Tuesday 7 May 2013

O Ak, hier's kak.


Mense wat nie “ek” kan sê nie maar eerder dit uitspreek as “ak” het dadelik my aandag en ondersteuning om hul kakebene in toom te hou. By die koffieshop sien ek haar vir die eerste keer. Sy het bruin bop hare, ronde gesiggie en groot bruin oë. Bietjie breed in die heupe en probeer dit wegsteek onder ’n groot top. Sy het ’n armbandjie wat vol klein silwer goedjies hang soos hondjies, katjies en driewiel fietsies. Sy’s in die dorp vir ’n maand, verkoopsdame vir plaasprodukte en dis tyd dat sy haar kliënte persoonlik kom diens.

Mmmmmmmm……

My man het ’n paar dae af om uiteindelik aandag te gee aan al die goed wat hom ’n mens maak. “Dink jy nie mens moet bietjie aandag aan die garage gee nie? Dink jy nie mens moet bietjie die gras sny en die onkruid uit die driveway trek nie?” Dis hoe ek my man ’n mens maak.  Hy het intussen besluit dat hy eers na lunchtyd ’n mens gaan begin word en dus is ons elke oggend in die koffiekroeg vir ’n brêkvis en koffie. Ook die tydelike kantoor van Mej. Ak. en haar persoonlike diens. Nie lank nie of daar word oor die tafel gepraat en nog bietjie later sluit sy by ons aan.

Sy speel met haar bop en bestel vroeg-vroeg haar “slet sappie” want dis so “lakker in die platteland”. Haar hare draai stywer en stywer om haar vinger.

“Ak love dit om nuwe mense te ontmoet. Dis hoekom ak so goed is in my werk.”

Is dit ek of fladder haar oë ’n bietjie meer?

“Ak sê altyd eerlikheid is die mooiste kwaliteit in ’n man. Jy lyk vir my soos so ’n mens.”
My man knik sy kop skaam en bestel vir ons nog ’n rondte koffies.
“Ak is ok so. Ak laaik dit om net eerlik te wees die hele tyd.”

Moerse.

“Klara, waar koop jy jou man se hemde? Hierdie blou bring sy oë flippin goed uit.”
My toekomstige gemoedsbekakking ook.

“Ak love ’n goeie sin vir humor. Jissie jy’s so snaaks!” Hiehiehiehiehiehiehie. ’n Skril giggel trek deur die koffiekroeg na my man se flou Van der Merwe grap. Hy verskoon homself om die garage te gaan tackle. Ek’s effens verlig.  Sy keer hom.

“Jy moet net sê as jy iets vir die tuin kort. Ak het lakker specials aan.”

Natuurlik het jy.

As expected droog die conversation redelik vinnig op. My eerlike snaakse man is mos nie naby nie. As expected draai die gesprek in anyways na hom toe…weer.

“Jissie Klara, jy is so lucky. Ak sal alles gee vir so ’n lekker man soos joune.”

Not surprised. “Dit maak twee van ons,” bulk ek sarkasties in my koffie.

“Ak het nie tans iemand in my lewe nie. My vorige boyfriend het my verneuk, maar hy’s baie spyt hoor. Ak het hom ’n groot les geleer.”

Ok nou’s ek nuuskierig en reken ’n toasted take away behoort genoeg tyd te gee vir hierdie juice bit.
“Ak word nie so verneder nie. Ak was by sy werk en het hom voor almal gaan konfronteer. Toe sit die slet daar en hoor watse asshole hy eintlik is. Jaa, die switchbitch was sy skelmpie toe die hele tyd/deurentyd. Nie gedink ak gaan dit uitvind nie. Ak dink nie sy’t geweet van my nie. Maar na daai dag wéét sy wie ak is. Ak het hom sommer ’n paar keer huis toe gevolg ook. Net om hom te wys hy raak nie so maklik van my ontslae nie. No way hou-zay. Jaaaa! Ak vat nie kak nie. Hy was later so bang, hy’t reguit pote toe gehol met stupid stories van ak wat hom stalk. Kak man! Ak het hulle mooi vertel wie eintlik die vark is. Maar toe besluit ak, nee wat, daar’s ander visse in die see. Ak gaan nie meer my tyd mors met hom nie.”

My bek het oopgehang. Maar nie so groot soos Sarie van Vuuren se mond ’n week later nie. Sy het Mej. Ak van haar plaas afgejaag met haar kwaai donkie toe dié ook gedink het háár man is dan nou so damn eerlik met mooi hemde.

Ja, né…”Lakker in die platteland, my skat.” 

No comments:

Post a Comment