Monday 6 May 2013

Geloof


Ek het die aanhoudende deurklokkie in alle eerlikheid probeer ignoreer maar die persoon het duidelik nie “nee” gevat as enige antwoord nie. Like really?! Ding Dong. Ding fokkin Dong!

Nou is ek op die oorlogspad want nie net vang die onwelkome gas my in my pajamas nie, dié vang my ook met lang beenhare (hei, die winter is op ons!), my ongekamde hare net in ’n bolla gedruk en nie make up van ’n dag oud nie, maar wel twee dae later… Dis niemand anders as Elsa nie.
“Hallo Klara”, maar ek is reeds by my hek met ’n moerse frons.
“Wat?”
“Niemand het jou hierdie week in die dorp gesien nie, Klara. Ek kom hoor net hoe dit gaan hier by jou.”
“Hoekom sal dit nie fanfokkintasties gaan met my nie?”
“Jy’s so stil Klara. Fokkit, mens worry maar net jy weet. Naasteliefde and all that jazz.”
“Of oor-aktiewe nuuskierigheid,” neul my sarkasme deur my neusgange.
“Is jy en jou man…”
“Is genuine fine dankie. Regtig, betaal niemand in hierdie dorp hulle DSTV premies nie of wat?” Ok, hier het ek effens skuldig gevoel omdat ek steeds ongeskik is met Elsa.

Eers na ’n diep asem het ek myself kalmeer. “Sorry Elsa, ek is op ’n moerse deadline vir Satan. Die Keizer het hierdie keer die onmoontlike van my verwag en ek skryf dat my gat klap. Dit verbaas my dat jy nog nie die klapgeluide gehoor het nie. Ek belowe ek sal vir jou koffie maak en nie jou kop afbyt nie as jy ten minste hier aangekom het met ’n interessante storie.”
Elsa smile breed. “Net so dik ene,” en haar hande lyk soos dié van ’n visserman en daai groot vis.
Ek moes my omtrent beteuel om nie die suiker op my kombuis-counter te mors nie. En Elsa is ook blerrie aspris om nie met die deur in die huis te val nie...
“Nee, fokkit Klara.” Ah, my mees gunsteling manier om ’n storie af te skop. “Jy weet van Mart se nuutste smart?”

Ek het geen idee van Mart se nuutste smart nie. Al wat ek weet is Mart het net na haar egskeiding vreeslik geprewel tot so jaar terug. Soos Andrew Lloyd Weber glo sy nuutste musicals prewel.
Nee, Mart het groot kak met haar eks man. Dié het glo heeltemal die kluts kwyt geraak.”
Ek wil regtig nie uitgehonger lyk nie, maar Elsa gee my geen flippin opsie hier as om te lyk soos ’n hondjie wat smeek vir ’n chop-beentjie nie.
Volgens Elsa is Mart se eks man so gewalg deur haar en hoe sy hulle laaitie grootmaak dat dié nou een vieslike maar glo regtig vieslike brief vir haar gestuur het. Ek’s half teleurgesteld. Is dit nou dit? ’n Brief. Regtig.

Nee, maar dis glo die inhoud wat ’n skrynende skande is.  Ek wil haar eers inlig dat die Huisgenoot weekliks vol van sulke briewe, maar Elsa kom uiteindelik tot verhaal.
Mart het daai kind grootgemaak tussen bloedsweet en verwyte. En nou spoeg hy haat soos ’n draak uit teenoor Mart en maak die lelikste spelfoute oor haar gemoedstoestand. Soveel so dat Mart weer begin prewel het. In die brief noem hy haar by die naam en poes is haar dokter. Daai level. Ek’s beïndruk deur haar eks man se lae IK.  

“Like genuine”. Elsa is ook beïndruk.

Alles wat hy aan haar gedoen het beskuldig hy haar nóú van. Sy maak sy lewe vir hom hel. Sy erken nie sy bestaan nie. Sy is onredelik om net aan te gaan met haar lewe. Die eks man was sy hande Pontius Pilatus-style. Die reality wat nou met hom gebeur is nie sy toedoen nie. En daai reality is niks anders as ontnugtering nie. Reality is ’n sneaky bastard. Reality sal altyd ’n draai kom maak wanneer jy dit in jou mees windgatste stadium nie verwag nie. Altyd. Die eks is glo een kots weg van spontaneous combustion af. Elsa dink dis omdat hy haar niks goeds gun nie, maar dit kan nie net dit wees nie. Die ironie is te dik om ’n wors mee te stop. Dis propvol donkie-kak.

En toe besef ek dit. Mart het survive en die eks haaaaaaaat dit. En toe besef ek nog goed.
I. Dont. Get. Blind. People. Mart en haar man is sewe jaar terug geskei. Hy was happy genoeg daaroor. Toe was hy happy genoeg oor die karige onderhoud wat hy moet betaal. En toe ewe happy oor hy elke hofsaak wat hy teen Mart begin het, kon bekostig het, veroorsaak het en aangewakker gehou het met onbenullige versinsels soos “versteurings”, “bekommernisse”, o en die beste een van als “sy ma sê Mart is onbevoeg…”

Tussen al hierdie aktiwiteite van haat ontwikkel Mart se laaitie in hierdie droom-kind vol liefde en omgee. En hoe harder die eks haar druk, hoe harder druk Mart die lewe om bo uit te kom om uiteindelik vry te wees. Sy het eers ’n paar goed probeer wat aaklig gefail het. Maar nooit het sy ooit gesê “Dis daai eks doos van my se skuld” of “as die fokker net darem bietjie meer onderhoud betaal het” of enige vorm van sulke verwyte nie…Soos hy met haar. Mart het as’t ware haar bek gehou en deurgedruk. Van failed gemmerkoekies-bak tot panties maak vir die local PEP store in ons dorp. Mart gave it her all.

En toe begin Mart klas te gee vir minder bevoorregte kindertjies in ons township oor seksvoorligting en voor Mart “penis” kan sê, is sy ’n gewilde gasspreker vir elke funksie in ’n 1000km radius. Mart het selfs opgehou prewel. En toe ontmoet sy ’n outjie van Bloemfontein wat verlief raak tydens een van haar toesprake oor hoe mooi dit klink as sy die woord “kondoom” sê. Haar nuwe lewe het stadig maar seker begin blom. Soos Mart self sê “Sy was nog nooit so gelukkig nie.” So ook haar laaitie.

Maar nou prewel Mart weer. Oor die vieslike brief. Elsa kan nie verstaan hoekom dit vir Mart so ontstel nie, maar ek weet hoekom. Mart is ook ontnugter. Oor sy geloof en haar geloof en wat daardie geloof jou laat doen as mens. Sien, haar eks man het soveel keer vir Mart verwyt dat hy alles glo wat hy kwytgeraak het. Hy het ongelukkig vergeet van geloof se balansstaat en die krag van woorde. Geloof kan net gee wat jy glo. Dis hoekom die mens die kans gegun is om self te kies. Want jou keuse word jou geloof. En Mart prewel want sy weet niks in sy lewe sal belangriker wees as sy geloof en hoe om daaraan te klou nie. Al beteken dit dat hy al die mooi dinge gaan miskyk. Soos sy wat eintlik ’n goeie ma is. En hoe wonderlik hulle laaitie uitgedraai het danksy háár geloof in liefde. En dis ’n blinde tragedie. 

No comments:

Post a Comment