Ek sal mos ’n aar in
my kop bars. Dis hoekom ek nie eintlik uit my huis wil kom nie. So met my
skuldgevoel oor Elsa en my min sien in die dorp besluit ek om tog maar die aand
kroeg toe te gaan. My man gee my ’n knik en die eerste Irish coffee is bedônerd
lekker. Maar die tweede een is nog beter.
Dis die ding van
Masingo. Die dag wanneer ek lus is vir Irish coffee, is hy ewe lus om dit te
maak, veral as Pietertjie nie daar is nie. Dan gooi hy altyd vir my ’n ekstra
knertsie in, for love, jy sien.
Masingo se ma en pa is
goeie mense. Hulle het hul lewe lank hard gewerk en besit vandag ’n suksesvolle
shop in die township. Masingo swot Business management en werk by die kroeg vir
ekstra geld. Ek en Masingo het al tot laat gekuier soos hy my vertel het van sy
kinderjare, sy ouers se struggles en alles wat hulle gedoen het, for love. Dit
sou ’n geruislose aand vol Irish coffee gewees het. Genuine dit sou.
Maar toe kom stap
Trekker Vermeulen in. Een van die ryk boere in die omgewing se seuns. “Daar’s
twee dinge wat ek laaik,” sal Trekker altyd lostrek…”Rugby, brannewyn en het ek
al genoem brannewyn…” en dan trek hy weg van agter in sy keel en druk sy eie
kak grap by sy mond uit. Moerse. Snaaks. Raait.
My man skop my enkel
waarskuwend en ek kyk hom met my wenkbroue wat in hul “not amused”-posisie is,
aan. Komaan, my eerste aand uit in ’n lang ruk en nou vergas flippin Trekker en
sy kak grappe my binne hoorafstand. Not fair.
“Ek sal julle dit
vertel. Daar’s nie ’n vrou wat so kan vloek soos Klara Verstom nie! Jinne
Klara, kry jy nie skaam nie.”
Sug. “Ja, wel Trekker,
party mense verdien elke vloekwoord.” My man frons en wys ek moet diep asem
trek. Maar dit was te laat daarvoor.
Trekker was in my visier. Ek het hom dopgehou. Hoe hy lag en hoe hy sy bestellings plaas by Masingo. "Nee, nee Masingo. Praat Afrikaans met my. Ek praat Afrikaans dan kan jy ook met my Afrikaans praat. Hierdie land...Hierdie land kort meer mense wat Afrikaans praat. Maar dis mos 'n free for all houding. Gee net alles weg. Fokkers."
Soos Trekker sy
brannewyn inpak, laat loop Masingo met my Irish coffees. Dis tot vir tot, kop
aan kop en ’n botsing wat wag om te gebeur…
“Ek wil nou ietsh vir
jou shê Klaratjie,” swing hy hees om
die bar counter na my rigting. My
naam klink “klaar” en “moeg” op sy lippe. Self effens aangeklam en manlief wat
toilet toe is, vat ek my kans en gee hom ’n vriendelike waarskuwingskoot:
“Trekker, miskien wil ek fokkol hoor. Gaan huis toe.”
Maar watter dronk man
se ore werk ooit behoorlik?
“Klaratjie, ek wil
ietsh shê. Ek…ek … hik…kuier nou sho lekker hier by jou en Mashingotjie.”
Masingo kry ’n stink
vermoede en wil homself uit die voete maak, maar Trekker se hand val op sy
skouer. Masingo gaan nêrens heen nie.
“Wat ek, ou Trekker,
nie kan vershtaan nie ish…hoekom kaffersh nie shaam met my wil kuier nie.”
Ek kan nie onthou waar
ek hom eerste geklap het nie. Of dit eerste teen sy wang en toe sy oor was en
of dit eerste sy oor en toe sy wang was nie, maar dit was beslis twee
pielewappers wat van links en regs gekom het.
Trekker was vir ’n
split sekonde vreeslik verontwaardig en toe mik hy om te storm. Dis toe Masingo
tussen ons kom staan wat Trekker half gestuit het in sy spore.
“Ish jy befok in jou
kop Klara!”
“Ek is nie befok nie,
maar jy’s ’n doos om so te praat voor Masingo! Wat de fok man Trekker! Jy
vergeet hoeveel keer om vir jou vrou dankie te sê vir jou koffie en brêkvis en
aandete maar jy kan daai donnerse kak woord net nie vergeet nie!”
Ek het weer gestorm
want nou was ek lus om Trekker op sy shins
te skop.
“Maar Klaratjie! Ek
het dit naaish bedoel. Ek wil hê Mashingotjie moet shaam met my kuier. Maar hy
kuier net shaam met jou en nie met my nie.”
“So jy is fokkin
stupid Trekker. Hoe welkom dink jy voel Masingo as jy hom eers vloek en dan
nooi? Ek sweer, dis sulke goed wat sal sorg dat ek by binnelandse sake gaan vra
of ek my ras kan verander en nie net my naam nie. Jou dom fokkin doos!”
Toe ek weer mik na hom
het Trekker besluit hy’t genoeg gehad en stamp ’n stoel om soos hy uithardloop
nes my man by die toilette uitkom. Hy’t my een kyk gegee.
“Fokkit Klara. Ek het
net gaan pis.”
Toe sien hy hoe
Masingo lyk. Sy sagte hande was opgekrul in vuiste, sy oë groot, sy kakebeen
wat teen mekaar skuur. En daar rol ’n traan oor sy wang. Ek tjank ook. Van
woede. Ek loop na Masingo en hou hom vas en ons huil saam. My man het twee en
twee bymekaargesit maar was reeds te laat. Trekker se bakkie het weggespin met ’n
geskree.
Masingo het “thank
you” in my oor gefluister. Ek het nog vloekwoorde vir Trekker in my kop gesê.
Masingo moes dit gehoor het. “Let it go Klara. For love.”
Een woord. Een
donnerse woord wat my in ’n dier en Masingo in ’n gekweste bok verander. Al die
vloekwoorde in die wêreld het nie dieselfde effek as daai een donnerse woord
nie. For love, Masingo!
No comments:
Post a Comment