“Wel, dis een versus zero
vir vrouens!” en ek roer my laaste slukkie koffie.
“Klara wanneer gaan jy
dokter toe? Jy klink soos ’n trekker wat backfire.”
“Man, dokters charge
jou toe moer in gone en dit net vir ’n ligte borsverkoue.”
“Ek wil nie weet hoe
klink jou swaar borsverkoue as jy hierdie een as lig afmaak nie.”
Susan karring aan my.
“Terug na die punt wat
ek wou maak,” probeer ek sarkasties voortstu maar ’n hoesbui oorval my. Fok ek
haat dit om siek te wees. Daar is niks in die lewe wat my ouer laat voel as
siek-wees nie. Dis nie die pyn en die ongemak nie. Dis die slowing down, die
watte-kop, die klank wat jou lyf maak wanneer alles nie 100% klopdisselboom
tick nie. Ek voel soos ’n virus, gereed om ander plat te trek met kieme.
“Ek’s trots op
Breytenbach en die onverwagse regverdige uitspraak in haar sake. Deesdae voel
alles so gevlek met leuens, jy weet nie of jy die patetiese joernaliste se
soetsappige stories kan glo of die glibberige politikus wat sy eie belange
eerste stel nie. Check nou hierdie Gupta gemors byvoorbeeld.”
“Mens kan sien jy’s
siek. Jy’s weer ekstra bedonnerd.”
“Nee,” en nou raak ek
gatvol na die herhaalde verwysings na my lyf asof ek ’n vergete skool-kosblikkie
is met gemufte brood daarin. “Wat my wel bedonnerd maak is hierdie artikel wat
ek gister gelees het op die internet. Hierdie veertienjarige seun wat sy ma,
ouma, sewejarige broer en drie maande oue babasussie vermoor het met ’n byl.
Nou’s dit weer satan en drugs se skuld.”
“Ja, maar daai mense
is maar so deurmekaar. Hulle offer dan katte en al sulke kak goed.”
Ek’s lus vir ’n fight.
“Bullshit. ’n Veertienjarige
kind wat vier mense met ’n byl vermoor is meer as net ’n satanis en drug user.
Fokkit, hoekom moet alles so verduidelik word en voos geblame word. Kak man,
die kind is duidelik die kluts kwyt.”
“Haai Klara, hoe kan
jy dit sê? Dis ’n kind.” Susan skuif ongemaklik rond in haar stoel en trek ’n sigaret
uit haar pakkie.
Ek besluit om die ketel
aan te sit vir nog koffie. Susan kyk my effens bekommerd aan en dan na haar
selfoonhorlosie. Sy kan nie te lank bly nie. Kinders en wasgoed. Ek voel ’n veer.
Ek soek my soapbox.
“Hierdie blame shifting
moet end kry. Die regering doen dit met apartheid. Die dominee blame die duiwel
vir sy gemeentelede se swakhede soos owerspel. Onderwysers blame opvoeding vir
swak skoolprestasies. En ons? Ons blame enige ding wat bene het om te hardloop.
Drugs, bose geeste in die lug, heavy metal, kak ouers, selfs hoë crime syfers en vrees kry die skuld wanneer ’n man
die besluit neem om ’n paar skote deur sy badkamerdeur te skiet. Kak!”
Susan sug en hou
moedeloos haar leë koffiekoppie na my toe. Sy wil weet wat mense dan eintlik
moet blame.
“Die ruggraat is besig
om uit te sterf, Susan. Niemand staan op en sê: ‘Sorry ouens, maar dit was ék’,
nie. Dis asof die mensdom onbewustelik die seven deadly sins wil verminder na
ses.”
Susan verstaan nie. Sy’s
nie katoliek nie.
“Lust, Gluttony,
Greed, Sloth, Wrath, Envy, Pride. Die kernwoorde van enige goeie storie, by the
way. En die mensdom probeer van Lust
vergeet. Niemand wil eenvoudig klink en
sê: ‘Want ek was fokkin lus’, nie. Dit pis my af.”
“Fokkit Klara, ek dink
jy yl. Jy moet regtig dokter toe gaan. Hoe dink jy gaan dit klink as daai kind
moet omdraai en sê hy was lus om vier mense met ’n byl dood te kap. Of die
regering omdraai en sê hulle was net eenvoudig lus om korrup te wees. Of Oscar
wat hoofopskrifte maak want hy was lus om iemand op ’n toilet te blaas. Niemand
sal so stupid wees om dit te sê nie.”
My point exactly. Niemand het die ballas om eerlik te wees nie,
want somtyds klink die waarheid te eenvoudig en stupid om …wel, waar te wees. Die
verskoning moet die tragedie match om berusting te veroorsaak. Dit was nie net ’n
mal versteurde kind wat vier mense van ’n afstand van dertig sentimeter sy mense soos diere doodgekap het nie. Nee, dit was iets veel ergers as dit. Dit was
satan. Dit was iets wat hom buite beheer gedwing het. Dit was vrees. Dit was
die bose geeste in die lug. Hierdie land sal net gesond word wanneer ons besef
daar’s nie bose geeste nie. Daar’s somtyds iets so eenvoudig soos lus en dit
vat ’n man met ’n ruggraat om daardie eenvoudigheid te erken.
No comments:
Post a Comment