Sy sit met haar
strooitjie in haar mond. Kort-kort, met ’n sagte “flick”, skuif sy die een
haarsliet oor haar skouer met haar gewrig. Dainty. Haar mond lyk soos ’n
roosknop gevou om die strooitjie. Haar oë kyk altyd ver. Op ’n manier is hulle
nog vol vrae. Maar daar’s ook trots, verwondering, vrees en selfs woede wat ’n
onverwagse twinkle gee. Ah, lewe. ’n Besige ene. Haar kop staan nooit stil nie.
Alles word ingeneem om haar en verwerk alles in netjiese opstelle. Sy tik met
haar strooitjie op die glas se bodem. ’n Paar koeldrankborrels skiet boontoe.
“Sy’s net perfek.
Alles wat sy doen, is net perfek. Selfs haar hare is net perfek.”
Sy stamp weer haar
strooitjie op die bodem en suig daarna stadig die groen boontoe.
“En sy het hierdie
irriterende manier om alles oor te brag.
Oee kyk wat het ek sopas reggekry.”
Haar wange kry ’n rooi
skynsel. Haar een hand hou nou haar voorkop vas. Sy stoei. Mens kan sien hoe
dit blits in haar oë. Vrae, antwoorde, nog vrae, nog antwoorde. Dan kyk sy weer
oor my skouer.
“Ek meen, die ander
meisie bring verlede week ’n trofee aan wat haar pa gewen het, maar hy het dit
ook self gemaak. Hy’t dit gewen by ’n golfdag.” Sy kyk na my oë. “Ek weet, dis
weird nè?”
Sy vryf deur haar lang
hare. Daar’s ligte sonstrepe daarin. Sy druk ’n stukkie lang kuif agter haar
oor in.
“Ons almal het alles
wat hulle het, net nie geld nie. Dis al. Maar nou dink hulle hulle is beter as
ons. Hoekom?
Dis net geld.”
Ek wil weet hoekom dit
haar so eet?
“Want hulle bly brag daaroor. En alles is altyd “net die
beste”.
Sy suig haar laaste
bietjie koeldrank deur die strooitjie. Dit maak ’n harde geluid. Sy suig die
laaste druppel onder op die bodem op, sit terug en kyk na die blou lug bokant
haar kop.
“Wat wil jy hê moet
gebeur?”
Sy dink nie lank nie.
Sy het reeds oor hierdie vraag gedink.
“Ek wil net hê haar
ouers moet aan die einde van die maand sukkel met geld. Of sy moet van haar
wedstryde verloor. Of sy moet ’n toets dop of iets.” Sy dink of sy nog iets
moet byvoeg. Dit lyk of sy dit lank oorweeg. “Sy kan selfs vetter word.”
Ek wil weet hoekom sy
spesifiek dit wil hê?
“Ek wil hê sy moet
voel hoe dit voel om ’n normale kind te wees. Soos ek. Ons almal is tien. Maar
sy is mos little miss perfect. Dit irriteer my.”
“Geld is nie alles
nie. Waar jy leer hoe om probleme op te los, gaan daardie kinders dit eendag
deur die lewe moet leer. Soos jy verloor jou besigheid, of jou familie of jy
word siek of iemand vir wie jy lief is word siek. Daarom sê hulle altyd ‘Geld
kan nie alles koop nie.’ Leer eerder van hulle as wat jy dit persoonlik
opneem.”
“Daar’s niks fout met
my nie. Ek doen sport, ek is okei met skool, ek het maatjies. Sy’s net ryk. Dis
soos my ma altyd sê ‘Dit pis haar-af’. Wel, dit pis my ook af. Ek wil net een
keer voel hoe dit voel.” Sy tel haar pop van die tafel af en kam deur haar pers
hare met ’n plastiek borseltjie.
Somtyds is eerlikheid
belangriker as moraliteit en ek laat slip die kragwoord verby my. (Ja, al vloek
ekself beteken dit nie ek like dit as jong kinders vloek nie.)
Ek kyk na haar.
Hierdie kind is alles behalwe normaal. Om op so ’n jong ouderdom so geïrriteerd
met die lewe te wees is gelyk fassinerend en hartseer. Dit breek my hart
wanneer die lewe met kinders gebeur. Grootmense se fokkops, ryk mense se
afwesigheid, arm mense se daaglikse struggle om te survive, sosiale druk,
realiteit, ontnugtering en al wat jy aan kan vasklou is hoeveel verbeelding jy
as kind gehad het.
Soos sy my groet gee ek haar en haar pop ’n
drukkie. En op daardie oomblik hoop ek sy kan nog ’n rukkie langer popspeel as
om te worry oor ’n mislike brat en hoe rykdom jou verander.
No comments:
Post a Comment