Wednesday, 27 February 2013

Daar's 'n donkie in my worsie

Jy kry mos altyd daai ene wat beter weet. Oor als. ‘n Lewendige google masjien.  Om dit te vererger kyk hulle jou ook gereeld aan met ‘n verwagting van dankbaarheid oor die feit dat hulle beter weet. En dis wanneer ek swak word.  

Soos die Elfde Plaag. Dis wat ek haar noem. Die vrou is dieselfde ouderdom as ek maar ek vermoed familie was betrokke toe sy die dag gemaak is. Sy lyk ouer as haar ouderdom om mee te begin. Ek vermoed verder dis waar die oorsprong van haar krapperigheid jeens my begin het. Dit en die feit dat sy konstant op een of ander diet is wat net nie vlam vat nie. Sy stoom gewoonlik in haar tekkies  en spandex-broek al hygende hier verby my huis. Soms is ek aspris en roep haar nader vir een of ander onbenulligheid net om te hoor hoe bulk sy deur haar longe vir suurstof.
Ek berou dit gewoonlik presies 23 sekondes daarna.

“Het jy gehoor van Piet Skuurpap?”, vra sy al bulkende.
Ek probeer mense van die onderdorp net nader as ek writers’ block het. Te veel realiteit vir ‘n leeftyd in ‘n straatblok vol geprop met huise vol verwaarloosde tuine en nog meer verwaarloosde vuil snotneus kindertjies.

“Nee,” kom my antwoord vol spyt.
Die Elfde Plaag raak blou in haar gesig soos sy spartel om suurstof in haar cleavage in te jaag. “Ja, hy’t sy vrou maar dik gebliksem gisternag. Die pote was daar, die hele toetie. Sy veg om haar lewe in die hospitaal terwyl hy sy roes afslaap in die tronk. Nes Oscar”.

Hoe de fok is dit “nes Oscar”? Ek haat dit as mense (met ‘n IK minder as 50) connect-the-dots speel.
“Orals,…” blêr die Plaag in ‘n dun stemmetjie verder “…donner en vermoor die mans hul vrouens nou net left, right and centre. Maar ek sê jou ‘n ander ding…” en sy buk af om te kyk of daar vars lug onder haar knieë wegkruip. “Ek sê jou, somtyds soek die vrouens daarvoor. Nes Oscar”.

Ek het genoeg vir ‘n week gehoor en wil-wil my rug draai sodat sy nie my opgerolde oë en bemoerde uitdrukking op my gesig kan sien nie. Maar my firewall gee mee en crash spectacularly.
“Ek dink jy praat kak. Ek dink jy verwar ‘n klomp dinge met mekaar. Oscar is onskuldig tot hy verhoor en ‘n regter sy uitspraak gelewer het. Piet Skuurpap donner altyd sy vrou op pay-day en as Mev Skuurpap dit aanvaar as liefde, is dit haar perogatief. En niks hiervan is iets om jouself mee te verlekker nie. Inteendeel, dis bekotsingswaardig”.

Die Elfde Plaag lyk min gesteur. Sonsteek het duidelik al ingeskop. “Dis nou nie nodig dat jy jouself so opruk oor ander mense se dinge nie Klara. Ek weet wat ek weet.”
Naby aan ontplof kan ek nie meer wees nie en begin deur se kant toe stap. Ek hoor hoe haar dik vingers oorlaai met kitch goue ringe om my heining vasslaan in ‘n poging om nie haar balans te verloor weens haar hygende duiseligheid nie. “Klara, is als ok hier by jou?”

Nou’s ek goed opgeruk en storm terug heining toe. Vandag is die dag. Vandag stuur ek Elfde Plaag permanent in haar moer in. ‘n Verruklike status quo of non-speaking terms as vooruitsig. Ondenkbaar beautiful in ‘n klein dorpie.

“En hoekom sal dit nie wees nie? Het jy nie genoeg tragedies om jou lang dik neus in te steek nie?”
Die Elfde Plaag vee die sweet van haar rooi opgeblaasde wange af. “Ek het jou man gesien gisteraand daar by Bertie se kroeg. Hy’t gedrink asof hy nie huis toe wil kom nie. Toe wonder ek of als ok is hier by jou.”

Net daar het ek geweet hoe mense gevoel het toe hulle uitgevind het daar’s heelwaarskynlik ‘n bietjie donkie in hul worsies. Net soos jy mense kry wat alles weet, net so kry jy mense wat eerder nie wil weet nie.

No comments:

Post a Comment