Eers het ek en Susan
hom ontmoet by die koffieshop. ’n Ryk man vol stories van onder begin en bo
uitkom. Nou versprei hy die rykdom onder mense wat dit nodig het. Mense wat hy
sien potensiaal het.
What a nobel idea. Net
jammer dis mense wat dit uitgedink het en nog meer jammerlik probeer uitvoer.
Ek en Susan het die
man uitgeluister. Die volgende geleentheid is nommers uitgeruil. Ek is altyd
huiwerig daaroor. Sodra jy vir sekere mense jou nommer gee is dit asof hulle
jou nommer in persoonlike besit neem en elke dag ses SMS’e afstuur en whatsapps
en die bliksem weet wat nog met boodskappies wat ek gewoonlik nie as funny
beskou nie al is daar sinnetjies soos “Dis regtig funny!” bygevoeg. Ek hou nie daarvan om gespam, gebombardeer of
misbruik te word met behulp van my selfoonnommer nie. Seriously, mense moet
begin dink aan hierdie goed.
Die man, kom ons noem
hom Mnr. BMW (ja hy ry die nuutste een met meer knoppies as ’n Boeing 747) het ’n
groot belangstelling getoon in my werk. Dis vir hom so interessant “hoe julle
mense 'n bestaan maak en aan die lewe bly”.
Julle mense… Met ander
woorde kreatiewe mense? Mense wat nie van agt tot vyf ’n ’n kantoor sit en werk
vir iemand anders nie?
Mnr. BMW is nie
getroud nie. Hy is inteendeel tien jaar terug geskei maar praat glad nie
daaroor nie. So toe soos Lazarus se grafsteen daaroor.
“Klara, ek sal vir jou
geld gee. Gaan skryf jy enige iets wat jy wil en ek sal die befondsing daarvoor
gee. Ek help mos mense. Maak nie saak wat dit kos nie. Die dag toe ek iemand
nodig gehad het, was daar niemand vir my nie. Ek weet hoe dit voel.”
Ek het so diplomaties
moontlik decline.
En toe kom die eerste SMS.
“Hi, julle by die koffieshop?”
En toe die volgende
dag kom die volgende SMS. “In die dorp. Kry julle by die koffieshop?”
En die dag daarna. En
die dag daarna.
Susan is ewe ordentlik
en antwoord terug “Dit sal lekker wees,” maar teen Dag drie begin sy ook
verskonings maak… “Jammer, is effens besig vandag.”
Nou kruip ons weg vir Mnr.
BMW in my kombuis.
“Fokkin julle mense.”
Susan frons soos sy
vir my kyk.
“Die man is ’n loner Susan. Hy het nie vriende nie.”
“Dis mos nie sy skuld
nie Klara. In sy lewe kan hy nie almal vertrou nie, want hulle is net vriende
met hom oor sy geld.”
Ek reken hy moet dit
dan nie so vrylik aanbied nie. Susan lyk skuldig. Sy het geld aanvaar van hom
om haar naaldwerk-besigheid ’n hupstoot te gee.
Haar selfoon biep. Dis
Mnr. BMW wat gou by haar winkel gestop het. Waar is sy?
Ek skud net my kop en
wens haar geluk. Sy behoort nou aan Mnr. BMW. Hy’t haar gekoop.
Susan is moerig. Sy
dink darem nie dis so erg nie.
“Susan, hier’s hoe ek
dinge sien. Oor ’n week van nou af gaan jy presies sit waar jy sit en ek gaan
vir jou ’n bottel warm wax gee waarmee jou hare uit jou kop kan pluk van spyt
en frustrasie oor Mnr. BMW. En daarna
gaan ek jou vriendelik herinner aan vandag se gesprek en waarskuwing. Mense
soos Mnr. BMW het geen normale vermoëns om vriende te maak nie. Die enigste
aangeleerde manier wat hy ken is om mense se vriendskap en respek te koop.”
Susan raak kriewelrig.
Sy verpes dit om my voorspellings deur te sit. Glo erger as ’n Sondagdiens waar
dominee Viljoen swaarmoedige preke afsteek oor die sondige mens en hoe warm die
hel regtig is.
Dis een ding wat die
skrywery my geleer het: Elke karakter het ’n need. Elke karakter het ’n want
ook. Met ander woorde: ’n Karakter wil graag ’n huisie by die see hê (want), maar dit is belangrik vir daardie
karakter om gerespekteer te word deur die gemeenskap (need). Needs and wants.
Nog ’n voorbeeld? Ok, vat iemand soos SAUK. They
need money and want people to pay their TV license. Die storie lê altyd in
hoé hulle dit kry. Dwing hulle dit af, of soos in Mnr. BMW se geval, koop hulle
dit? Al wat Mnr. BMW gedoen het was om die algemene mens op straat se want te bepaal en gebruik dit tans to feed his need. Ek meen, watter mens wil nie
meer geld hê nie? En wie wil regtig alleen deur die lewe gaan sonder vriende?
No comments:
Post a Comment