Wednesday 27 February 2013

Daar's 'n donkie in my worsie

Jy kry mos altyd daai ene wat beter weet. Oor als. ‘n Lewendige google masjien.  Om dit te vererger kyk hulle jou ook gereeld aan met ‘n verwagting van dankbaarheid oor die feit dat hulle beter weet. En dis wanneer ek swak word.  

Soos die Elfde Plaag. Dis wat ek haar noem. Die vrou is dieselfde ouderdom as ek maar ek vermoed familie was betrokke toe sy die dag gemaak is. Sy lyk ouer as haar ouderdom om mee te begin. Ek vermoed verder dis waar die oorsprong van haar krapperigheid jeens my begin het. Dit en die feit dat sy konstant op een of ander diet is wat net nie vlam vat nie. Sy stoom gewoonlik in haar tekkies  en spandex-broek al hygende hier verby my huis. Soms is ek aspris en roep haar nader vir een of ander onbenulligheid net om te hoor hoe bulk sy deur haar longe vir suurstof.
Ek berou dit gewoonlik presies 23 sekondes daarna.

“Het jy gehoor van Piet Skuurpap?”, vra sy al bulkende.
Ek probeer mense van die onderdorp net nader as ek writers’ block het. Te veel realiteit vir ‘n leeftyd in ‘n straatblok vol geprop met huise vol verwaarloosde tuine en nog meer verwaarloosde vuil snotneus kindertjies.

“Nee,” kom my antwoord vol spyt.
Die Elfde Plaag raak blou in haar gesig soos sy spartel om suurstof in haar cleavage in te jaag. “Ja, hy’t sy vrou maar dik gebliksem gisternag. Die pote was daar, die hele toetie. Sy veg om haar lewe in die hospitaal terwyl hy sy roes afslaap in die tronk. Nes Oscar”.

Hoe de fok is dit “nes Oscar”? Ek haat dit as mense (met ‘n IK minder as 50) connect-the-dots speel.
“Orals,…” blêr die Plaag in ‘n dun stemmetjie verder “…donner en vermoor die mans hul vrouens nou net left, right and centre. Maar ek sê jou ‘n ander ding…” en sy buk af om te kyk of daar vars lug onder haar knieë wegkruip. “Ek sê jou, somtyds soek die vrouens daarvoor. Nes Oscar”.

Ek het genoeg vir ‘n week gehoor en wil-wil my rug draai sodat sy nie my opgerolde oë en bemoerde uitdrukking op my gesig kan sien nie. Maar my firewall gee mee en crash spectacularly.
“Ek dink jy praat kak. Ek dink jy verwar ‘n klomp dinge met mekaar. Oscar is onskuldig tot hy verhoor en ‘n regter sy uitspraak gelewer het. Piet Skuurpap donner altyd sy vrou op pay-day en as Mev Skuurpap dit aanvaar as liefde, is dit haar perogatief. En niks hiervan is iets om jouself mee te verlekker nie. Inteendeel, dis bekotsingswaardig”.

Die Elfde Plaag lyk min gesteur. Sonsteek het duidelik al ingeskop. “Dis nou nie nodig dat jy jouself so opruk oor ander mense se dinge nie Klara. Ek weet wat ek weet.”
Naby aan ontplof kan ek nie meer wees nie en begin deur se kant toe stap. Ek hoor hoe haar dik vingers oorlaai met kitch goue ringe om my heining vasslaan in ‘n poging om nie haar balans te verloor weens haar hygende duiseligheid nie. “Klara, is als ok hier by jou?”

Nou’s ek goed opgeruk en storm terug heining toe. Vandag is die dag. Vandag stuur ek Elfde Plaag permanent in haar moer in. ‘n Verruklike status quo of non-speaking terms as vooruitsig. Ondenkbaar beautiful in ‘n klein dorpie.

“En hoekom sal dit nie wees nie? Het jy nie genoeg tragedies om jou lang dik neus in te steek nie?”
Die Elfde Plaag vee die sweet van haar rooi opgeblaasde wange af. “Ek het jou man gesien gisteraand daar by Bertie se kroeg. Hy’t gedrink asof hy nie huis toe wil kom nie. Toe wonder ek of als ok is hier by jou.”

Net daar het ek geweet hoe mense gevoel het toe hulle uitgevind het daar’s heelwaarskynlik ‘n bietjie donkie in hul worsies. Net soos jy mense kry wat alles weet, net so kry jy mense wat eerder nie wil weet nie.

Tuesday 26 February 2013

Die oop garagedeur

Nee ek kan dit nie glo nie. Hoe meer ek vir die garagedeur kyk, hoe erger word dit. Die blerrie Skot. Sy is so aspris.

Dit was seker nie ses maande terug nie, toe trek die nuwe gesin oorkant die straat in. Ma, Pa en seuntjie. Vreeslik aanvaarbaar op die oog af. Selfs die meubels was nie te sleg nie. (Ek kyk altyd watse soort meubels afgelaai word, dan kry mens darem 'n idee van hul persoonlike smaak en watse soort mense hulle kan wees.)

Die honde was die enigste ding wat my gepla het. Sulke groot boerboel-wannabe's. Ek wou myself gaan voorstel het, maar iets het my teruggehou. Daar's 'n tyd daarvoor. Op die eerste dag lyk jy sweerlik alleen en uitgehonger vir geselskap. Op die tweede dag is dit any which way - jy's nie desperaat nie, dog vriendelik en oplettend. Sou jy op die derde dag gaan blad skud, kan dit deurgaan as "just a formality" so doen dit dan liefs met 'n geskenkie soos beskuit of iets non alkoholies. (Ja want net-nou is iemand nog op die twaalf stappe van AA).

Dit was toe ook so of die volgende oggend gaan my Off Course (baster chihuahua) wel oor om te gaan dagsê vir die boerboel-wannabe's. Hulle het Off Course net daar fyn en flenters getrap en reguit hemel toe gestuur. En dis hoe ek die Skot ontmoet het.

Sy en haar man het met 'n bottel shampers kom hoor of Off Course okei is. Nee, daar lê hy begrawe in die tuin. Selfs die vet was oorbluf en oë vol trane oor die lelikste hond in Afrika. Hy was genuine flippin lelik, maar ewe veel sjarmant ook en al die honde in die straat het met hom gespeel. Helaas nie daai demone nie.

Ek kon nie die shampers drink nie en het dit as geskenk aangepass vir 'n vriendin wat gekla het oor my afwesigheid.

Later het die Skot weer probeer geselsies maak en het selfs haar selfoonnommer in my hand gestop. Ek het maar langtand die eerste uitnodiging gegee. Wragtag daag sy toe op met 'n bottel shampers. What the stink sokkies is up with this woman and shampers?!

Het jy al van daai grappie gehoor van die kat en die hond? Die een van hoe lyk 'n hond se dag:
08:40 Oh boy, oh boy, a ball, a ball. Oh boy, oh boy, a ball.
08:45 Oh boy, oh boy, food food food

en dan die kat s'n is
08:40 Day 21 of my captivity...

Nou hierdie Skot het my gedagtes omgespit. Iets was nie lekker nie. As 'n vrou na twee in die oggend op 'n skoolaand nog nie wil huis toe gaan nie, dan klink my gedagtes soos 'n hond s'n "Oh boy, oh boy a story, a story!

Ek kan dit nie help nie, ek is moer nuuskierig.

So vat dit toe verskeie bottels shampers om by die eintlike ding uit te kom. Madam Skot is in haar beste aksent in nie meer lus vir haar man nie. En hy's nie eers lelik nie! Ek was nie lus vir gestremde verliefdes nie. Dis erger as 'n Oscar saga wanneer mense eers jou skouers soos tissues gebruik.

Maar die Skot het deursettingsvermoë. Sy wou confess. En weer. En weer. Nô Klêra, aaim thinking of hêvin an affair...

Natuurlik sal jy. Kyk hoe lyk jou garagedeur! Die ding staan wawyd oop! Mens los nie jou garagedeur so oop soos Sharon Stone in 'n ondervragingskantoor vir geen rede nie! Overstating the obvious is soos dorpies waar besighede aangekondig word op hul naamborde soos "Die slaghuis", " Die Kafee" of in hierdie geval "Die slet!".

Maar die Skot was baie slim. Sy het 'n lang lys redes gehad wat gedien het as haar motivering. "Nô, he foei'ts with me ôll the taaaaim." Die Skot kan niks reg doen volgens haar Suid Afrikaanse man nie. Sy kan nie reg aantrek nie. Sy kan nie betyds terug wees by die huis nie. Sy kan nie stryk nie. Sy kan skaars kos maak. En toe..."But therrrrre's this guy at my office. He's young." As haar man tog net geweet het hoe verkeerd sy dit kon kry...

En nie hoe jonk is office knaap nie... SESTIEN JAAR jonger as sy. En getroud. En 'n jong pa. En epiese stories van geld waarvoor hy wag en dinge wat gaan verander en ag al wat jy eintlik maar hoor is 'n jong ou wat net nie sy luck kan glo met hierdie ouer vrou nie, terwyl sy dink sy's die een wat score.

Ek kon dit nie verstaan nie en het begin om hierdie ding flou te draf in my kop. Wat van haar seuntjie? Wat van haar man? Veral toe sy die moed van haar lus gehad het om haar man in te lig dat sy wil "se-pe-raait". Die ergste was toe sy haar benodighede stuk-stuk begin bymekaar maak het en sy letterlik met nuwe lakens of 'n nuwe wasmasjien opgedaag het by die huis terwyl hy smiddae na werk op die bank televisie gekyk het. Hoe los jy iemand stukkie vir stukkie? Hoe laat jy iemand gaan so stukkie vir stukkie?

Ek praat 'n ruk terug weer met haar waar ek haar raakgery het met my trollie in 'n winkel. Per ongeluk. Nee sy is baie gelukkig. As ek rigting kry na die affair toe, dan koes sy tussen haar kuite weg. Maar sy het uiteindelik uitgetrek en sy straal van die geluk.

Dis toe wat ek besef - Nie almal is op dieselfde manier gelukkig nie. En dit klink vreeslik eenvoudig, maar dit is so. Sou ek voor dieselfde keuse te staan gekom het om als te los vir 'n nuwe lewe, sou ek dit nie gekies het nie. Dit sou vir my 'n katarsus gewees het. Maar hierdie vrou het geblink, het gehuppel en het groter geglimlag as wat enige worsie dit kon veroorsaak het. Sy was sielsgelukkig. En 'n slet. En alleen. Maar happy.