Dis ’n warm dag
vandag. Kan dit eintlik nie glo so tussen winter deur nie. Sonskyn en hitte.
Geen kaggelvuur of naarstig koffiemaak om soos ’n wafferse sop-advertensie jou
hande om die beker te vou nie. Alhoewel daarin saligheid is. Hitte is
veiligheid.
Daarom was dit
opvallend toe ek haar sien. Die apteker se vrou. Eers het ek gedink dis my
verbeelding. Haar hande het om haar koffiebeker gevou. Vandag. En sy’t voor die kaggel gaan sit in die
koffiekroeg, terwyl almal buite op die stoep was besig om elke stukkie sonlig
op te suig. Die kaggel was weer vir een of ander duistere romantiese rede aan
danksy die ongeduldige mollige waitress wie ek nou nog sweer het so dik begin
raak vandat sy hier begin werk het en die kaaskoek deur Margie gemaak word.
Ek het my sigaret met ’n
kooltjie gaan aansteek, my lighter in my broeksak.
“Klara jy weet jy mag
nie rook in die koffiekroeg nie!” Die
waitress prop ’n stuk kaaskoek in haar kies. Fok sy lyk nes ’n eekhoring.
Haar kwaai aanmaning is presies waarvoor ek
gewag het.
“Ag, sorry man, my
lighter het die gees gegee,” sê ek en bestel nog ’n koffie om haar iets te gee
om te doen anders as eet. Ek draai na die
apteker se vrou om te kyk of daar oogkontak is van haar kant af. Nope. Niks. Sy
kyk myle in die vuur in.
Haar selfoon lui. Ek
ken die wysie. Bob Dylan se All I want to
do. Sy probeer haar selfoon uit haar handsak kry terwyl die song vorder na
die chorus. Sy kyk na die skerm.
No and I ain’t lookin’ to fight with you, frighten
you or tighten you. Drag you down or drain you down. Chain you down or bring
you down. All I really want to do is, baby, be friends with…
Haar selfoon hou op
met lui. Sy kyk nog ’n rukkie na haar selfoonskerm en druk dit weer terug in
haar handsak.
Van die koffiekroeg se
deur kan jy net twee groot stoele se rugkante sien voor die kaggel. Jy kan nie
uitmaak wie in die stoel sit nie. Een
van my persoonlike gunsteling wegkruipplekke in hierdie dorp. Die deur swaai oop
en die apteker kyk vinnig rond en staan voor by die counter.
’n Ploffie asseblief.
Die waitress is nie getrain in dorp-lingo nie en haar algemene kennis suck. Hy
moet twee keer vra, elke keer harder. Later is hy amper paniekerig. “Dis ’n donnerse
koffie met ’n skeut whiskey in!”
Die waitress vererg
haar en plak ’n koffiebeker hard op die counter neer.
Ek steek my sigaret
met my lighter aan en gaan sit skuins voor die kaggel sodat ek tussen die twee
stoele se ruglenings na die counter se rigting kan kyk.
“Dis ’n wegneemkoffie
asseblief.” Die apteker kyk senuweeagtig rond. Die mollige waitress se lyf raak
aspris en stadig. Sy mors suiker soos sy mik na die polystyrene koppie.
Die apteker se vrou
sit doodstil in haar stoel.
Die apteker se
geldnoot is reeds in sy hand. Soos die waitress die geld vat gaan sy lippe
reeds na die stomende koppie se rand en brand sy lippe soos hy ’n groot sluk
probeer vat.
“Dankie,” sê hy oor sy
skouer by die kroegdeur.
Ek kyk na haar voor
die vuur.
“Wil jy praat?”
Sy kyk nie weg van die
vuur af nie.
“Ek het al. Dit help nie.”
“Wat gaan jy doen?” Ek
gaan sit langs haar en rook nou onbeskaamd my sigaret. Fok die waitress.
Eers dog ek sy het my
nie gehoor nie.
“Wat kan ek doen
Klara? Hom voor ’n ultimatum stel? Hom vertel hy’s die grap van hierdie dorp? Dink
jy hy gaan ophou drink omdat niemand hom ernstig opneem nie? Of alles waarvoor ons so hard gewerk
het, weggooi? Hy’s ’n volwassene maar mens sal dit nie sê soos hy vloermoere
gooi wanneer ek hom konfronteer daaroor nie. Ek doen die enigste ding wat ek
kan doen.”
Sy draai haar gesig
weg van die vuur en kyk na die as van my sigaret.
No comments:
Post a Comment