendly reminders vir my los: Manlief was here and
there and there and everywhere!
So met my skuinsbeneukte houding besluit ek toe self om aan
die oefen te kom maar teen die trant wat bejaardes sal verstaan. ‘n Rustige
oggend stappie. Nie nodig om jou enkels die skok van hulle lewe te gee wanneer
jy tot die daad oorgaan nie.
Dit was seker so 200meter van haar huis af wat ek die
klavierklanke gehoor het. En toe hoor ek haar stem deurkom. Og wat ‘n stem! Tussen die klavierklanke deur het haar soet
beautiful stem gevleg sonder enige moeite. Sorgeloos. In haar kop moes dit
gevoel het of sy sweef op lug. Ek het die song probeer uitmaak. Eers het ek
gedink dis Dolly se “I will always love you”, maar soos ek nader gestap het,
het ek gehoor ek het die kat aan die verkeerde song beet.
Toe sien ek haar. Sy het met haar rug na die straat gesit.
Haar bene was wydsbeen voor die klavier. Aan haar voete was osbloed-rooi hoëhaak
-skoene. Haar dun skouers het heen en weer beweeg agter haar hande aan. En toe hoor
ek die song…
“As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy Sy pêrels”.
Toe weet ek vandag is haar bereidwilligheid se begrafnis.
Dis nie meer lank voordat die lykswa haar hier gaan wegry nie. Dis die sadste ding as iemand hoop verloor.
No comments:
Post a Comment