Monday, 25 March 2013

Haar vertroosting


Sy wals vrolik met haar lang hare by die restaurant in. Altyd ’n sonnestraaltjie wanneer sy glimlag. Wanneer sy praat is haar stem soet en onskuldig. Sy’s tans tussen werke nadat sy by die Sondagskool klas gegee het. Sy’s pofferig maar weens al die moeite van onskuld kan en sou ’n vreemdeling haar kon opsom as een groot bondel warm liefde. En sy wil hê jy moet dit dink.

Wanneer sy lag, gooi sy haar hare oor haar skouer. Dis altyd ’n geleentheid vir haar. En as daar nie een is nie dan skep sy een.

Klokslag om 11:30 wals sy by die restaurant in vir haar eerste bottel Sauvignon Blanc. Haar gunsteling. Die leefstyl van ’n vrye siel, ’n grenslose vrou sonder ’n sweempie swaarkry van ’n minuut oud.

Teen 12:30 skop Sonnestraaltjie se tweede bottel Sauvignon Blanc af. Hier en daar het daar ’n sinnetjie of twee al geval oor hom, maar soos sy dit sê waai sy dit weg met haar hand in die lug. Sy gee regtig nie om nie. Hy is gelukkig. Sy ook. Ja, hy is baie vinnig na hul egskeiding getroud maar almal het geweet van hul affairs. Syne. Hare. Maar dis nie nodig om dit in te vryf nie. Dis maar hoe dinge uitgewerk het. Sy het ten minste die huis en die kar en ’n ou geldjie. Cheers. Tjorts. Vrolikheid vir almal.

Teen 13:15 is die derde bottel Sauvignon Blanc reeds oopgemaak. Sonnestraaltjie raak deurmekaar wanneer sy haar hare oor haar skouer gooi terwyl sy lag en wyn spuit by haar neusgate uit soos sy verstik. Sy snak na haar asem, maak haar oë groot en onskuldig en druk ’n lag uit haar keel uit. Natuurlik hoor sy dinge. Hy het haar vriende begin kontak om te hoor hoe dit nog met haar gaan. Is dit nie net weird nie! Ja, dis flippin weird! HA! HA! HA! Sy nuwe vrou kon haar ouma gewees het. Skreeulelike ding wat ’n lelike eendjie gebly het. Shame, ja, prins Charles sal dalk op haar kan verlief raak. HA! HA! HA!

Haar hande val orals in die lug rond totdat dit rusplek vind op getroude mans se knieë. Per ongeluk aanvanklik. Jy is meer as welkom om vir haar te gaan kuier. Haar stem raak sag. Sy’s eintlik baie alleen. Sy’t niks geweet toe hy haar begin date het nie. Die seksuele voorstelle, die verwagtinge, die vernederings. Hy’t haar ingebreek soos ’n perd en vergeet van die leisels om haar nek en die stang in haar bek. Hy’t haar week na week aangehits om nog meer, nog verder, nog meer bisarre onuitspreekbare dinge te waag. Vrouens, mans… Sy’t gedink sy liefde maak van haar ’n vrou, maar eintlik het hy haar gelos as ’n dier.

14:30 Sy hou haar hande in die lug en gooi haar borste rond asof dit vatlappe is. Dit lyk soos ’n  middernag-lantern-bekruip soos wat die dronk man gedrapeer word deur haar lyf. Vrouens raak kwaad en gryp hulle mans. Die eienaar van die restaurant gluur haar aan. Hy’t genoeg gehad en stap oudergewoonte nader. Too much regular in this customer. Hy weet sy gaan niks weer onthou die volgende dag nie.

Die eienaar leun oor maar besef dit gaan nie werk nie. Hy probeer haar elmboog van die getroude man se been losmaak terwyl hy so polite moontlik in haar oor fluister. Sy ignoreer hom soos n stopstraat op doopdag. Sy gee wel ’n bestelling vir nog ’n bottel Sauvignon Blanc oor haar skouer.

14:45 ’n Vrou storm woedend by die restaurant in. “Haal jou pote van my man af!” Die dronk man besef êrens onder op die bodem van liters drank iets is tans drasties verkeerd. Sy wenkbroue lig maar niks anders wil saamwerk nie. Sy vrou gryp sy arm en probeer hom optrek, maar Sonnestraaltjie probeer saam met die man en die vrou huis toe gaan. Soos ’n skoot-brakkie. Die kwaai vrou skop na Sonnestraaltjie se shins en kry op die manier haar man uit haar kloue.

Die restaurant eienaar draai moedeloos na my toe. Hy het nog nooit gesien hoe iemand hulle naam so tos kan maak dag in en dag uit nie. “Bliksem-emmer-blaas-fok-doos Klara! Nie een vrou op hierdie dorp gaan haar man meer hier toelaat nie. Sy jaag almal weg met haar fokkin gesuipery.”

Ek probeer aan hom verduidelik van hoe ’n vrou wat nie haar egskeiding kan aanvaar nie, soms so raak. Hy dink ek praat loutere kak. Sy ma en pa was geskei toe hy maar sewe jaar oud was en sy het beslis nie die hoer op die dorp geword nie.

Nee, hy verstaan verkeerd. Dis nie oor die egskeiding dat sy so maak nie. Dis haar vertroosting om uit te deel wat sy ontvang het. En somtyds werk vergifnis ook so. 

No comments:

Post a Comment