Sy’s ’n ma. Sagste
hande wat bestaan op hierdie planeet. En sagte hare. En ’n sagte stem. Alles
aan haar is sag. Haar kinders het met die aartjies op haar hande gespeel tydens kerkdienste. Hulle
het die aartjies gedruk en al langs die blou met hul vinger gevolg totdat dit
op die punt ’n bultjie gemaak het.
Daardie sagte ma-hande
het lewertjies gebraai in ’n pan saam met bietjie soet uie. Daardie hande het
geglo in marmite dik smeer op ’n broodjie. Maar sy was nooit netjies op die
margarien nie. Daar was skewe snye brood. Maar dit was als liefde, soos Jannie
du Toit daaroor gesing het.
Haar stem het ’n twang wanneer sy sing. Dis seker omdat sy ’n “j” voor elke hoë noot
sit soos “jHelp ons o jHeer”.
Sy was op ’n baie jong
ouderdom Dominee se vrou. ’n Posisie van status. ’n Voorbeeld. Mense het
opgekyk na haar al was sy nie lank nie.
Sy was gelukkig om
voorbeeld te speel vir ander. Sy het nie veel gehad om te sê nie. Diplomasie
was haar waghond voor haar lippe. Haar sagte hand het dikwels haar kop gestut.
Amper soos ’n prinses. Al haar bewegings was dainty. Haar kleredrag net boetiek-klere.
Haar geheime passie – skoene. Twee kaste vol skoene. Sommige van hulle net een
keer gedra.
Sy is en was nog altyd
’n goeie luisteraar. Mense kon ure met haar praat sonder dat sy enige iets
bygedra het tot die gesprek. Sy het nie nodig gehad om te praat nie. Die meeste
mense val net weg en praat oor hulself. Mense is maar so.
Ek het haar so leer
ken van kleins af. Met die jare het sy nie ’n enkele grys haar bygekry nie. Ook
nie ’n enkele plooi nie. Sy’s ’n natural beauty.
Maar so ’n mens wat
stil en plegtig is en min bydra tot enige gesprek moes tog êrens iets beleef
het, ervaar het, opgewonde geraak het oor -, seergekry het oor iets,
teleurgesteld gewees het, kwaad geword het…enige iets! Maar sy was altyd
tjoepstil. Asof daar verwag was van haar om so op te tree.
Maar daar was tog iets
wat ek kan onthou wat gebeur het toe ek ’n klein dogtertjie was. My ma het ons
afgelaai om by die sagte vrou te gaan speel. Dit was ’n normale
skoolvakansiedag.
Haar radio was aan op
Radio Jakaranda soos gewoonlik. Haar kinders het my en my broer vertel dat hul
mamma verjaar vandag. Sy het net geglimlag. Vir ’n kind is ’n verjaarsdag ’n enorme
dag. Dit moet astronomies wees op een of ander manier. Selfs as jy arm is, is
jou teleurstelling enorm groot omdat jou ouers te arm is om vir jou ’n geskenk
te koop.
Sy was stil en besig
in die kombuis om ’n yskastert te maak. Maar iets aan haar sagte hande was
anders. Dit het dinge hier en daar misgevat en is kort-kort drooggemaak op haar
voorskoot.
Toe sy gedink het al
die kinders is aan’t speel, het sy telefoon toe gestap en haar lippe eers saamgepers voor sy die
telefoonstuk teen haar oor gedruk het.
Toe hoor ek haar op
haar sagte way sê: “Hallo Ben.”
Haar man se naam was
nie Ben nie. Feite.
“Dis wonderlik dat jy
ons nog kan onthou. Ja, dit gaan baie goed met hom en die kinders.”
Die telefoondraad het
om haar sagte vinger gekrul tot haar vingerpunt blou geword het.
“Ben,” het sy amper
gefluister. “Ek verjaar vandag. Kan jy asb. vir my ’n liedjie speel oor die
radio.”
Eers het ek gedink dis
die sadste fokkin ding wat ek nog gesien het. Wie de hel bel om self ’n verjaarsdag
request te maak vir…wel, jouself?
Na die oproep het ek haar
skrikgemaak toe ek haar ’n drukkie gegee het. Sy’t my nie gesien nie. Ek het
vir haar gesê dis so braaf om die radio-oom te gebel het.
Maar ek was tien jaar
oud en het nog nie begryp van begeerte nie. Dis soos ’n kind in ’n winkel wat uit die
bloute van nêrens ’n piepie ontwikkel het, want “mamma ek kan nie meer knyp nie”.
Dis hoe begeerte werk wanneer jy dit vir
jare onderdruk. Daar kom ’n tyd wat jy nie meer kan knyp nie. Selfs toe ek die
song oor die radio hoor speel het, het ek steeds nie begryp oor begeerte nie.
I wanna wake up with
yoooooou.
No comments:
Post a Comment