Thursday 30 May 2013

Die friendly reminder

Elsa is in ’n toestand. Ek reken ek blaf nie meer soos ’n gekastreerde hond nie en vermoed ek sal naasteliefde moet betoon vandag toe sy opdaag met haar sigaret reeds bewerig in haar mond.
Sy trek die kooltjie rooiwarm in die kombuis en voor die ketel gekook het, het sy reeds haar volgende zaan gedonkie.

Ek wil weet hoe gaan dit met haar man se menopause?  Sy waai dit weg  en blaas die rook deur haar woorde. Hy fluit steeds vir meisies uit sy bakkie en doen steeds elke oggend vyf en dertig pushups. Actually begin dit haar nou grensloos irriteer. Vir my sou dit ook. Jou man wat homself soos ’n aap uit ’n bakkie gedra. Nee, korrigeer sy my, sy steun-en-kreun- geluide elke oggend is genuine ’n gatkramp. As dit vir hom so ’n straf is, hoekom doen hy dit dan?

Ek sien.

Elsa roer haar koffie effens rof en haar een knieg wip senuweeagtig op en af. Maar wat is dit dan wat Elsa so op hol het?

Elsa vat ’n sluk koffie asof sy ’n konferensie gaan toespreek.  

“Ag, fokkit Klara. Die Kerk het my gevra om Sondag ’n lied op die kitaar te begelei.”

En haar probleem is?

“Ek speel nou maar eers ’n fokkin maand Klara!”

Dit is waar. Elsa het begin kitaarlesse neem weens haar man se menopause om hom op so ’n manier terug te kry as sy klein stukkies musiek oor en oor en oor en oor twang. Haar boodskap aan hom om sý kak te stop. Persoonlik dink ek haar deursettingsvermoëns  wakker sy prostaat aan.

Ek reken Elsa gaan fine wees. Dis immers vir kerkmense. Niks om oor te worry nie. Elsa gluur my oor die koffiebeker aan. Sy reken ek moet ook sommer my kak stop oor kerkmense.

“Maar waaroor wil jy nou stres Elsa? As jy ’n fout maak, is jy onmiddellik vergewe? Ek meen, dis mos nie what a bitch we have in Jesus nie!”

“Klara! Tel jou woorde for fuck sakes! Jy weet dit werk nie so nie al speel jy vir die Pous. Fok my bene bewe net as ek dink aan al daai mense.”

“Maar dis net mense! En jy’s een van hulle.”

“Somtyds is goed complicated Klara. Hou op om alles so te vereenvoudig. Jy sien nie hoe hulle vir tannie Ralie aangluur wanneer sy die orrel opfok nie. Dis sulke suurgesigte wat boontoe staar. Sy moes al mespunte in haar rug gevoel het. Sy bly ook nooit vir tee na afloop van die diens nie.

Maak nie saak wat ek vir Elsa probeer sê het nie, sy was een bol senuwees en is meer gestres daar weg as toe sy opgedaag het.

Daar was net een ding oor om te doen. 

Ek het my trots gesluk en satan se niggie geskakel en ’n gratis kolom aangebied vir die local koerantjie. Weens geskiedenis het die “editor” (haar nuwe bynaam van my) hart en mond belowe om nooit weer enige van my woorde te verander nie.

En toe gaan skryf ek ’n stuk oor vergifnis en hoe min dit gebeur. Die enigste plekke waar ek dit nog mooi sien gebeur is op koerantblaaie wanneer slagoffers hul aanvallers vergewe of Amor en Joost hand om die testament is of Steve Hofmeyer en Anton Goosen mekáár vergewe vir hul musieksmaak asook die uitvoering daarvan.  En ek weet die local koerantjie kom uit op Vrydae.

So toe gebeur wat ek gehoop het, gaan gebeur. Die dominee strip sy moer en sorg dat sy hele diens net oor een woord gaan en dis vergifnis en die vals predikers daar buite wat die christendom wil ontsier met leuens (a.k.a  ék).

En Elsa speel nie te kak nie, maar maak hier en daar gruwelooslik foute. Nietemin spring haar man aan die einde op en lyk presies soos wanneer sy rugbyspan ’n drie gedruk het. Dit fluit en cheer trots op sy vrou se vertoning.  Selfs die orrelspeler was genooi vir tee na afloop van die diens.


Ja. Soms surprise die mens my nog met iets nice. Al wat af en toe nodig is, is iemand wat hulle ’n friendly reminder gee.  Ok?  

Wednesday 29 May 2013

Lus, demmit. Dis lus!

“Wel, dis een versus zero vir vrouens!” en ek roer my laaste slukkie koffie.

“Klara wanneer gaan jy dokter toe? Jy klink soos ’n trekker wat backfire.”

“Man, dokters charge jou toe moer in gone en dit net vir ’n ligte borsverkoue.”

“Ek wil nie weet hoe klink jou swaar borsverkoue as jy hierdie een as lig afmaak nie.”

Susan karring aan my.

“Terug na die punt wat ek wou maak,” probeer ek sarkasties voortstu maar ’n hoesbui oorval my. Fok ek haat dit om siek te wees. Daar is niks in die lewe wat my ouer laat voel as siek-wees nie. Dis nie die pyn en die ongemak nie. Dis die slowing down, die watte-kop, die klank wat jou lyf maak wanneer alles nie 100% klopdisselboom tick nie. Ek voel soos ’n virus, gereed om ander plat te trek met kieme.

“Ek’s trots op Breytenbach en die onverwagse regverdige uitspraak in haar sake. Deesdae voel alles so gevlek met leuens, jy weet nie of jy die patetiese joernaliste se soetsappige stories kan glo of die glibberige politikus wat sy eie belange eerste stel nie. Check nou hierdie Gupta gemors byvoorbeeld.”

“Mens kan sien jy’s siek. Jy’s weer ekstra bedonnerd.”

“Nee,” en nou raak ek gatvol na die herhaalde verwysings na my lyf asof ek ’n vergete skool-kosblikkie is met gemufte brood daarin. “Wat my wel bedonnerd maak is hierdie artikel wat ek gister gelees het op die internet. Hierdie veertienjarige seun wat sy ma, ouma, sewejarige broer en drie maande oue babasussie vermoor het met ’n byl. Nou’s dit weer satan en drugs se skuld.”

“Ja, maar daai mense is maar so deurmekaar. Hulle offer dan katte en al sulke kak goed.”

Ek’s lus vir ’n fight.

“Bullshit. ’n Veertienjarige kind wat vier mense met ’n byl vermoor is meer as net ’n satanis en drug user. Fokkit, hoekom moet alles so verduidelik word en voos geblame word. Kak man, die kind is duidelik die kluts kwyt.”

“Haai Klara, hoe kan jy dit sê? Dis ’n kind.” Susan skuif ongemaklik rond in haar stoel en trek ’n sigaret uit haar pakkie.

Ek besluit om die ketel aan te sit vir nog koffie. Susan kyk my effens bekommerd aan en dan na haar selfoonhorlosie. Sy kan nie te lank bly nie. Kinders en wasgoed. Ek voel ’n veer. Ek soek my soapbox.

“Hierdie blame shifting moet end kry. Die regering doen dit met apartheid. Die dominee blame die duiwel vir sy gemeentelede se swakhede soos owerspel. Onderwysers blame opvoeding vir swak skoolprestasies. En ons? Ons blame enige ding wat bene het om te hardloop. Drugs, bose geeste in die lug, heavy metal, kak ouers, selfs hoë crime syfers en vrees kry die skuld wanneer ’n man die besluit neem om ’n paar skote deur sy badkamerdeur te skiet. Kak!”

Susan sug en hou moedeloos haar leë koffiekoppie na my toe. Sy wil weet wat mense dan eintlik moet blame.

“Die ruggraat is besig om uit te sterf, Susan. Niemand staan op en sê: ‘Sorry ouens, maar dit was ék’, nie. Dis asof die mensdom onbewustelik die seven deadly sins wil verminder na ses.”

Susan verstaan nie. Sy’s nie katoliek nie.

“Lust, Gluttony, Greed, Sloth, Wrath, Envy, Pride. Die kernwoorde van enige goeie storie, by the way. En die mensdom probeer van Lust vergeet.  Niemand wil eenvoudig klink en sê: ‘Want ek was fokkin lus’, nie. Dit pis my af.”

“Fokkit Klara, ek dink jy yl. Jy moet regtig dokter toe gaan. Hoe dink jy gaan dit klink as daai kind moet omdraai en sê hy was lus om vier mense met ’n byl dood te kap. Of die regering omdraai en sê hulle was net eenvoudig lus om korrup te wees. Of Oscar wat hoofopskrifte maak want hy was lus om iemand op ’n toilet te blaas. Niemand sal so stupid wees om dit te sê nie.”


My point exactly.  Niemand het die ballas om eerlik te wees nie, want somtyds klink die waarheid te eenvoudig en stupid om …wel, waar te wees. Die verskoning moet die tragedie match om berusting te veroorsaak. Dit was nie net ’n mal versteurde kind wat vier mense van ’n afstand van dertig sentimeter sy mense soos diere doodgekap het nie. Nee, dit was iets veel ergers as dit. Dit was satan. Dit was iets wat hom buite beheer gedwing het. Dit was vrees. Dit was die bose geeste in die lug. Hierdie land sal net gesond word wanneer ons besef daar’s nie bose geeste nie. Daar’s somtyds iets so eenvoudig soos lus en dit vat ’n man met ’n ruggraat om daardie eenvoudigheid te erken.

Thursday 9 May 2013

Die Pop


Sy sit met haar strooitjie in haar mond. Kort-kort, met ’n sagte “flick”, skuif sy die een haarsliet oor haar skouer met haar gewrig. Dainty. Haar mond lyk soos ’n roosknop gevou om die strooitjie. Haar oë kyk altyd ver. Op ’n manier is hulle nog vol vrae. Maar daar’s ook trots, verwondering, vrees en selfs woede wat ’n onverwagse twinkle gee. Ah, lewe. ’n Besige ene. Haar kop staan nooit stil nie. Alles word ingeneem om haar en verwerk alles in netjiese opstelle. Sy tik met haar strooitjie op die glas se bodem. ’n Paar koeldrankborrels skiet boontoe.

“Sy’s net perfek. Alles wat sy doen, is net perfek. Selfs haar hare is net perfek.”

Sy stamp weer haar strooitjie op die bodem en suig daarna stadig die groen boontoe.
“En sy het hierdie irriterende manier om alles oor te brag. Oee kyk wat het ek sopas reggekry.”
Haar wange kry ’n rooi skynsel. Haar een hand hou nou haar voorkop vas. Sy stoei. Mens kan sien hoe dit blits in haar oë. Vrae, antwoorde, nog vrae, nog antwoorde. Dan kyk sy weer oor my skouer.
“Ek meen, die ander meisie bring verlede week ’n trofee aan wat haar pa gewen het, maar hy het dit ook self gemaak. Hy’t dit gewen by ’n golfdag.” Sy kyk na my oë. “Ek weet, dis weird nè?”
Sy vryf deur haar lang hare. Daar’s ligte sonstrepe daarin. Sy druk ’n stukkie lang kuif agter haar oor in.
“Ons almal het alles wat hulle het, net nie geld nie. Dis al. Maar nou dink hulle hulle is beter as ons. Hoekom?
Dis net geld.”

Ek wil weet hoekom dit haar so eet?

“Want hulle bly brag daaroor. En alles is altyd “net die beste”.

Sy suig haar laaste bietjie koeldrank deur die strooitjie. Dit maak ’n harde geluid. Sy suig die laaste druppel onder op die bodem op, sit terug en kyk na die blou lug bokant haar kop.

“Wat wil jy hê moet gebeur?”

Sy dink nie lank nie. Sy het reeds oor hierdie vraag gedink.

“Ek wil net hê haar ouers moet aan die einde van die maand sukkel met geld. Of sy moet van haar wedstryde verloor. Of sy moet ’n toets dop of iets.” Sy dink of sy nog iets moet byvoeg. Dit lyk of sy dit lank oorweeg. “Sy kan selfs vetter word.”

Ek wil weet hoekom sy spesifiek dit wil hê?

“Ek wil hê sy moet voel hoe dit voel om ’n normale kind te wees. Soos ek. Ons almal is tien. Maar sy is mos little miss perfect. Dit irriteer my.”

“Geld is nie alles nie. Waar jy leer hoe om probleme op te los, gaan daardie kinders dit eendag deur die lewe moet leer. Soos jy verloor jou besigheid, of jou familie of jy word siek of iemand vir wie jy lief is word siek. Daarom sê hulle altyd ‘Geld kan nie alles koop nie.’ Leer eerder van hulle as wat jy dit persoonlik opneem.”
“Daar’s niks fout met my nie. Ek doen sport, ek is okei met skool, ek het maatjies. Sy’s net ryk. Dis soos my ma altyd sê ‘Dit pis haar-af’. Wel, dit pis my ook af. Ek wil net een keer voel hoe dit voel.” Sy tel haar pop van die tafel af en kam deur haar pers hare met ’n plastiek borseltjie.

Somtyds is eerlikheid belangriker as moraliteit en ek laat slip die kragwoord verby my. (Ja, al vloek ekself beteken dit nie ek like dit as jong kinders vloek nie.)

Ek kyk na haar. Hierdie kind is alles behalwe normaal. Om op so ’n jong ouderdom so geïrriteerd met die lewe te wees is gelyk fassinerend en hartseer. Dit breek my hart wanneer die lewe met kinders gebeur. Grootmense se fokkops, ryk mense se afwesigheid, arm mense se daaglikse struggle om te survive, sosiale druk, realiteit, ontnugtering en al wat jy aan kan vasklou is hoeveel verbeelding jy as kind gehad het.
Soos sy my groet gee ek haar en haar pop ’n drukkie. En op daardie oomblik hoop ek sy kan nog ’n rukkie langer popspeel as om te worry oor ’n mislike brat en hoe rykdom jou verander. 

Tuesday 7 May 2013

O Ak, hier's kak.


Mense wat nie “ek” kan sê nie maar eerder dit uitspreek as “ak” het dadelik my aandag en ondersteuning om hul kakebene in toom te hou. By die koffieshop sien ek haar vir die eerste keer. Sy het bruin bop hare, ronde gesiggie en groot bruin oë. Bietjie breed in die heupe en probeer dit wegsteek onder ’n groot top. Sy het ’n armbandjie wat vol klein silwer goedjies hang soos hondjies, katjies en driewiel fietsies. Sy’s in die dorp vir ’n maand, verkoopsdame vir plaasprodukte en dis tyd dat sy haar kliënte persoonlik kom diens.

Mmmmmmmm……

My man het ’n paar dae af om uiteindelik aandag te gee aan al die goed wat hom ’n mens maak. “Dink jy nie mens moet bietjie aandag aan die garage gee nie? Dink jy nie mens moet bietjie die gras sny en die onkruid uit die driveway trek nie?” Dis hoe ek my man ’n mens maak.  Hy het intussen besluit dat hy eers na lunchtyd ’n mens gaan begin word en dus is ons elke oggend in die koffiekroeg vir ’n brêkvis en koffie. Ook die tydelike kantoor van Mej. Ak. en haar persoonlike diens. Nie lank nie of daar word oor die tafel gepraat en nog bietjie later sluit sy by ons aan.

Sy speel met haar bop en bestel vroeg-vroeg haar “slet sappie” want dis so “lakker in die platteland”. Haar hare draai stywer en stywer om haar vinger.

“Ak love dit om nuwe mense te ontmoet. Dis hoekom ak so goed is in my werk.”

Is dit ek of fladder haar oë ’n bietjie meer?

“Ak sê altyd eerlikheid is die mooiste kwaliteit in ’n man. Jy lyk vir my soos so ’n mens.”
My man knik sy kop skaam en bestel vir ons nog ’n rondte koffies.
“Ak is ok so. Ak laaik dit om net eerlik te wees die hele tyd.”

Moerse.

“Klara, waar koop jy jou man se hemde? Hierdie blou bring sy oë flippin goed uit.”
My toekomstige gemoedsbekakking ook.

“Ak love ’n goeie sin vir humor. Jissie jy’s so snaaks!” Hiehiehiehiehiehiehie. ’n Skril giggel trek deur die koffiekroeg na my man se flou Van der Merwe grap. Hy verskoon homself om die garage te gaan tackle. Ek’s effens verlig.  Sy keer hom.

“Jy moet net sê as jy iets vir die tuin kort. Ak het lakker specials aan.”

Natuurlik het jy.

As expected droog die conversation redelik vinnig op. My eerlike snaakse man is mos nie naby nie. As expected draai die gesprek in anyways na hom toe…weer.

“Jissie Klara, jy is so lucky. Ak sal alles gee vir so ’n lekker man soos joune.”

Not surprised. “Dit maak twee van ons,” bulk ek sarkasties in my koffie.

“Ak het nie tans iemand in my lewe nie. My vorige boyfriend het my verneuk, maar hy’s baie spyt hoor. Ak het hom ’n groot les geleer.”

Ok nou’s ek nuuskierig en reken ’n toasted take away behoort genoeg tyd te gee vir hierdie juice bit.
“Ak word nie so verneder nie. Ak was by sy werk en het hom voor almal gaan konfronteer. Toe sit die slet daar en hoor watse asshole hy eintlik is. Jaa, die switchbitch was sy skelmpie toe die hele tyd/deurentyd. Nie gedink ak gaan dit uitvind nie. Ak dink nie sy’t geweet van my nie. Maar na daai dag wéét sy wie ak is. Ak het hom sommer ’n paar keer huis toe gevolg ook. Net om hom te wys hy raak nie so maklik van my ontslae nie. No way hou-zay. Jaaaa! Ak vat nie kak nie. Hy was later so bang, hy’t reguit pote toe gehol met stupid stories van ak wat hom stalk. Kak man! Ak het hulle mooi vertel wie eintlik die vark is. Maar toe besluit ak, nee wat, daar’s ander visse in die see. Ak gaan nie meer my tyd mors met hom nie.”

My bek het oopgehang. Maar nie so groot soos Sarie van Vuuren se mond ’n week later nie. Sy het Mej. Ak van haar plaas afgejaag met haar kwaai donkie toe dié ook gedink het háár man is dan nou so damn eerlik met mooi hemde.

Ja, né…”Lakker in die platteland, my skat.” 

For love Masingo


Ek sal mos ’n aar in my kop bars. Dis hoekom ek nie eintlik uit my huis wil kom nie. So met my skuldgevoel oor Elsa en my min sien in die dorp besluit ek om tog maar die aand kroeg toe te gaan. My man gee my ’n knik en die eerste Irish coffee is bedônerd lekker. Maar die tweede een is nog beter.

Dis die ding van Masingo. Die dag wanneer ek lus is vir Irish coffee, is hy ewe lus om dit te maak, veral as Pietertjie nie daar is nie. Dan gooi hy altyd vir my ’n ekstra knertsie in, for love, jy sien.

Masingo se ma en pa is goeie mense. Hulle het hul lewe lank hard gewerk en besit vandag ’n suksesvolle shop in die township. Masingo swot Business management en werk by die kroeg vir ekstra geld. Ek en Masingo het al tot laat gekuier soos hy my vertel het van sy kinderjare, sy ouers se struggles en alles wat hulle gedoen het, for love. Dit sou ’n geruislose aand vol Irish coffee gewees het. Genuine dit sou.

Maar toe kom stap Trekker Vermeulen in. Een van die ryk boere in die omgewing se seuns. “Daar’s twee dinge wat ek laaik,” sal Trekker altyd lostrek…”Rugby, brannewyn en het ek al genoem brannewyn…” en dan trek hy weg van agter in sy keel en druk sy eie kak grap by sy mond uit. Moerse. Snaaks. Raait.
My man skop my enkel waarskuwend en ek kyk hom met my wenkbroue wat in hul “not amused”-posisie is, aan. Komaan, my eerste aand uit in ’n lang ruk en nou vergas flippin Trekker en sy kak grappe my binne hoorafstand. Not fair.

“Ek sal julle dit vertel. Daar’s nie ’n vrou wat so kan vloek soos Klara Verstom nie! Jinne Klara, kry jy nie skaam nie.”

Sug. “Ja, wel Trekker, party mense verdien elke vloekwoord.” My man frons en wys ek moet diep asem trek. Maar dit was te laat daarvoor.

Trekker was in my visier. Ek het hom dopgehou. Hoe hy lag en hoe hy sy bestellings plaas by Masingo. "Nee, nee Masingo. Praat Afrikaans met my. Ek praat Afrikaans dan kan jy ook met my Afrikaans praat. Hierdie land...Hierdie land kort meer mense wat Afrikaans praat. Maar dis mos 'n free for all houding. Gee net alles weg. Fokkers." 

Soos Trekker sy brannewyn inpak, laat loop Masingo met my Irish coffees. Dis tot vir tot, kop aan kop en ’n botsing wat wag om te gebeur…

“Ek wil nou ietsh vir jou shê Klaratjie,” swing hy hees om die bar counter na my rigting. My naam klink “klaar” en “moeg” op sy lippe. Self effens aangeklam en manlief wat toilet toe is, vat ek my kans en gee hom ’n vriendelike waarskuwingskoot: “Trekker, miskien wil ek fokkol hoor. Gaan huis toe.”

Maar watter dronk man se ore werk ooit behoorlik?

“Klaratjie, ek wil ietsh shê. Ek…ek … hik…kuier nou sho lekker hier by jou en Mashingotjie.”

Masingo kry ’n stink vermoede en wil homself uit die voete maak, maar Trekker se hand val op sy skouer. Masingo gaan nêrens heen nie.

“Wat ek, ou Trekker, nie kan vershtaan nie ish…hoekom kaffersh nie shaam met my wil kuier nie.”
Ek kan nie onthou waar ek hom eerste geklap het nie. Of dit eerste teen sy wang en toe sy oor was en of dit eerste sy oor en toe sy wang was nie, maar dit was beslis twee pielewappers wat van links en regs gekom het.

Trekker was vir ’n split sekonde vreeslik verontwaardig en toe mik hy om te storm. Dis toe Masingo tussen ons kom staan wat Trekker half gestuit het in sy spore.

“Ish jy befok in jou kop Klara!”

“Ek is nie befok nie, maar jy’s ’n doos om so te praat voor Masingo! Wat de fok man Trekker! Jy vergeet hoeveel keer om vir jou vrou dankie te sê vir jou koffie en brêkvis en aandete maar jy kan daai donnerse kak woord net nie vergeet nie!”

Ek het weer gestorm want nou was ek lus om Trekker op sy shins te skop.

“Maar Klaratjie! Ek het dit naaish bedoel. Ek wil hê Mashingotjie moet shaam met my kuier. Maar hy kuier net shaam met jou en nie met my nie.”

“So jy is fokkin stupid Trekker. Hoe welkom dink jy voel Masingo as jy hom eers vloek en dan nooi? Ek sweer, dis sulke goed wat sal sorg dat ek by binnelandse sake gaan vra of ek my ras kan verander en nie net my naam nie. Jou dom fokkin doos!”

Toe ek weer mik na hom het Trekker besluit hy’t genoeg gehad en stamp ’n stoel om soos hy uithardloop nes my man by die toilette uitkom. Hy’t my een kyk gegee.

“Fokkit Klara. Ek het net gaan pis.”

Toe sien hy hoe Masingo lyk. Sy sagte hande was opgekrul in vuiste, sy oë groot, sy kakebeen wat teen mekaar skuur. En daar rol ’n traan oor sy wang. Ek tjank ook. Van woede. Ek loop na Masingo en hou hom vas en ons huil saam. My man het twee en twee bymekaargesit maar was reeds te laat. Trekker se bakkie het weggespin met ’n geskree.

Masingo het “thank you” in my oor gefluister. Ek het nog vloekwoorde vir Trekker in my kop gesê. Masingo moes dit gehoor het. “Let it go Klara. For love.”

Een woord. Een donnerse woord wat my in ’n dier en Masingo in ’n gekweste bok verander. Al die vloekwoorde in die wêreld het nie dieselfde effek as daai een donnerse woord nie. For love, Masingo! 

Monday 6 May 2013

Geloof


Ek het die aanhoudende deurklokkie in alle eerlikheid probeer ignoreer maar die persoon het duidelik nie “nee” gevat as enige antwoord nie. Like really?! Ding Dong. Ding fokkin Dong!

Nou is ek op die oorlogspad want nie net vang die onwelkome gas my in my pajamas nie, dié vang my ook met lang beenhare (hei, die winter is op ons!), my ongekamde hare net in ’n bolla gedruk en nie make up van ’n dag oud nie, maar wel twee dae later… Dis niemand anders as Elsa nie.
“Hallo Klara”, maar ek is reeds by my hek met ’n moerse frons.
“Wat?”
“Niemand het jou hierdie week in die dorp gesien nie, Klara. Ek kom hoor net hoe dit gaan hier by jou.”
“Hoekom sal dit nie fanfokkintasties gaan met my nie?”
“Jy’s so stil Klara. Fokkit, mens worry maar net jy weet. Naasteliefde and all that jazz.”
“Of oor-aktiewe nuuskierigheid,” neul my sarkasme deur my neusgange.
“Is jy en jou man…”
“Is genuine fine dankie. Regtig, betaal niemand in hierdie dorp hulle DSTV premies nie of wat?” Ok, hier het ek effens skuldig gevoel omdat ek steeds ongeskik is met Elsa.

Eers na ’n diep asem het ek myself kalmeer. “Sorry Elsa, ek is op ’n moerse deadline vir Satan. Die Keizer het hierdie keer die onmoontlike van my verwag en ek skryf dat my gat klap. Dit verbaas my dat jy nog nie die klapgeluide gehoor het nie. Ek belowe ek sal vir jou koffie maak en nie jou kop afbyt nie as jy ten minste hier aangekom het met ’n interessante storie.”
Elsa smile breed. “Net so dik ene,” en haar hande lyk soos dié van ’n visserman en daai groot vis.
Ek moes my omtrent beteuel om nie die suiker op my kombuis-counter te mors nie. En Elsa is ook blerrie aspris om nie met die deur in die huis te val nie...
“Nee, fokkit Klara.” Ah, my mees gunsteling manier om ’n storie af te skop. “Jy weet van Mart se nuutste smart?”

Ek het geen idee van Mart se nuutste smart nie. Al wat ek weet is Mart het net na haar egskeiding vreeslik geprewel tot so jaar terug. Soos Andrew Lloyd Weber glo sy nuutste musicals prewel.
Nee, Mart het groot kak met haar eks man. Dié het glo heeltemal die kluts kwyt geraak.”
Ek wil regtig nie uitgehonger lyk nie, maar Elsa gee my geen flippin opsie hier as om te lyk soos ’n hondjie wat smeek vir ’n chop-beentjie nie.
Volgens Elsa is Mart se eks man so gewalg deur haar en hoe sy hulle laaitie grootmaak dat dié nou een vieslike maar glo regtig vieslike brief vir haar gestuur het. Ek’s half teleurgesteld. Is dit nou dit? ’n Brief. Regtig.

Nee, maar dis glo die inhoud wat ’n skrynende skande is.  Ek wil haar eers inlig dat die Huisgenoot weekliks vol van sulke briewe, maar Elsa kom uiteindelik tot verhaal.
Mart het daai kind grootgemaak tussen bloedsweet en verwyte. En nou spoeg hy haat soos ’n draak uit teenoor Mart en maak die lelikste spelfoute oor haar gemoedstoestand. Soveel so dat Mart weer begin prewel het. In die brief noem hy haar by die naam en poes is haar dokter. Daai level. Ek’s beïndruk deur haar eks man se lae IK.  

“Like genuine”. Elsa is ook beïndruk.

Alles wat hy aan haar gedoen het beskuldig hy haar nóú van. Sy maak sy lewe vir hom hel. Sy erken nie sy bestaan nie. Sy is onredelik om net aan te gaan met haar lewe. Die eks man was sy hande Pontius Pilatus-style. Die reality wat nou met hom gebeur is nie sy toedoen nie. En daai reality is niks anders as ontnugtering nie. Reality is ’n sneaky bastard. Reality sal altyd ’n draai kom maak wanneer jy dit in jou mees windgatste stadium nie verwag nie. Altyd. Die eks is glo een kots weg van spontaneous combustion af. Elsa dink dis omdat hy haar niks goeds gun nie, maar dit kan nie net dit wees nie. Die ironie is te dik om ’n wors mee te stop. Dis propvol donkie-kak.

En toe besef ek dit. Mart het survive en die eks haaaaaaaat dit. En toe besef ek nog goed.
I. Dont. Get. Blind. People. Mart en haar man is sewe jaar terug geskei. Hy was happy genoeg daaroor. Toe was hy happy genoeg oor die karige onderhoud wat hy moet betaal. En toe ewe happy oor hy elke hofsaak wat hy teen Mart begin het, kon bekostig het, veroorsaak het en aangewakker gehou het met onbenullige versinsels soos “versteurings”, “bekommernisse”, o en die beste een van als “sy ma sê Mart is onbevoeg…”

Tussen al hierdie aktiwiteite van haat ontwikkel Mart se laaitie in hierdie droom-kind vol liefde en omgee. En hoe harder die eks haar druk, hoe harder druk Mart die lewe om bo uit te kom om uiteindelik vry te wees. Sy het eers ’n paar goed probeer wat aaklig gefail het. Maar nooit het sy ooit gesê “Dis daai eks doos van my se skuld” of “as die fokker net darem bietjie meer onderhoud betaal het” of enige vorm van sulke verwyte nie…Soos hy met haar. Mart het as’t ware haar bek gehou en deurgedruk. Van failed gemmerkoekies-bak tot panties maak vir die local PEP store in ons dorp. Mart gave it her all.

En toe begin Mart klas te gee vir minder bevoorregte kindertjies in ons township oor seksvoorligting en voor Mart “penis” kan sê, is sy ’n gewilde gasspreker vir elke funksie in ’n 1000km radius. Mart het selfs opgehou prewel. En toe ontmoet sy ’n outjie van Bloemfontein wat verlief raak tydens een van haar toesprake oor hoe mooi dit klink as sy die woord “kondoom” sê. Haar nuwe lewe het stadig maar seker begin blom. Soos Mart self sê “Sy was nog nooit so gelukkig nie.” So ook haar laaitie.

Maar nou prewel Mart weer. Oor die vieslike brief. Elsa kan nie verstaan hoekom dit vir Mart so ontstel nie, maar ek weet hoekom. Mart is ook ontnugter. Oor sy geloof en haar geloof en wat daardie geloof jou laat doen as mens. Sien, haar eks man het soveel keer vir Mart verwyt dat hy alles glo wat hy kwytgeraak het. Hy het ongelukkig vergeet van geloof se balansstaat en die krag van woorde. Geloof kan net gee wat jy glo. Dis hoekom die mens die kans gegun is om self te kies. Want jou keuse word jou geloof. En Mart prewel want sy weet niks in sy lewe sal belangriker wees as sy geloof en hoe om daaraan te klou nie. Al beteken dit dat hy al die mooi dinge gaan miskyk. Soos sy wat eintlik ’n goeie ma is. En hoe wonderlik hulle laaitie uitgedraai het danksy háár geloof in liefde. En dis ’n blinde tragedie.