Wednesday, 27 March 2013

Suster Klits


Hy besit die Hotel op die dorp en Woensdagaande is daar ’n vibe. Karaoke! Die dag waarvoor hy leef. Sy gunsteling woord is “klits”. Die woord wat hy verafsku is “moffie”.

In die onthaalsaal word daar elke week ’n tema keurig uitgekies en met behulp van vere en kleure ’n groot fanfare gedoente op die been gebring. Mens kan mos nie “Green green grass of home” sing as als om jou vaal en verlep lyk nie. “Klits jou hier en klits jou daar en siedaar!”

Elke week was daar ’n wenner aangekondig en hy het nooit geskroom om die prys vir homself te gee sou hy gedink het die dorpenaars het te vals gesing of nie met genoeg oemf nie. You had to give it your all or be done like Marilyn Monroe.

Op Sondae het hy minder gemince want Dominee het ’n lang gesprek gehad met hom om aanvaarbaar te wees vir sy medemens. Dominee moes onderneem om dieselfde te verwag van “die medemens” of anders gestel: die christelike beoordelaars ek bedoel…bewakers  van gister, vandag, môre en enige ander tyd of plek waar morele waardes ter sprake was.

Suster Klits en ek het ’n pad gestap. Oor berge en dale, deur hartseer en pyn, liefdesteleurstellings en verbasings.

Suster Klits was my gewete en nagte se omswoeg en sweet om antwoorde te kry op tergende vrae van die lewe. Suster Klits se probleme was deurgetrap en fyngemaal met glase en glase wyn en Bacardi’s met diet coke (hy was al op ’n paar diets gewees).

Suster Klits was my broer, my suster, my ma en my pa. Suster Klits was alleen-nagte se teenvoeter, my linkerhand, my regter breinlob, my kalmte, my vertrooster.

En toe kom Mej. Losbek op die dorp aan.

Mej. Losbek het een aand ingeklok vir die karaoke en “I’m too sexy for my shirt” geblêr oor die mikrofoon. Sy was baie vêr van daardie woorde af. Sy het ook ’n gehoorprobleem gehad. Elke keer as sy nie die man aan haar oorkant kon hoor praat nie, het sy vorentoe geleun en haar boobs het elke keer per ongeluk uitgeval. Mej. Losbek het ook geensins geweet hoe om ’n stoel te benader nie en het elke keer op geëindig met haar bene aan die weerskante die stoelpote gehaak. Wyd en welkom.

Mej. Losbek, you guessed it, was so vlak soos ’n saadjie-gaatjie wat geheime of vertroulike verhale so vinnig vertel het soos dit ingekom het by haar ore.

Suster Klits het skaarser begin raak en ek meer giftig oor Mej. Losbek.

“Warrefok sien jy in haar as pel?” wou ek die een dag skuins befok geweet het.
“Sy is nie soos wat jy dink sy is nie,” het hy gesing-sê. Hy het altyd uit sy neus begin neurie wanneer sy irritasie-vlakke die hoogte ingeskiet het.

“Maar sy’s kommin met ’n hoofletter K!”

“En ’n vriendin van my nes jy”

“Maar jy kan haar nie vergelyk met my nie. Waar’s die diepte? Waar’s die antwoorde van vrae? Waar’s die lojaliteit want sy gaan jou nog uitverkoop op ’n special Suster Klits! Hoor jy nie hoe sy skinder oor almal hier op die dorp nie? Het jy gesien wat sy met Valerie se man aangevang het? Hy was nie naby haar nie en sy loop en vertel vir almal wat ’n halwe oor het hoë hulle gepangelang het by die rivier! Valerie is stukkend oor daai slet se losbek!”

“Kyk Klara, dis eenvoudig.” Sy stem het geklink soos ’n monnik op nagmaal-Sondae. “Of jy aanvaar my vriendskap met haar, of jy het ’n probleem. Dit bly jou keuse.”

“Sy het jou verander. Jy flippin suip elke aand en val rond.”

“Dis ’n kak storie.”

“Nee, daar’s nie ’n stukkie pavement wat nie jou naam het nie.”

“Ag, Klara, hierdie is ’n mors van tyd.”

Hy was verkeerd.  Sestien jaar se vriendskap was nie alles ’n mors van tyd nie.  

Deesdae wanneer ek Suster Klits in die dorp sien…wel, die seer is te minste minder. Hy lyk gelukkig. Daar was ’n tyd wat ek kwaad was omdat ek my share-fairy kwyt is. My confidant is hoe die Engelse dit stel. Ek moet, however, myself gereeld keer om nie Mej. Losbek om te stamp met my kar nie. Dit gee my steeds joy wanneer sy op my bonnet klap en “Fokkit Klara!” skree.

Ek het net gehoor hy’t eendag vir iemand gevra hoe dit gaan met my, want “Klara praat mos nie meer met my nie.”

Nee wat, wat toegemessel is, is toegemessel. Hy het ook gekies, nes ek. Maar somtyds sal ek dinge gaan oopkrap in my kop net om weer te onthou van karaoke aande en vere en vriendskap.  

No comments:

Post a Comment