Dis nou al die
hoeveelste keer wat ek my vinger met ’n glas sny. Ek voel kompleet soos ’n
ongeluksvoël op Thanksgiving Day in Amerika. As ek net my hande kan stil kry. Maar
dit bly onrustig rondsoek, vat en klem.
’n Digter het lank
gelede geskryf “Sy’s Petunias en ’n hand vol glas.” Nog een het ook verwys na
glas as ’n spieël wat gebreek het “tussen my en hom.” En in laas week het die Boston Marathon soveel tragedie beleef met twee bomme en mense fyn en
flenters gesny was deur glasskerwe onder andere.
Wanneer glas jou sny
is daar ’n skok wat deur jou lyf trek. Jou eerste reaksie is om te kyk hoe diep
dit is, maar ook nie. Jy kyk eers weg, kry moed en kyk dan na die bloed wat
reeds begin uitsypel. Vir ’n split sekonde admireer jy die helder rooi
bevestiging van lewe. Dan skrik jy vir die diepte van die sny.
Jy roep die file in
jou kop op oor noodhulp en hou jou hand bo jou hart want jy kan nie vinnig
genoeg ’n pleister kry of staaldruppels nie. Die enigste ding naby genoeg is
altyd jou mooiste en gunsteling vadoek. Die een met die mooi kleure op. Die een
wat jy deeglik uitgesoek het toe jy die besluit geneem het om jou kombuis ten
einde laaste ’n tema te gee maar helaas net opgeëindig het met die een mooi
flippin vadoek.
Die pyn duur gewoonlik
nie lank nie. Dis eers wanneer jy jouself gedokter het en alles onder watte en
pleisters begrawe is, wat jy kort-kort herinner word aan jou ongeluk met ’n
dowwe pyn. An unfriendly reminder van jou stupidity and clumsiness.
Na ’n week kan jy nie
meer wag nie en jy maak die pleister versigtig oop om te kyk hoe dit lyk. Dis
nooit ’n mooi wond nie. Net dokters sal sê “Jou wond genees mooi.”
Ek het foto’s gesien
van die Boston bomme. Mense wat soos zombies voor hulle staar met bloed oor
hulle klere, ander wat angsbevange rondom hulle kyk en tegelyk dankbaar en
skuldig voel oor hulle enige besering gespaar is.
In ’n oogwink het al
hulle lewens onherroeplik verander met ’n onvoorsiene ondenkbare slag.
Slagoffers met vrae van onskuld in hulle oë: Hoekom het hierdie gebeur? Wie het
hierdie afskuwelikheid beplan en uitgevoer? Hoekom so ongenaakbaar? Hoekom met
kinders en families by? Hoekom, hoekom, hoekom?
Elke nuusbulletin het
elke hoek ontleed. Die tyd wat dit ontplof het, die datum, die intensiteit van
die slag, die skade. Ander mense wat probeer sin maak, oplossings kry, logiese
antwoorde vir die ongelooflike koudbloedige daad. Maar vrae gee kraampyne aan
nog vrae. Op die ou end is dit een massiewe verwarring en ’n gat vol seer,
geskokte, stukkende siele wat stukkies moet optel om van vooraf te begin.
Daar’s vrees, woede, bitterheid, spyt, alles ongevraagde resultate wat skielik
nuwe uitdagings is om te oorkom. Hoe doen jy dit sonder antwoorde?
Die een sny op my duim
het ’n dik lagie vel geword. My duim protesteer as ek dit doelbewus probeer
vorentoe buig. Onthou jy nie? Jy het ’n glas probeer vang. My ander sny op my
ringvinger is nog onder die pleister, dag drie, nog vier om te gaan.
Die ding wat my die
meeste optrip na die tyd is hoekom dit so ’n belangrike ingesteldheid is om
goed te red. Dis ’n natuurlike reaksie om dit wat val te probeer keer. Na die
tyd besef jy eers hoe gevaarlik, hoe erger dit kon gewees het. Jy weeg die waarde van die glas teenoor die
seer en die moontlike erger beserings op en dít laat jou nog meer soos ’n idiot
voel. Niemand is ’n hero omdat hy ’n glas “gered” het nie. ’n Hero red tog iets
met waarde.
Ek het al hierdie goed
vanoggend aan gedink nadat hy vir my gesê het hy wil skei. En toe onthou ek
elke oomblik toe ek dit probeer keer het en die snye vol verwyte en die skok en
die seer. Die ontnugtering. Asof nugter ’n stunning kwaliteit vir ’n mens se
karakter is as oppose to normale
verwagte optrede. Eers wanneer jy jou nugterheid kwyt is, lyk ontnugtering
skielik soos ’n dronk fokker wat al swaaiende oor jou lyk loop.
Die vrae en
herinneringe word beide plekke van aanbidding en gevangenis. Vrees en hoop
terwyl jy soek na left overs van liefde. Enige gebaar, al koop hy net ’n pakkie
sigarette vir jou. Hoop. Tot hy sy mond oopmaak en nog ’n verwyt val uit. Jy probeer weer keer maar die volgende verwyt is reeds daar. Nog ’n
slag en nog ’n slag. Teef. Jy bestaan nie meer vir my nie. Ek gee nie meer om
nie. Elke slag vat nog ’n hap uit jou lyf. Na tien minute versuip jy as ’n klein
krieseltjie met al die swaar aanklagtes om jou nek wat jou blou wurg. Jy soek
asem maar hy was jou asem.
Mense wat liefde verloor lyk soos iemand wie se kop
in ’n papiersak gedruk word. Onthou jy die dag voor die garage en ons gehuil
het om bye te sê toe jy oorsee gaan werk het? En jy snak na asem. Onthou jy toe
ons verlede Dinsdag so gelag het? En jy trek harder om nog ’n bietjie suurstof te kry.
Onthou jy hoe jy my elke aand bymekaarmaak in jou arms voor jy aan die slaap
raak? En skielik is daar niks. En jy vrek net daar soos ’n hond.
Vanoggend op pad werk
toe, toe ons in die kar klim en die radio aansit. Toe begin ’n song speel. My
begrafnislied? Met die chorus wat losbars het daar trane gerol onder my
donkerbril maar dit was okei want jy het nie gekyk in my rigting nie. Ons het
so lanklaas net vir mekaar in die oë gekyk. Asof ons failures teenoor mekaar
tussen ons kom lê het en ons net nie meer kans gesien het om daarvoor te kyk
nie...
No comments:
Post a Comment