“Ok. So dis official.
Ek’s fokkin veertig.” Sy gee ’n lang sug. Die sug gee mee in ’n hoesbui wat
enige emfiseemlyer met trots en agting sal bejeën.
Ek verstaan dit nie.
Naughty fourties, goeie seks, IK, dis alles deel van die 40-plan tog, nie waar
nie? Inteendeel, ek kan nie wag om self daai paartie te reël vir my nie.
“Nee, oe my hartjie,
jy verstaan die pot sonder die deksel op die oomblik.” Stéfan met sy slap
gewrigte en vreeslike pienk das besluit om sy teekoppie neer te sit. As hy dit
doen, het hy iets gewigtigs op die hart. En ouderdom val onder die Titanic file
– it’s all the way down to the bottom of bottomless.
“Hartjie, kom ons beat
nie nou die bush met ’n stomp voorwerp nie. Om oud te word, is net nog ’n plek
om jouself te bullshit, soos jy so pas gedoen het. Die waarheid wat jou in sy
visier korrel is ’n walglike affêre, Klara.”
“Wat? Jy’s so oud soos
wat jy dink jy is.”
Stéfan gee ’n gilletjie.
“Oee nog ’n cliché van die Jane Fonda clan!”
“Kyk Klara,” hyg Susan
na ’n sluk wyn en haar donkerbrille tot op die punt van haar neus geskuif kry, “Dis
die ontnugtering van alles wat meegee. Dis ’n stadige dood.”
Ag nee, asseblief. Ek’s
skuins bedonnerd vir hierdie swartgalligheid. Stéfan en Susan kyk my ongestoord
aan.
“Ek voel nie eers so
oud soos wat ek is nie. My tannie preek dan weekliks nog vir my om age appropriate
op te tree. Dit terwyl die boodskap op elke televisie show juis wys hoe
ouderdom gefnuik word met Botox, fake love stories en ’n paar gewillige benerige
knieknoppe wat enige lang sletterige boot goed laat lyk saam met die gebruik
van oordadige make-up. Is verjaarsdae nie veronderstel om een of ander
celebration te wees van hoe goed jy voel desondanks jou eie boomringe wat om jou
gat hang nie?”
Stéfan kry ’n look in
sy oë wat wys ’n beplatsing is naby.
“Ons almal is nie
gebless met jou looks nie Klara. Kyk waarmee moet ek fokkin werk. Hierdie neus,
hierdie wenkbroue, my hare…” Sy mondhoeke trek gepynig afwaarts…”My fokkin hare
val uit asof ’n boeing daar wil kom land.”
“Én…” kom Susan
tussenin sodat Stéfan sy asem en eiewaarde weer van die grond kan optel…”niemand
se tande is bestand teen ouderdom nie. Wys my een mens wat oor veertig nie ’n kroon
of ’n brug of ’n valstand het nie. Toe
wise-ass. Ons is nie gemaak om goed oud te word nie.”
Wel, met sulke
positiewe denkwyses kan mens mos net straal.
Stéfan klits homself
regop. “Dis nie wat jy dink nie. Dis wat jy wéét, Klara. My ruggraat het
gesprekke met my wat ek eers oor twintig jaar verwag het. En dis nie oor ek en
Bollie se manewales in die swembad verlede seisoen nie.”
Soos ’n veldbrand het
daai storie in die dorp versprei met net sulke vet hondesterte agterna. Bollie
en Stéfan hét beslis onbeskaamd gevry in die swembad…van die mislikepaliteit…all
skinny and dipping, maar hulle het beslis nie ge-ballas-bomb van die duikplank
af nie. En hulle het nie kliphard “Waa’s jy, wa’s jy, da’s jy(!)” kaalgat
gespeel nie en hulle het beslis nie (maar ek meen beslis nie) Vogue van Madonna
drie-uur die oggend in die swembad as die nuutste water aerobics vir die
Dominee aangebied wat in sy pajamas op hulle afgestorm het en in die naam van alles wat heilig is gesmeek
om dadelik of straight te raak of droog nie. Stéfan het ’n helse ding teen
hoogtes. En maak nie saak hoe lus hy vir Bollie was nie, selfs Stéfan het sy
perke tydens lus.
“Dis moer eenvoudig
julle. Ons gaan almal dood wees. You can either smile about it or die before that
date arrives.”
Stéfan brom iets
onderlangs. Susan wil weet wat hy gesê het. “Ek sê, ek sal dit like om ten
minste te kon kies hoe ek ’n plek verlaat en nie net bloot te aanvaar ek het
twee aanloopbane vir ’n haardos en ’n “landing pad” vir ’n helikopter as neus
nie.”
Daar het jy dit nou.
Oudword is kak lekker.
No comments:
Post a Comment