Thursday 25 April 2013

Long way boontoe


Beide sit voor hulle en staar. Sy aan die linkerkant en hy aan die regterkant. Buite waai die wind effens. Hy vat sy pakkie sigarette en haal ’n sigaret uit, hou een na haar. Hy vat sy lighter. Kliek. Kliek. Kliek. Niks. Sy vat haar lighter en hou die vlammetjie na hom. Sy steek sy sigaret aan en hare ook. Beide trek diep in en blaas stadig die rook voor hulle uit.
“Ek’s fokkin moeg,” sê hy.
“Ek’s fokkin fokkin moeg,” sê sy.
Hulle trek weer aan hulle sigarette.
“Ek’s fokkin fokkin fokkin moeg,” sê hy.
“Ek’s fokkin fokkin fokkin fôôkin moeg,” sê sy.
Beide sug amper tegelyk.
“Ek is so fokkin moeg, ek weet nie hoe gaan ek opstaan nie,” sê hy.
“Ek’s so fokkin moeg, dis ’n wonder ek rook hierdie sigaret,” sê sy.
Hy blaas ’n klein sirkeltjie rook. Dit beweeg stadig vorentoe deur die lug.
Om draad te trek met protes is uitputtend. Liefde is soms uitputtend. En dreinerend, onregverdig, maar die ergste van als en meeste van die tyd, onverwags goed of sleg of albei.
“Ek’s so fokkin moeg, ek twyfel of jy ooit weer gaan seks hê.”
Sy glimlag.
“Nee wat, ek ken jou goed genoeg.”
Hy glimlag.
“Ons sal sien,” try sy flou twyfel saai, maar altwee weet.
Sy hand vou om hare.
“Jy ok?”
Haar ken sak skuins regs. Net by hom. By ander is dit altyd vorentoe, uitdagend, ’n muur.
“Ja. En jy?”
Hy knik.
“So, dis hoe ’n nervous breakdown lyk.”
“Jip,” sê hy en skud die as van sy sigaret met ’n bewerige duim in die asbakkie tussen hulle af.
“Intens.” Sy trek haar sigaret rooiwarm. “Alhoewel, ek dink nie jy verdien een nie.”
“Verdien ek darem skoon klere? Asseblief Klara. Ek dra al my onderbroeke onderstebo.”
“Ok. Noudat ek verstaan wat aangaan. Dis fine.”
Hy trek die laaste stukkie sigaret tot by die filter en blaas ietwat dankbaar die wit rook by sy mond uit.
“Fokkit.” Hy leun moeg vorentoe. “Gaan ons boontoe?”
Sy kyk vir hom.
“It’s a long way up, maar ek’s game.”
“Ek ook.” Hy gee haar hand ’n stewige druk.
Sy staan stadig van die rusbank op, trek aan sy arm. Hulle klim die trappe na hul kamer op.

No comments:

Post a Comment