Daar sit sy met haar
kraalogies. Blink-blink. Ek trust nie mense wie kort-kort hulle oë so knip nie. Dis asof hulle kort-kort die lieg probeer afvee met hulle ooglede.
Sy hoef dit nie te sê nie: Beggars can’t be choosers. Ten minste is ons op
dieselfde bladsy daar. Ek’s eintlik glad nie lus vir haar gesig in my veld nie,
maar weens ’n baie lang storie moet ek dit tans verduur. Sosiaal verplig. Nee, ek word nie maklik gevang met daai hoek
nie, tog, somtyds het ek nie ’n keuse nie. Nee, beter gestel, die moeilikheid
van my afwesigheid oorskadu enige logika, dus hou ek maar die blink kant bo
terwyl ek mismoedig ook nie die stink kant kan miskyk nie. Fok.
Sy maak dit geensins
maklik nie.”As my pa nog geleef het, sou ek hom gevra het…” Blink-blink. Shame.
Daar’s weer die verwysing na wie haar pa was… Glo my, nie roem-waardig om mee
te begin nie, maar dis haar klein claim to fame omdat hy net een gedig in sy
lewe geskryf het oor ’n bobbejaan wat vierjariges se gunsteling gedig is om op
te sê tydens Ouma en Oupa-dag. “Ag, asseblief tog Klaratjie, net een ou
storietjie vir ons. Toe man. Die dorpsmense waardeer dit tog so as jy vir ons
skryf.” Blink-blink.
Ek onthou die laaste
keer baie goed. Daar was geen waardering van ’n sekonde oud nie. Net klagtes.
Oor die klagtes het ek nie omgegee nie. My werk is nog altyd my trots. My
kinders. Soms is hulle
skeeloog-ginger-downsindroom-kinders maar ek is opreg lief vir elkeen van
hulle. Nie verlief nie. Daar’s ’n groot verskil.
Waar ander mense ’n
mood-swing nodig het, het ek net ’n halwe woord nodig om te skryf terwyl my
trots my fondasie gee. Ek is immers geleer deur die beste. Bloubloed waardes, vreeslose
grenslose ondersoekinge, oneindige wysheid, ’n hart van goud en integriteit van
staal. Dis my mentor. Ek het net respek
vir haar en ’n diepe diepe liefde. As mense sê hulle talent vat hulle na plekke
toe wil jy nie sommer die fout maak om te dink “skryf” is ’n eilandvakansie
nie. Allesbehalwe. Jy neem die reis
saam. Jy kan nie anders nie. Dis nie ’n eenkant-aksie nie, alhoewel jy mense
elke dag soos CCTV kameras bestudeer. Wanneer jy jou hand waag op ’n keyboard
trek jy weg in eerste rat en jy hou nie op tot jy oor die bult en by jou
eindbestemming arriveer nie. Dit beteken
jy stap saam deur die dal van doodskaduwee en ervaar eerstehands alles wat met
jou woorde gebeur. ’n Ervare oog sal dadelik vir jou kan sê as jy uitgechicken
het. En Mev. Kraalogies is niks anders as ’n chicken nie.
“Wanneer het jy dit
nodig?” Ek besef ek raak weer nasaal. Die eerste teken van my irritasie wys al
tande.
“Ag, Klaratjie,
môreoggend is ook ôlraait. Jy skryf mos vinnig.” Blink-blink.
Mos. Daai woord is netso irriterend soos ’n
spietkop wat agter die Mos-bos uitspring. Mos.
“Mens sal nooit sê
jy’s die hoof van jou departement nie.”
Blink-blink. Shit. Het
ek dit hardop gesê?
“Jy sal jou storie
môreoggend hê,” probeer ek die angel uit haar vleis haal maar sy het reeds die
steek gevoel.
So toe skryf ek ’n
storie van ’n duisend woorde. Elke liewe woord met liefde en omgee en vertroue.
My storie het gegaan oor ’n vrou wat kunsmatige inseminasie oorweeg en hoe
lonely pad dit eintlik is tussen al die kritici en hul vel kritiek. Dit was deurgetrap alle kante toe. Die finale
besluit? Die leser s’n.
’n Week later het ek
meer traag as gewoonlik die koerant gekoop. Ek blaai na die bladsy toe. Daar,
in groot vet swart letters staan háár naam by my storie. Ek frons, maar dis net die
begin van my gemoedsbekakking.
Sy het hier en daar ’n
sin verander (ja jy ken al jou kinders se sproete op hul lywe uit jou kop uit)
en hier en daar ’n banale, kaasagtige, oppervlakkige gedagte bygevoeg so asof
Mev. Kraalogies actually gebother het om
die onderwerp ten volle te begryp of te verstaan. Inteendeel, dit was super
cheesy soos ’n upsize meal by ’n take away instansie. Amper so soetsappig
aangebied soos televisie sepies in klein babakos happies. Te fokkin kostelik vir woorde. Kyk! ’n Cute
vrou wat cute inseminasie oorweeg. Slap on some ponytails and we have a ride!
Om te sê ek was kwaad
is ’n uiters onbekwame aanname. Daarom
het ek toe die volgende briefie vir haar geskryf met ’n link na my blog:
Aan wie dit mag aangaan of in hierdie geval geheel en al ontgaan het,
Jou talent wat jy op advertensieborde uitbasuin is nie die ink werd
waarmee dit gedruk is nie. Jy is en sal altyd ’n parasiet wees wat op ander
teer. Die rede daarvoor is omdat jy nie ’n millimeter kreatiwiteit in jou het
nie. Selfs jou geboorte was ’n wonderwerk because you just happened to be
there. Al wat my vrede gee is dat jy net kan bestaan weens jou luisagtige
beginsels. Ruggraatlose jellievisse soos jy, het nie die moed om die waarheid
vierkantig in die oë te staar nie, want dan moet jy erken jy is ’n fake en
bloot eenvoudig ’n salaristjek steel. Jou titel is ’n klug soos jou talent, ’n
rumor soos ’n facebook virus wat hart en mond belowe om Britney Spears regtig
kaal te wys híérdie keer, maar eintlik net ’n verleentheid vir jou “gebruiker” veroorsaak.
En dit is die somtotaal van jou as geheel: ’n Verleentheid. Jy gebruik woorde
soos ywerige gereedskap om jou verleentheid toe te smeer. Daarom word jou woorde
wapens: arrogansie, kritiek, sarkasme, neerhalende opmerkings en roem op
belaglike dinge soos wie jou pa was of wat hý geskryf het. Jy dink jy’s ’n genius omdat jy werkwoorde kan
rondskuif maar jy bly ’n dief.
Jy is plagiaat se lelike sussie. Die een wat die prins nie eers mee wou
two-step nie. En dis die punt wat ek by wil uitkom (nie dat ek dink jy die
nodige IK het om hierdie gewigtige nederlaag ten volle te begryp nie,
nevermaaind jou gebrek aan integriteit):
When you commit plagiarism, my words will never offer you love. Jy gaan
altyd soos die hoer voel wat ’n getroude man naai.
Met liefde
Klara Verstom
No comments:
Post a Comment