Haar naels is ongelyk
en plek-plek in die lewe in gekou. Sy vat haar oogpotlood en trek versigtig ’n lyn.
Sy sien ’n bietjie onderlaag het nie goed genoeg ingesmeer nie en sy vryf dit met
haar lang vingers in. Sy kyk nie na haar rou wysvinger nie.
Eers het hy haar Baba
genoem. Sy het gedink dis cute. Hy was ’n joernalis. Sy was ’n romanskrywer. Sy
het gedink hy speel maar met woorde en taal.
Toe word sy “My
huidige vrou”. Sy het al die grappie iewers gehoor.
In haar kop het sy
somtyds gedagdroom van ’n onderhoud as suksesvolle getroude paartjie, stralend
gelukkig en almal het wit klere aan. Wit is ’n teken van rykdom vir haar want
jy het genoeg geld om dit wit en skoon te hou. En jy lyk kraakvars. Gelukkig.
Stralend. Gephotoshop tot perfeksie.
Sy meng koeksoda en
suurlemoensap tot dit skuim om die rookvlekke van haar tande te probeer borsel,
maar haar tandvleis brand en begin dadelik bloei. In die wasbak meng bruin
water en bloed in ’n krul voor dit by die drein wegspoel. Ten minste het sy ’n bietjie
afgekry, dink sy.
Toe noem hy haar “My
Bruid”. Maak nie saak of sy net haar nagklere aangehad het en ’n maand laas
geskeer het in die winter nie, dit het haar spesiaal laat voel. Sexy.
Sy forseer ’n glimlag
om te kyk na haar witter tande. Sy druk haar vinger op die bloeiende tandvleis.
Dit moet nou ophou bloei. Sy wil nie iemand laat gril net omdat sy gesmile het
nie. Sy dink weer aan die tyd toe sy draadjies gehad het. Nooit gesmile nie,
want nou-nou is daar êrens ’n stukkie brood wat vasgesit het.
Op ’n kursus in die vroeë
negentigs het sy ’n mannekynkursus bygewoon. ’n Glimlag moet van binne af kom
en jou oë ophelder.
Sy smeer rooi lipstick
per ongeluk oor haar liplyn en probeer met haar duim dit wegvee.
“Shit.” Vir ’n oomblik
lyk dit of sy morsig gesoen is. Of ’n malletjie. The bitch van hel. Miskien
moet sy so uitgaan. Wild gevry of stapelgek. Laat mense op straat maar self
besluit. Die ironie gee haar ’n bitter trek om haar mond.
Toe noem hy haar net “Bruid”.
En “teef”, “verkeerd”, “heks”, “jou
skuld”, “’n drama queen”, “gatvol”.
Hy’t vergeet van die
woord “moedeloos”.
Sy kyk na haar oë. Sy
probeer ’n plek in haar lyf kry wat iets moois kan onthou. Sy soek net ’n tinteling,
‘’n giggle”. Iets wat sy na haar oë toe kan stuur van binne af om die
bekommernis weg te steek. Onsekerheid is die bose geeste in die lug wat haar
elke dag uitdaag en wen.
Die eyeliner is te
veel. Sy vat toiletpapier, frommel dit in ’n balletjie en vee haastig daaroor.
“Shit”. Sy moet fokkin
fokus.
’n Maand terug het hy
haar “gesig” genoem. Hul vriende lag. Hulle dink dis cute. Sy weet dit is nie.
Hy moet haar voorstel as ’n joke om beter te voel oor homself en dit wat hy nie
wil erken nie. Dit wat hy haar voor blame. Die “gesig”, die bewys van al sy
failures, die oorsaak van al sy probeerslae en die ondankbare resultaat van al
sy effort. Teef!
Haar selfoon-alarm
begin lui op die wasbak. Sy kyk nog een keer in die spieël. Sy gaan haar donkerbril
opsit. By die werk sal sy die hele tyd kyk vir haar rekenaarskerm. Sedert hy sy
werk verloor het, moes sy weer ’n kantoorwerk aanvaar. Die moeite om elke dag
jouself weg te steek vir mense is uitputtend. Dit maak haar angstig.
Nee, moenie nou dink
aan dit nie. Fokkin fokus demmit.
Sy gryp haar handsak
en waai vir haar buurvrou wat ewe haastig uit die garage reverse.
Haar kar verdwyn
tussen die see van ander karre ’n blok verder.
Daar’s baie van hulle
tussen ons.
No comments:
Post a Comment