Thursday, 4 April 2013

Die ander Braveheart


Nee, ek is nie net verstom nie, maar kontverstom. Man dis seker so drie dae terug, stap die oulike paartjie by die koffiekroeg in.

Uitlanders. Sy’s van Amerika, hy’s van Skotland. Ek kan nie dit verander nie. Dit kan net werk as ek by die waarheid hou. Ja, sy aksent het my net daar opgetrip. ’n Skotse aksent is soos Lindt sjokolade. Dit drup van die mens se lippe af en klink vreeslik onskuldig. Jy vermoed nie kilojoules is betrokke nie. Die Amerikaner aan die ander kant nie so veel nie. ’n Amerikaanse aksent klink te selfversekerd en elke woord word verkeerd geklem wat weer die pretensie uitlig, want my weer grensloos irriteer. Eintlik heeltemal onskuldig maar dit kom nie so oor nie.

Man die tweetjies lyk so verlief. En dit koer oor die rim van Suid-Afrikaanse biere en dit smootch oor die vars tjips en vis. Everrrrrything’s to die forrrrr, oh my God!
En die Skot is mooi, hoor. Lank, aantreklik, sterk kakebeen, uitgestort. Nie aanstellerig nie. Stillerig en antwoord elke vraag ordentlik en deeglik. So in control.

Ja, ons is eintlik nie gewoond aan oversees mense hier op die dorp nie. Maar ons weet daar’s baie troues by die kerkie by die spruit en somtyds is ons lucky vir die internasionale blootstelling.
Sy werk vir ’n selfoon maatskappy in Amerika. Lang blonde hare, lang hoëhakskoene, kuite wat kans sien vir ’n berg of twee. Ja, sy moes leer van buffering want by hulle bestaan die woord nie eers in hulle woordeboeke nie.

Wat ek die meeste van haar gehou het, is haar ywerigheid om nuwe goed te probeer al het haar aksent haar elke keer in die speke laat rondrol soos haar “rrrr”.  En sweet man, soos stroop. Candy. Sy’t my laat dink aan regte egte Amerikaanse candy sweeties.

Hulle het vroeër Suid-Afrika toe gekom omdat mense hulle ge”dare” het. Toe maak hulle hul verblyf sommer ’n week lank om die punt huis toe te stuur dat alhoewel Suid-Afrika ’n “very dangerous country”  is, hulle lus is vir alles wat vars en die ene avontuur is. Sy meen, sy date mos nou die Skot. Braveheart and all that. Soen-soen, handjies vashou, blink oë vol sterre. Te pragtig.

Jong liefde. Somtyds mis ek dit. Al daai butterflies en electrifying oomblikke gelaai met lus en hoop. Dis eers later wat die gemak en die “te gemaklik” kom. Soos poep orals onbehoorlik behalwe voor sy ma ens.
So stap die twee tortelduifies weer in die koffiekroeg in gisteraand. Almal is vreeslik bly om hulle te sien. Reeds ’n funksionele Suid-Afrikaanse “family” gemaak. So tuis. Soos ’n plek waar almal jou naam ken. “Yes, just like Cheers. Cheerrrrs!”

Hulle het hul Suid-Afrikaanse draught bestel en hy het ’n oproep ontvang en hy’s uit by die deur.
Tien minute later het haar onskuldige oë rondgekyk en haar selfoon was in haar hande.
Twintig minute later het sy net vir haar selfoon gekyk.

Dertig minute later het ek aangebied om hom te gaan soek. Ek het nie gedink dat dit moontlik was dat hy kon verdwaal het nie. Daar is net een straat in ons dorp. Jy volg basies die lamppale. Maar so stap ek op na die kroeg en weliswaar sit die Skot daar asof hy daar hoort. Praat land en sand met ander klomp mans wat sy aksent netso waardeer het soos ek.

“I’m sorry but you forgot your girlfriend in the coffee shop.”

“Noooooo. We had a little domestic,” het sy klanke afgestomp uitgerol uit sy mond. Dit het my verbaas. Ek weet hoe lyk ’n vrou wat sopas deur ’n “little domestic” was. Sy het nie kalmte nie en nog minder vraagtekens in haar oë. Nee, ’n vrou wat deur ’n “little domestic” is se oë is vol fronse en woede en teleurstelling. Daar was nie so iets nie. Hoop was nog tuis.

“But I think you need to come and sort it out, because she’s waiting for you.”

“Nooooo Klêra. It’s faain. She’s got money. She’s got the hotel key. She’s faain.” En as nagedagte, die doodskoot: “Just don’t tell her where I am…”

En net daar skop my kontverstommigheid in. What the fucking Braveheart is hierdie ou se probleem?

“Did you find him?” Sy het so bekommerd gelyk. En onskuldig. En verward. En out of place. Make up kan nie alles toemaak nie.

Nadat ek haar alles vertel het, het sy begin stap na die kroeg toe. Sy was geheel en al verbaas, verstrooid, destroyed…ag fok ek het elke oomblik gehaat.

By die kroeg het hulle laat weet sy het ingestap, uitgebars in trane nadat sy rug haar gegroet het en toe het sy omgedraai en uitgestap. Ek weet ek sal haar nooit weer sien nie. Ek hoop wel ek sien hom nooit weer nie. 

Nou’s ek sommer kwaad vir my man ook. 

No comments:

Post a Comment