Monday, 18 March 2013

Steak vs Worsie


Hy praat nie maklik nie. Hy’s meer gemaklik daarmee om te kyk as te praat. So het ek hom opgesom by ons kroegie op die dorp. Sy plek. Hy’t so 5 jaar terug hier kom intrek en lewe van dag tot dag om mense drank te gee en te kyk. Besige oë. Soekende oë.

Een aand het hy so bietjie oopgemaak teenoor ’n ander ou. Sekere mans praat mos net sekere stories teenoor vrouens wanneer die bier koud en volop is en die lus daar is. Maar ek het hom amper nooit lus gesien vir enige girl nie. Nie eers die uiters gewillige dames op die dorp wie se lus uitgehang het soos ’n tipiese tagtigs onderrok nie. He kept it together most of the times. Daar was wel  ’n paar aande wat hy loud geraak het. Dan het sy lastige systappie ingeskop, sy heupe ernstig rukkerig agter die ritme van die Beach Boys se songs aangekarring en hy gehuil het soos ’n wolf. “Ahoooeee, surf surf surf surf your t-bone awaaayyyyy doem doem doem yeah!” Dan het die polisie gekom want ou tannie Greyvenstein het altyd ’n probleem gehad sou iemand die dag oor-vriendelik wees.  Shame, sy’s ook ’n week terug skielik stil en plegtig hemel toe. Haar gehoorapparaat was langs haar bed gekry.

Dié aand wat ek per abuis (as usual) effens oorgeleun het, kon ek hoor hoe hy die sad verhaal vertel het van sy grootste fokop van sy lewe.

In kort - Hy was getroud. Hy sal nooit hul troudag vergeet nie. Daardie dag het hulle vir mekaar gesmile. En sexy. Amper verbaas oor dit wat hulle sopas reggekry het.  En trots. Sy was net goed vir hom. Maar as ’n man elke dag steak eet, raak hy gewoond aan die geur, die smaak, die look. En toe word hy slim en hardegat. Net oor hy kon. En toe verloor hy haar. Hy dink baie terug. Oor hoe hulle lank gelede was voor hy slim-meneer geword het. Hy verlang veral haar gemaklike bereidwilligheid om goed te wees vir hom. Lank gelede was niks te veel moeite nie. Vandag is alles vir hom moeite sonder haar. Vandag is dit wat hy kan kry nie ’n patch op wat hy gehad het nie. Dis soos om te settle vir ’n worsie terwyl jy gewoond was aan steak.  Sy vergelykings was altyd in pub-lunch terme.

Toe ten einde laaste ontmoet hy ’n girl met ’n trippie Jo’burg toe. En dis net ’n skaam glimlag voor en ’n skaam glimlag agter. Maar hy praat nie maklik nie. Hy kyk net. En later het sy oor naweke kom kuier in die hoop dat hy sal praat. So hoor ek hoe sy in die kroeg sit en vir sy gereelde customers opgewonde verduidelik oor elke krummeltjie oopmaak. Soos die vorige naweek by Hartbeespoortdam. Daar tussen die muskiete. Hy’t gesê hy is gelukkig. Hy het bietjie gepraat oor sy bekommernisse. Sedert die myn gesny het op uitgawes kry hy nie meer al daardie pub lunches so lekker verkoop nie. Hy worry bietjie.
Sy wéét hy vertrou haar. Sy  wéét hy gee om vir haar. Hierdie is nie net ’n onskuldige flirtasie nie. Daar’s ’n connection. Sy kan dit voel.

Haar lang swart hare val oor haar skouers soos sy terugleun in haar stoel. Mooi vrou. Dit was Vrydagaand ’n week terug.

Maar hierdie Vrydagaand toe’s ek daar en sy nie.  En hy het die Beach Boys cd op repeat. Sy gewrig sukkel om sy glas regop te hou. “Surf surf surf surf surf your worsie awaaaaayyyy doem doem doem yeah!”
Sy selfoon lui. Hy korrel-kyk na die skerm en druk die selfoon met mening terug in sy broeksak. Ou Hetta met haar los onderrok en los idees en losbek en alles wat losskud, selfs haar tiete staan met hoop nader vir ’n skuurtjie teen hom. Sy gee haar mooiste smile maar dis verreweg net ’n seerower wat dit aanloklik kan vind met haar geel rook-tande. “Daar’s niks fout met jou worsie nie!”

Hy gryp haar arm en draai haar in die rondte. Hy verloor sy balans en beland teen die deurkosyn.
Sy slof vorentoe en tel hom aan sy kraag op. Nou hang die lus dik in hierdie plek. Ek kyk al die pad. Hy vat haar uit na die straatlamp en soen haar vol op die bek. Haar bene staan weier en weier. Sy een vriend strompel buitentoe. Hy tik hom op sy skouer en praat kalm in sy oor. Ou Hetta raak skuins beneuk en vloek die pel.  Die pel ignoreer haar en trek hom in die kroeg in. Hy laat hom sit voor ’n dubbel brannewyn en coke.

Sy oë kyk rond. Hy vryf gefrustreerd oor sy gesig. Sy hande wil nie op die bar-counter tot ruste kom nie. Hy kry werk daarvoor en steek geïrriteerd sy sigaret op. Met sy ander hand swaai hy sy glas wild na bo en mors op sy hemp en broek. “Surf surf surf surf surf every-fing awaaaayyyyyy doem doem doem yeah!” Sy pel klop hom op die skouer.

Skuldgevoel en lus is nie dienaars van begeerte nie. Al wat dit is, is bloot friendly reminders van dit wat jy eens gehad het. 

No comments:

Post a Comment